Die verskil tussen liefdadigheid en gemeenskapsontwikkeling
👤 William Ficks
Die verskil tussen liefdadigheid en gemeenskapsontwikkeling is ‘n konsep wat reeds tydens die vroeë kerk groot aandag geniet het. Destyds is geglo dat dit goed is om liefdadigheid te beoefen, maar dat die intensionele ontwikkeling van die gemeenskap net so belangrik is. Hierdie aanname is veral gegrond in Jesus se liefde en omgee vir die naaste en armes. Tog bestaan daar duidelike verskille tussen hierdie twee konsepte.
Hoewel baie kerke by beide gemeenskapsontwikkeling en liefdadigheid in gemeenskappe betrokke is, glo sommige kerke nie noodwendig dat gemeenskapsontwikkeling die roeping van die kerk is nie. Die mens se verhouding met God word beskou as iets persoonliks, en daarom word die verligting van mense se nood in die samelewing dikwels as ‘n verantwoordelikheid beskou wat deur ander instansies verrig moet word. Die feit dat lede van die liggaam van Christus aan mekaar verbind is en dat die geloofsgemeenskap deel is van die groter samelewing, bevestig egter opnuut die kerk se betrokkenheid by sowel liefdadigheid as gemeenskapsontwikkeling.
Liefdadigheid
Liefdadigheid behels dat ‘n organisasie met ‘n spesifieke fokus hulp verleen aan ‘n bepaalde sektor van die samelewing. ‘n Voorbeeld hiervan is die verskaffing van sop en brood aan mense wat onder groot ekonomiese druk verkeer, veral gedurende die wintermaande. Dit is ‘n vrywillige roeping tot omgee en ‘n uitlewing van Christelike waardes soos gee en diensbaarheid. Dit sluit in dat mense hulself as hulpbronne aanbied, hul tyd gee en hul talente en gawes gebruik om ander te help.
Liefdadigheid word dikwels deur individue en organisasies soos kerke, skole en gemeenskapsgebaseerde instellings gedryf. Mense gee makliker vir liefdadigheidsaksies omdat hulle nie self direk daarby betrokke hoef te wees nie en omdat dit gewoonlik deur ander georganiseer word. Dit is ‘n maklike manier om ‘n verskil te maak en kan ‘n gevoel van voldoening gee: “Ek het my bydrae gemaak.”
Hoewel liefdadigheidsaksies korttermynoplossings bied vir onmiddellike behoeftes in ‘n gemeenskap, help dit ook om stabiliteit te bevorder en sosiale onrus te beperk. Wanneer lewensmiddele skaars is, kan dit mense angstig maak en tot sosiale onstabiliteit lei.
Liefdadigheid is ook diep gegrond in kulturele gebruike, waar mense na mekaar omsien en hulpbronne bewustelik en onbewustelik deel. In baie gemeenskappe neem mense verantwoordelikheid vir hul familie se behoeftes deur huisvesting, voedsel, klere en selfs finansiering vir studies te bied. Hierdie praktyke help gesinne om moeilike omstandighede te oorleef.
Wanneer daar verlies ervaar word, soos die afsterwe van ‘n familielid of vriend, speel liefdadigheid ‘n belangrike rol in emosionele ondersteuning. Dit word gesien in die vorm van nagwake, die verskaffing van voedsel en finansiering vir begrafniskoste.
Liefdadigheid vorm dus ‘n belangrike deel van elke gemeenskap en moet gekoester word omdat dit mense se menswaardigheid versterk.
Gemeenskapsontwikkeling
Gemeenskapsontwikkeling behels dat mense bemagtig word om hul eie gemeenskappe te ontwikkel en selfstandigheid te bevorder. Hierdie tipe ontwikkeling word dikwels gedryf deur passievolle individue wat fokus op die herstel van sosiale ongeregtigheid en die vermindering of uitskakeling van ongelykhede. Dit sluit ongelykhede in terme van rykdom, toegang tot gesondheidsorg, behuising, onderwys, ekonomiese hulpbronne, voedselbeskikbaarheid en magstrukture in.
Wanneer gemeenskapsontwikkeling doelbewus en met erns aangepak word, help dit mense om hul menswaardigheid op te bou. Hulle ontdek hul eie vermoëns, gebruik hul gawes en talente en neem verantwoordelikheid vir hul toekoms. Hierdie gevoel van selfrespek en trots bevorder nie net die selfvertroue van individue nie, maar het ook ‘n positiewe impak op gesinne. Dit dra by tot ‘n meer stabiele gesinslewe, waar daar met doeltreffendheid na mekaar se welstand omgesien word.
Deur mense bloot te stel aan entrepreneurskap en vaardigheidsontwikkeling, kan gemeenskapsontwikkeling help om die ekonomie te groei. Dit skep ‘n gemeenskap waar mense mekaar respekteer en minder afhanklik is van die staat. Sodoende kan staatshulpbronne vir ander kritieke behoeftes aangewend word.
Om gemeenskapsontwikkeling suksesvol te maak, moet daar doelbewuste strukture geskep word. Dit sluit in die mobilisering van hulpbronne, die bou van netwerke en die bevordering van samewerking tussen verskeie belanghebbendes. Op hierdie manier kan gemeenskappe volhoubaar ontwikkel en verbeter word.
Liefdadigheid en gemeenskapsontwikkeling vul mekaar aan
Ondanks die wesenlike verskille tussen liefdadigheid en gemeenskapsontwikkeling, is albei noodsaaklik vir die doeltreffende ontwikkeling en vooruitgang van die samelewing. Liefdadigheid voorsien in onmiddellike nood, terwyl gemeenskapsontwikkeling mense bemagtig vir ‘n selfstandige toekoms. Die twee konsepte behoort dus nie as opponerende benaderings beskou te word nie, maar eerder as komplementêre elemente wat saamwerk om ‘n gesonde, florerende gemeenskap te bou.