Hoekom predikante eintlik wol aan hulle togas het

👤 Wilmi Wheeler

Min beelde is só diep ingeweef in die kerk soos dié van die herder en sy kudde. Van Sondagskoolprentjies met wollerige skape tot Psalm 23 se bekende woorde: “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie.” Selfs vandag praat ons nog van leraarskap, kuddeversorging en predikante as die herders van ’n gemeente.

Maar dalk het ons met tyd die rolle begin omruil.

Predikant Heinrich Niehaus vertel dat sy deelname aan ’n skaaptrek in die Laingsburg-omgewing sy verstaan van hierdie beeld verander het. Tussen die klipperige grondpaaie, die geroep oor die berge en die ritme van mense wat saam met skape trek na nuwe weiding, het iets hom getref: Die Bybelse beeld van die herder gaan in die eerste plek nie oor dominees nie. Dit gaan oor God.

“Dis die Here wat die Herder is,” sê hy. “Ons is almal saam die skape. Die predikante is ook onder die skape getel.”

Dit klink eenvoudig. Maar eintlik skuif dit die hele dinamiek van kerkwees.

Dalk is dit hoekom predikante simbolies gesproke wol aan hulle togas behoort te hê. Nie omdat hulle die herder is nie, maar omdat hulle ook deel van die trop is.

herders, kerk, wol, dominees, predikante

God is die herder, nie die dominee nie

Die herder-kudde-beeld kom natuurlik uit die Bybel self. Psalm 23, Esegiël 34, Johannes 10, Jesus se woorde aan Petrus in Johannes 21 en Paulus se waarskuwing aan kerkleiers in Handelinge 20 het alles deur die eeue diep in die kerk se verbeelding ingesak.

Mettertyd het hierdie beeld egter meer as net ’n metafoor geword. In baie kerke het dit ’n hele manier van dink oor leierskap begin vorm: die dominee as herder, die gemeente as kudde. Die dominee lei, beskerm, voed en gee rigting. Die gemeente volg, vertrou en ontvang.

Daar is natuurlik iets mooi en waar daarin. Predikante het ’n roeping om te versorg, te leer, te begelei en saam met mense te onderskei. Maar die beeld raak gevaarlik wanneer die dominee ongemerk die plek van die Herder begin inneem.

Dan word die predikant die een met die geestelike kaart. Die een wat altyd moet weet. Die een wat voor loop terwyl almal anders volg. En voor lank begin die kerk lyk soos ’n plek waar een persoon hoor, een persoon praat en die res maar net moet inval.

Dit is juis hierdie verstaan wat Heinrich ná die skaaptrek begin bevraagteken het.

Vir hom het die beeld minder gegaan oor een belangrike herderfiguur bó die kudde en meer oor ’n hele groep mense wat sáám leer luister na die stem van die eintlike Herder: God self.

Lees ook: Die Here is my herder… in die Karoo

Die predikant as mede-skapie

In daardie verstaan word die predikant nie afgeskaf nie, maar herposisioneer. Nie as die hoofherder van die gemeente nie, maar as mede-skapie. Iemand wat saam met ander probeer onderskei waarheen God lei. Minder bevelvoerder. Meer medereisiger.

In Bybelse tye was ’n herder nie ’n romantiese figuur met ’n netjiese staf, skoon klere en ’n spierwit skaap wat gehoorsaam langs hom staan nie. Herders was mense van die veld. Hulle het saam met die skape geleef, saam getrek, saam gevaar trotseer. Hulle was vuil en hulle hande was grof.

Herders se taak was nie om van ver af bevele te skree nie, maar om naby genoeg te wees dat die skape hulle stem kon herken. Dis waarom die beeld só sterk in die Bybel funksioneer. God is nie ’n veraf bestuurder nie. Hy lei, beskerm, roep en stap saam.

En Jesus self hou die fokus daar.

In Johannes 10 sê Hy nie die predikante is die goeie herders nie. Hy sê: “Ek is die goeie herder.” Selfs Petrus, een van die belangrikste leiers van die vroeë kerk, waarsku later dat ouderlinge nie oor mense moet baas speel nie, maar eerder voorbeeldig tussen hulle moet leef.

Wat Heinrich voorstel, is dus nie dat predikante géén leiding gee nie. Inteendeel. Hy beskryf dit net anders.

“Ons as dominees is die skapie wat ons mede-skapies wil lei in die rigting van daardie stem wat jy kon onderskei,” verduidelik hy. “Dis nie ’n bevelvoerende verhouding nie.”

Daar sit iets verrassend bevrydend daarin vir leraars.

Want dit beteken die dominee hoef nie die geestelike supermens te wees wat altyd die regte antwoorde het nie. Hulle hoef nie voor te gee hulle twyfel nooit, raak nooit moeg nie of verstaan altyd presies wat God doen nie. Hulle staan nie buite die menslike ervaring nie. Hulle is self ook deel van die kudde wat leer luister.

’n Gesonder beeld oor herders vir die kerk vandag

En dalk is hierdie beeld juis gesonder vir die kerk.

Ons leef immers in ’n tyd waar baie mense moeg is vir magsmisbruik in geloofsgemeenskappe. Vir leiers wat hulle posisie gebruik om te beheer eerder as te begelei. Vir kerke waar vrae stilgemaak word en sekerheid soos ’n produk verkoop word. Die ou model van “die dominee weet alles” kraak op baie plekke onder sy eie gewig.

Maar die beeld van ’n mede-skapie verander die atmosfeer.

Dit skep ruimte vir nederigheid. Vir saam soek. Vir eerlike gesprekke. Vir die erkenning dat geloof nie ’n solo-vertoning is waar een persoon namens almal hoor nie, maar ’n gemeenskaplike onderskeiding van God se stem.

Daarom is die kerk op sy mooiste dalk nie ’n plek waar een sterk herder alles beheer nie, maar waar mense saam leer luister. Waar die predikant nie bó almal staan nie, maar tussen die mense beweeg met dieselfde behoefte aan genade, leiding en troos.

Want uiteindelik is die evangelie nie die storie van slim skape wat hul eie koers vind nie. Dis die storie van ’n goeie Herder wat steeds roep.

En van ’n hele trop, dominees ingesluit, wat probeer leer om daardie stem te herken.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: