Evangelisasie Konferensie: “Ignite the flame!”

👤 DJ Muller

“3 Biljoen mense regoor die wêreld het al ten minste een keer die naam ‘Jesus’ gehoor, maar het geen idee wie hierdie Jesus werklik is nie. Dit wil voorkom of Christenskap momentum verloor het en of ons miskien té beskaafd geraak het en of die opdrag tot evangelisasie ‘iets uit die ou dae’ is.”

Dit is ‘n paar opmerkings wat gemaak is tydens ‘n onlangse evangelisasie konferensie wat aangebied is deur die Sentrum vir Publieke Getuienis.

Op 23 Julie 2024 het dié konferensie, met die tema “Let’s Ignite the Flame”, by Stellenberg-gemeente plaasgevind. Hierdie geleentheid het gelowiges van verskeie denominasies bymekaar gebring met een gedeelde doel: om die passie vir evangelisasie in mense en kerke weer te laat opvlam. Die dag was propvol inspirerende toesprake, diepgaande getuienisse, en waardevolle insigte oor hoe om die kerk se missionale identiteit voluit uit te leef.

Braam Hanekom, die organiseerder van die geleentheid, het die konferensie afgeskop deur te wys op die diversiteit van die bywoners en te beklemtoon dat evangelisasie nie gebonde is aan grense of tradisies nie, want dit gaan eerstens oor Jesus Christus. Hy het bywoners ook herinner dat die konferensie nie ’n eenheidskonferensie is nie, maar eerder ’n byeenkoms van mense wat ’n gemeenskaplike roeping het om by God aan te sluit in sy sending.

Hierdie roeping het ‘n baie sterk familie-wees gevoel geskep, gewortel in die gedeelde missie om God se liefde uit te dra.

Die verwagtinge van die deelnemers was duidelik: daar was ’n behoefte aan toerusting, samewerking en ’n hernude fokus op ons opdrag om dissipels te maak. Madri Bruwer het benadruk dat ons in ’n seisoen is waar daar stelselmatig al hoe meer duidelikheid kom oor hierdie roeping – dat ons in ’n tyd van hernude evangelisasie in Suid-Afrika tree, en dat dit tyd is om weer te begin droom oor die kerk.

Een van vele aangrypende getuienisse van die dag was dié van Jenny MacMaster. Haar pad van vrees na vertroue in Christus is ’n kragtige verhaal van transformasie. Jenny se passie vir evangelisasie spruit voort uit haar liefde vir Jesus. As jong meisie het sy met vrees vir veroordeling ’n Christen geword, maar dit was haar werkservaring in ’n hospitaal wat haar bewus gemaak het van die broosheid van die lewe.

Hierdie ervaring het haar uitgedaag om die evangelie met oortuiging te deel. Sy het gedeel hoe die dood van haar pa, broer en ’n goeie vriend, sowel as uitdagings in haar huwelik, haar gedwing het om op God se besondere liefde te vertrou. Hierdie liefde het haar deur moeilike tye gedra, en sy gebruik nou hierdie ervaring om die liefde van Christus met ander te deel.

Jenny gebruik haar pa se bestuur advies – “moenie jouself vaskeer tussen ander motors nie” – as ’n metafoor vir haar geestelike reis. Sy het geleer om ontvanklik te bly vir God se leiding en om die Heilige Gees toe te laat om haar pad te rig. Vir haar is heiligmaking die proses om na hierdie innerlike stem te luister en daarna te streef om slegs volgens God se wil te leef. Evangelisasie, in haar woorde, is die aktiewe uitlewing van hierdie liefde en die deel van die transformerende krag van Christus.

Dr Coenie Burger het sy bydrae tot die konferensie in ‘n video gedeel. Hy het sy kommer uitgespreek oor die hedendaagse kerk en beklemtoon hoe sentraal Jesus in ons geloof behoort te wees. Hy het bywoners herinner dat ons nie onsself moet toelaat om vasgevang te raak in dogma’s en reëls ten koste van ons verhouding met Christus nie. Hy het benadruk dat geloof begin wanneer ons oë oopgaan vir Jesus, die persoonlike en kenbare God. Coenie het verwys na die tekste soos Johannes 2 en Lukas 5 om te illustreer hoe mense “vir ‘n tweede keer kyk” en hoe geloof ontstaan deur die ervarings van God se heerlikheid. Hierdie ontmoeting met Christus is die kern van evangelisasie.

Dr Jurie Vermeulen van Radio Feba het verdere insigte gedeel oor die rol van die kerk in die wêreld. Hy het verduidelik dat die kerk nie moet probeer om met die wêreld te kompeteer nie, maar eerder ons unieke mandaat en opdrag moet omarm om dissipels te maak. Die groot sendingopdrag in Matteus 28 is ’n kernvers vir hierdie missie, met die fokus op die maak van dissipels. Hy het beklemtoon dat om mense te inspireer en opgewonde te maak oor geloof, hulle ’n transformerende ervaring moet hê. Dit is hierdie ervarings wat mense aanvuur en laat deel word van die missie.

Die konferensie het ook klem geplaas op die proses om verandering en momentum in gemeentes te help skep. Ds Daniël de Wet van Getuienisaksie het die konsep van ‘inreach’ verduidelik – ’n fokus op interne groei en die opbou van integriteit binne die kerk. Hy het verduidelik dat die reis na ’n missionale identiteit help om dissipelskap in die middelpunt van die gemeente te plaas.

Ds Stephen Pedro het verder uitgebrei op hierdie idee deur die belangrikheid van ’n missionale spiritualiteit te beklemtoon, waar ons deelname aan God se sending ’n lewenslange proses van leer en transformasie is. Hy het ‘n oproep gedoen vir ’n verandering van die kerk se kultuur van selfgesentreerdheid na ’n uitwaarts-gerigte bediening.

Die dag is afgesluit met getuienisse van verskeie organisasies wat evangelisasie in hul daaglikse lewe uitleef. Isibindi, Ambassadors Football, Simcha Ministries, Alpha, Straatwerk, Industrial Ministry, en ander het beklemtoon dat evangelisasie nie net iets is wat jy doen nie, maar dat die eerder gaan oor wie jy is. Hulle het ’n kernboodskap gedeel: “Moenie vir mense sê Jesus het hulle lief totdat jy gereed is om hulle ook lief te hê nie.” Hierdie insig weerspieël die wese van evangelisasie as ’n lewenswyse wat die liefde van God in alle aspekte van ons bestaan deurdring.

Die Evangelisasie Konferensie het nie net nuwe insigte en perspektiewe gebied nie, maar ook die vlam van passie vir God se sending in baie harte opnuut aangesteek. Dit was ’n dag van hernude visie, samewerking en ’n kragtige oproep om weer te droom oor wat die kerk kan wees in ’n wêreld wat smag na hoop en verandering.

Dink bietjie hieroor: “Does the church have a future? Does the future have a church?”

Podcast: Gesprek met Braam Hanekom oor dié konferensie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: