Ekologie: Die skepping is meer as ‘n mooi agtergrond
Wilmi Wheeler
Die skepping word die agtergrond waarteen ons lewe afspeel.
Die berge staan elke oggend op dieselfde plek. Die son kom op sonder dat ons daarvoor vra. Water loop wanneer ons ’n kraan oopdraai. Bome gee skadu, grond dra voedsel en die see hou aan om teen die kus uit te spoel.
Dit is alles so vanselfsprekend dat ons dit maklik miskyk.
Ons bewonder die uitsig, neem foto’s van die sonsondergang en sing oor die hemel en die aarde. Ons praat oor die natuur as iets wat God gemaak het. Tog leef ons dikwels asof die skepping bloot daar is as ’n dekorstuk of ’n hulpbron. Stadig-stadig raak die skepping die stil agtergrond waarteen die “belangriker” verhaal van die mens afspeel.
Maar in die Bybelse verhaal is die aarde nie bloot net ‘n agtergrond nie.

Die aarde is aan die mens toevertrou
Reeds in Genesis word die mens binne die skepping geplaas met ’n opdrag: om dit te bewerk en te bewaar.
Dit is ’n opdrag wat maklik skeefgetrek kan word. Ons hoor soms net die toestemming om te gebruik, te bou, te ontwikkel en te ontgin. Ons hoor minder dikwels die verantwoordelikheid om te beskerm, te versorg en te bewaar.
Rentmeesterskap beteken immers nie dat die aarde aan ons behoort nie. Dit beteken juis dat dit nié aan ons behoort nie.

Die skepping behoort aan God. Ons ontvang dit as iets kosbaars wat tydelik aan ons sorg toevertrou word. Dit vra dat ons nie net sal vra wat die aarde vir ons kan gee nie, maar ook wat ons teenwoordigheid van die aarde neem.
Wat laat ons agter? Wat word beskadig terwyl ons gemaklik voortleef? Wat gebeur met grond, riviere, plante, diere en gemeenskappe wanneer ons die skepping slegs as ’n voorraadkamer vir menslike behoeftes beskou?
Ekologie is deel van die kerk se sorg
Barnard Steyn, hoof van Diensgroep Diaconia, vertel dat ekologie nie ’n prominente deel van die kerk waarin hy grootgeword het was nie. “Die skepping was wel teenwoordig. Daar is skeppingspsalms gesing. Daar is oor berge, hemel en aarde gepreek. Maar ekologie as ’n konkrete bediening van die kerk het nie werklik posgevat nie.”
Dit is waarskynlik waar van baie van ons geloofsgemeenskappe.
Ons bely God as Skepper sonder om altyd die volle betekenis daarvan vir ons bediening te ondersoek. Ons sorg vir mense, maar plaas die omgewing waarvan mense afhanklik is, dikwels buite die grense van die kerk se sorg.
“Diakonaat is die sorgbediening van die kerk,” vertel Barnard. Dit is waar gelowiges mense in nood raaksien, nader staan en help dra. Maar kan ons vandag nog oor sorg vir mense praat sonder om ook te praat oor die water wat hulle drink, die grond waaruit hulle voedsel kom, die lug wat hulle inasem en die omgewings waarin hulle kinders grootword?
Ekologiese sorg is nie ’n bykomende belangstelling vir ’n paar natuurliefhebbers nie. Dit is deel van die kerk se roeping om die skepping te versorg.
God is nie net die Skepper van hemel en aarde nie. God is ook die Onderhouer daarvan. Wanneer gelowiges die skepping versorg, neem hulle deel aan hierdie groter verhaal van God se bewaring en sorg.
’n Groepie gelowiges kom byeen
Teen hierdie agtergrond het ’n groep gelowiges by ’n Ekologie Werkswinkel van die Wes-Kaapse Sinode byeengekom.
Hulle het nie gekom omdat hulle reeds al die antwoorde het nie. Hulle het gekom om te luister, te leer en te vra wat hulle en hulle gemeentes kan doen.









Die groep was nie groot nie, maar volgens Johan West, voorsitter van die Taakspan Ekologie, was die deelname betekenisvol. Die teenwoordiges het met erns en entoesiasme geluister na wetenskaplike, teologiese en praktiese perspektiewe op die ekologiese krisis en die kerk se verantwoordelikheid daarin.
Daar is gepraat oor groot uitdagings, maar ook oor klein, haalbare beginpunte.
Gemeentes kan help om onwettige stortingsterreine skoon te maak. Hulle kan riviere en strande versorg. Hulle kan bome en spekbome plant, water- en energiegebruik ondersoek en ruimtes skep waar lidmate saam oor ekologiese verantwoordelikheid kan leer.
Die hoop is dat Groengroepe uiteindelik in gemeentes regoor die Wes-Kaap gevestig sal word. Groepe wat die gesprek aan die gang hou, praktiese projekte aanpak en gemeentes help om ekologiese sorg deel van hulle gewone bediening te maak.
Nie iets wat een keer per jaar op Skeppingsondag genoem word nie, maar ’n ingesteldheid wat sigbaar word in hoe die gemeente leef.








Die saad is geplant
Johan vergelyk die werkswinkel met die bekende beeld van Gideon se klein bende. “Dit het klein begin, maar met ‘n groep mense wat werklik verbind is tot die saak.”
Dit pas ook by die beeld waarmee hy sy terugvoer afsluit:
“Die saad is geplant. Nou is dit ons verantwoordelikheid om die saad te versorg, nat te lei en geleenthede te skep waar dit kan groei en vrug dra.”
Die werkswinkel was ’n eerste plantaksie. Die saad is in gesprekke, idees en nuwe verbintenisse geplant. Nou sal dit versorg en natgelei moet word.
Dit is dalk gepas dat die kerk se ekologiese bediening met die beeld van ’n saad begin.
n Saad is klein en maklik om mis te kyk. Tog dra dit die moontlikheid van wortels, skadu, voedsel en nuwe lewe. Groei begin lank voordat enigiets bo die grond sigbaar word.
Dalk begin verandering ook wanneer ’n klein groepie gelowiges besluit dat die skepping nie langer net die agtergrond van die mens se verhaal kan wees nie.
Die aarde is God se skepping.
En God het dit aan ons sorg toevertrou.




