“Ek het God gevoel toe ek nie die taal verstaan het nie…”

👤 Wilmi Wheeler

Chris Wheeler het ’n 960-dae streak op Duolingo. Hy leer Duits omdat die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog hom fassineer. Hierdie streak is indrukwekkend. Dit wys ywer. Dit vat dissipline. Maar hy is nie daarvan oortuig dat hy ’n sinvolle gesprek in Duits met iemand sal kan voer nie. Hy sal wel ’n bier en ’n broodjie by ’n restaurant in Berlin kan bestel.

Toe kom kletskuier oor sy pad tydens Diaconia se konferensie in Wellington. Hier raak hy bewus van ’n ander manier van taalleer.

Dis een ding om ’n nuwe taal vanaf ’n app of ’n boek te leer. Dis iets heeltemal anders om jou tong op die proef te stel in die regte wêreld. Wat begin het as bloot ’n taaleksperiment, het toe iets baie meer geword. Dis toe waar Chris homself by die VGK gemeente in Mbekweni bevind het. Hier gaan hy by mense in die gemeenskap bietjie Xhosa leer.

Ek in my khaki-broek en vellies wat gebroke Xhosa praat

Sy taalhelper, vertel hy, was sag, warm en entoesiasties. “Ek het veilig gevoel by haar,” sê hy. Met ’n arsenaal van woorde soos “Molweni”, “Unjani” en “Ntonile” is hy saam met die res van die deelnemers die strate ingestuur.

“Dis maklik om die mense in Xhosa nader te roep,” vertel Chris, “maar dan voel jy soos ’n hond wat ’n kar se band gevang het: wat maak jy nou? Nou moet jy probeer ’n gesprek voer met die paar woorde wat jy pas geleer het.”

Maar miskien was dit genoeg. Want toe ’n wit man met ’n donker baard, ’n klop-klop-hart en ’n khaki-broek sy gebroke Xhosa in die gemeenskap begin inspan, het iets begin gebeur. Nie perfek nie. Nie glad nie. Maar iets eg. ’n Brug. ’n Tafel.

En toe gebeur dit – ’n eenvoudige ontmoeting wat ’n groter waarheid illustreer. Een van die eerste mense met wie hy gepraat het, was die eienaar van die spaza-winkel naby die kerk.

“Ek het gewys na ’n botteltjie Coke, want ek wou weet wat die Xhosa-woord vir koeldrank is. Maar hy het gedink ek wil dit koop. En voor ek my kon kry, betaal ek maar. Daar staan ek toe, Coke in die hand, maar sonder die woord wat ek eintlik gesoek het.”

In daardie oomblik besef hy dat om ’n taal te leer nie die enigste punt van hierdie oefening is nie. Dit is ook om mense te ontmoet waar hulle is. Chris vertel hoe die winkelier se gesig opgehelder het toe hy agterkom het dat hy nie net gekom het om te vat nie, maar om by hom iets te leer.

Chris het nog iets opgemerk. Die manier waarop mense op hom gereageer het toe hy hulle in Xhosa groet. “Hulle was taamlik geskok,” sê hy. “Met my vellies en baard lyk ek nie soos iemand wat Xhosa behoort te praat nie.” Daar was iets helend in daardie verrassing. “Dis toe so mooi om te beleef hoe lekker mense met my begin gesels het toe ek hulle in Xhosa groet, al lyk ek soos ’n stereotipiese Afrikaner.”

En dit is toe dat broosheid ‘n brug geword het.

taal, xhosa

Hoe ek vir God in die strate van Mbekweni in Xhosa ontmoet het

Chris is oortuig: God forseer niks nie. “Ek dink God skep geleenthede, maar dit kom neer op wat jy daarvan maak. Of jy braaf genoeg is om sekere besluite te maak bo ander.”

Want hy het die opsie gehad om gemaklik te bly. Te bly by die Andrew Murray Sentrum. Te kies vir veiligheid. Maar hy het ’n keuse gemaak. “Die opsie om af te beweeg van kampus af na ’n plek toe waar jy nog nie was nie, om iets te gaan doen waarmee jy ongemaklik is, om by ander te gaan leer… Dit verryk jou op maniere wat jy nie verwag nie.”

Hierdie kletskuier het nie net oor taal gegaan nie. Dit was teologie. Vlees-en-bloed ontmoetings. Dis maklik om God net in kerke en in boeke te probeer vind. Maar God wag dikwels waar ons Hom nie verwag nie – in daardie straat. Rondom ‘n koffietafel. In die lied. In die Spazashop.

Tog is daar iets spesifieks wat hom die diepste geraak het. ’n Tafel.

Iemand was aan die einde van die dag gevra om die geleentheid af te sluit. “En toe begin een van die ooms wat deel was van die taalhelpergroep sing,” vertel Chris. Hy kon nie ’n woord verstaan nie. “Dit was absoluut in ’n vlak van Xhosa wat ek nog nie geleer het nie.”

Maar toe begin die ander helpers saamsing. ’n Gebedslied. Geen vertaling nodig nie. Geen verduideliking. “Maak nie saak watter taal ons praat of van watter kultuur ons afkomstig is nie, daar is iets wat ons verbind: God. En ek het Hom gevoel.”

Hy bly ’n oomblik stil. Dan sê hy iets wat bly hang:

“Ek dink, die groot les wat ek net weer aan herinner is, was dat ons nagmaaltafel baie arm is. Ons eet saam met mense saam met wie ons gemaklik is om te eet. En dan dink ek aan hoe Jesus se tafel gelyk het. Hy het saam met Judas geëet. Met Thomas. Met Saggeus. Hy’t sy tafel oopgemaak vir diegene wat ons sou uitsluit.”

Chris kyk af na sy hande voor hy verder praat.

“Daar is nog mense wat tafel toe moet kom. Daar is nog mense wat ons na ons tafel toe moet nooi. Ons nagmaaltafels kan nie dieselfde lyk as dertig jaar terug nie.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: