Dr. Braam Hanekom lewer kommentaar na aanleiding van die Sentrum vir Publieke Getuienis se aanlyngesprek wat gereël is om van die kerk se kant af oor landelike veiligheid te besin. Leiers in die landbou, waaronder Ivan Meyer, minister van Landbou in die Wes-Kaap, het aan die gesprek deelgeneem.
“Landelike veiligheid is nog lank nie waar dit behoort te wees nie. Te veel boere het gevangenes op hul eie plase geword. Wanneer miljoene daagliks gespandeer word op beveiliging en sommige boere voortdurend met vuurwapens moet rondbeweeg, weet jy hul leef in ʼn abnormale situasie. Terloops, dit is eintlik geld wat ons op landelike ontwikkeling sou kon bestee.
Onlangs het die Sentrum vir Publieke Getuienis ʼn klein konsultasie gereël om van die kerk se kant oor die saak te besin. Leiers in die landbou, waaronder minister Ivan Meyer, minister van Landbou in die Wes-Kaap, het aan die gesprek deelgeneem.
Landbou is wat veiligheid betref, goed georganiseer, maar steeds sien ons dat aanvalle en moorde plaasvind. Ons plak goeie en duur pleisters op ʼn wond en dit moet gedoen word. Die vraag is of ons die oorsaak van die wond na behore aanspreek. Ons sal veel dieper sistemiese antwoorde en holistiese oplossings moet soek.
Verskeie oorsake vir die situasie is genoem. Dit sluit die volgende in: Gebroke gemeenskappe vol onderlinge wantrou. Armoede, trauma en honger. Onthou Anton Rupert se woorde: “Jy sal nooit rustig kan slaap as jou buurman honger ly nie.” Afwesige ouers en gebrekkige waardesisteme. Dwelms en drankmisbruik. Ongedokumenteerde buitelanders. Laastens kan politieke opstokery en bitterheid nie geïgnoreer word nie.
Ouerprogramme, waardevorming, programme wat gesonde vermaak aan die jeug kan verskaf, gesprekke wat ʼn silo-hantering van die uitdaging deurbreek, vaardigheidsopleiding en ekonomiese ontwikkeling op die platteland is van die dinge wat nou nodig is. Oor meer effektiewe regering en polisiëring hoef ons nie te redeneer nie.
Die konsultasie het egter ook ʼn ander idee onderstreep. Landbou, kerke en plaaslike regerings moet byeenkom om die voorgestelde nasionale dialoog nou reeds op plaaslike vlak te laat posvat. Dit is wat die Sentrum vir Publieke Getuienis reeds geruime tyd met die 100 Dorpe Dialoog program probeer doen.
My bronne sê vir my dat Suid-Afrika die land met 28ste grootste BBP uit 200 lande ter wêreld is. Geld is dus nie ons probleem nie. Wel hoe dit bestuur word. Ons is van die min lande wat, uitgesluit droogte jare, selfvoorsienend is wat voedselproduksie betref. Ons het van die wonderlikste en vrolikste mense in die wêreld, maar as ons hierdie probleem wil oorkom, sal gemeenskappe in hul geheel moet saamstaan.
Kerke sal die voorbeeld moet stel. Ons kan nie verwag dat gemeenskappe verenig as ons self so verdeeld is nie. Daar is diep kulturele verskille onder ons en soos dinge nou loop gaan die voorgestelde modelle vir kerkeenheid nie gou realiseer nie. Maar, as die politici kon hande vat in ʼn RNE, sonder om hulle identiteite op te gee, kan die kerke beslis ook probeer. Ter wille van klein dorpies oral oor ons land. Ter wille van ons almal se veiligheid. Ter wille van die Evangelie wat so duidelik hieroor praat.”