Die reuk van varsgemaakte koekies meng met die klank van kinderlaggies en vreugdevolle sang. Dis een van daardie oomblikke wat ’n mens laat stilstaan en besef dat daar ’n dieper verhaal aan die gang is – ’n verhaal van hoop, van geloof en van God wat besig is om te werk in ‘n gemeente. Elke Vrydagoggend in die hartjie van Wildernis, by die gemeente van Die Vleie Hoekwil, ontvou ’n wonderwerk. Oorkant die pad van die kerk, net daar by die plaaslike skool, versamel sowat 200 kinders. Van graad een tot graad sewe stap hulle om die beurt oor die pad na die kerkgebou waar musiek, dans en ‘n kort Christelike boodskap vir hulle wag.

Vir baie van hierdie kinders is die wêreld van die kerk iets vreemd. Sommige van hulle ouers is nie gelowiges nie, ander het nog nooit ‘n voet in ’n kerk gesit nie. Tog, op hierdie Vrydagoggende, is daar ‘n vlam van opgewondenheid in hul oë. “Die kinders is mal daaroor!” vertel Dawie le Rouw, predikant van die gemeente. “Weet jy, dit is die werk van die Here – die opgewondenheid. Hoe daardie kinders lewe vir daardie godsdiensperiode.”

kinders hoekwil

Dit het alles net na COVID begin, toe die plaaslike skool ’n uitnodiging aan die gemeente gerig het om kinders te verwelkom vir ’n kort geestelike boodskap. Wat begin het as ’n eenvoudige uitreik, het vinnig ontwikkel in iets wat dieper en groter is as wat enigeen verwag het. Die Here het ’n deur oopgemaak vir hierdie gemeente wat nie groot was in sy getalle of jeug nie. “Ons het self nie derduisende kinders in ons gemeente nie, maar ons het 200 kinders oorkant die pad,” sê Dawie met ’n glimlag. “Dit is eintlik fenomenaal hoe die Here deure oopgemaak het vir ons om daardie verhouding te hê.”

Die impak van hierdie bediening in Hoekwil

Die impak van hierdie bediening strek verder as net die kinders. Ouers, wat voorheen nooit kerk toe gekom het nie, het begin inskakel by die gemeente, danksy hul kinders se entoesiasme oor hierdie “kerk-ding.” Die kinders bring ook hulle vriende saam en hulle kies selfs om buite skooltyd terug te kom om eredienste en jeugaande by te woon.

Een van die mees roerende aspekte van hierdie bediening is die betrokkenheid van die senior gemeentelede. Veral die oumas, wat in aftree-oorde woon en vreeslik na hulle kleinkinders verlang, het ’n spesiale rol in hierdie bediening gevind. “Ons het besef dat baie van hierdie kinders nie oumas het nie, of hulle oumas bly ver weg. En ons seniors verlang so na die jeug,” verduidelik Elaine, predikantsvrou en een van die sleutelfigure agter die projek. Hierdie intergenerasionele verbinding het ’n merkwaardige effek gehad – die oumas en die kinders het ’n unieke verhouding begin vorm wat albei se lewens verryk. “Dis wonderlik om te sien hoe die Here mense van verskillende geslagte saambring!”

Hoekwil
Hoekwil

Elaine se roeping in Hoekwil en verder: ‘n brandende passie om met kinders te werk!

Elaine se pad om haar roeping uit te leef, was nie altyd maklik nie. Twaalf jaar gelede, toe sy nog as arbeidsterapeut by ‘n skool gewerk het, het ‘n mediese diagnose haar roeping gedreig – sy is weens swak visie ongeskik verklaar. Die nuus het soos ‘n donker wolk oor haar toekoms gehang, aangesien haar passie om met kinders te werk onwrikbaar was. Kort daarna het Dawie die beroep na Die Vleie Hoekwil-gemeente aanvaar – ‘n gemeente sonder ‘n sterk jeug.

Ten spyte van hierdie skynbare teenstrydigheid tussen haar roeping en haar nuwe omstandighede, het Elaine steeds met onblusbare geesdrif die handjievol kinders bedien wat haar pad gekruis het.

Sy vertel hoe hulle eers oor die afgelope drie tot vier jaar van hulle bediening in Hoekwil ’n toestroming van kinders na die kerk beleef het. Vir Elaine is dit ’n vreugde om te sien hoe hierdie kinders, wat nog nooit tevore in ‘n kerk was nie, die gemeente as ’n veilige hawe begin beskou, ‘n plek waar hulle vry kan gesels, lag en hulself kan wees. “Ek kry hoendervleis wanneer hulle sing,” sê sy met ‘n glimlag. “Hulle sing so uit hulle harte uit.”

Die positiewe invloed wat die kerk op hierdie kinders het, is duidelik te siene, selfs wanneer hulle by die huis is. Een van die mammas getuig dat haar dogtertjie, in ’n tyd van gesinskrisis, die Skrifgedeelte wat by die kerk behandel is, met hulle gedeel het – dit getuig van die blywende indruk wat die kerk op hulle kinders het. Nog ‘n mamma vertel dat haar kinders deur die dag Christelik liedjies neurie. “Dit wat gebeur by die kerk gaan huis toe saam met hulle,” sê Elaine.

“Die uitreike met die skool wat ons nou het, is ’n antwoord op die gebede wat ek gehad het om weer met kinders te kan werk,” verduidelik sy, haar stem gevul met dankbaarheid en verwondering oor hoe God se planne werk. Ten spyte van haar visieprobleem, het Elaine gevind dat sy “ongelooflik baie hande” het – dankbare hande wat uitreik en help, hande van die tannies in die gemeente wat bereid is om saam te werk en God se liefde uit te dra.

“Ek is dalk nie in staat om alles self te doen nie, maar met al die ekstra hande van die tannies in die gemeente, kan ek my passie uitleef.” Elaine se reis het haar gelei tot ’n plek waar sy weer haar passie kan uitleef, en sy glo vas dat die saadjies wat gesaai word, op sagte grond sal val. “My hoop is regtig dat die Here die grond sal natmaak, sodat die kinders by ’n punt sal kom waar hulle die Here kies, al is dit nie nou nie – dat hulle eendag sal vrug dra in die koninkryk.”

Soos met enige projek, is daar ook uitdagings. Elaine erken dat daar teenkanting is vanuit die gemeenskap wat voel dat godsdiens nie so vrylik beskikbaar moet wees vir kinders nie. Sy vra dat almal saam met hulle sal bid dat die gemeente sterk sal staan in hierdie bediening. Ten spyte van hierdie struikelblokke, bly die gemeente hoopvol en gefokus op die groter prentjie – om die kinders te lei na ’n lewe in Christus en om hulle te bemagtig om die Woord van die Here prakties uit te leef.

In elke glimlag, elke lag en elke lied wat hierdie kinders sing, sien ons die hand van God aan die werk. Terwyl hierdie jong kinders week na week die kerkgebou vul, is dit duidelik dat die Gees van God ’n diep werk doen in hulle lewens. Hierdie bediening in Hoekwil is ’n baken van hoop in ’n wêreld vol twyfel en vrees en ons glo dat God hierdie jong harte sal gebruik om sy lig nog verder te laat skyn. Elke tree, elke lied, elke glimlag is ’n gebed, ’n geloofsverklaring dat die beste nog voorlê.