Kaapkerk se sosiale media in 2026: Nogtans sal ons sing…
👤 Wilmi Wheeler
Nogtans sal ons sing is Kaapkerk se sosiale media-jaartema vir 2026. Nie omdat alles reg is nie, maar juis omdat dit nie is nie.
In 2 Kronieke 20 staan koning Josafat op die rand van ’n nasionale noodtoestand. Dis nie ’n metafoor of ‘n gelykenis nie; daar is ’n regte oorlog op sy voorstoep. Drie leërs soek sy bloed, die soldate dra regte swaarde en die liggame wat kan val, is sterflik.
Nogtans neem hy ’n besluit wat op papier soos swak leierskap klink en in enige strategiese handboek as roekeloos gemerk sou word: hy stuur nie sy soldate eerste nie, maar sangers.
Nie die sterkstes nie, nie die vinnigstes nie en ook nie die mees geharde vegters nie. Hy stuur die mense met kwesbare kele die voorste linies in.
As dit nie absurd klink nie, het ons waarskynlik al te gewoond geraak aan die Bybel.
2 Kronieke 20 is nie ’n kinderkerk-verhaal oor lofprysing wat alles mooi laat werk nie. Dit is ’n teks oor mag, vrees, keuses en watter stemme jy toelaat om die eerste woord te kry wanneer dinge skeefloop. Josafat se koninkryk is bedreig, die volk is bang en hy ook. Die teks sê dit duidelik: “Josafat het bang geword.”
Nogtans is sy reaksie opvallend en radikaal. Hy roep sy volk bymekaar en verklaar ’n vas. En hy bid nie ’n oorwinningsgebed vol bravade nie. Hy bid ’n onthou-gebed. Hy herinner God aan wie God is, hy erken hulle magteloosheid: “Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons oë is op U gerig.”
Hier is waar Josafat die draaipunt maak. Hy moes besluit wie eerste loop. Wie staan aan die voorste linies van hierdie krisis. En hy kies sangers wat lofprys. Nie as agtergrondmusiek vir die “regte” werk nie, maar as die werk self.
Vir ons deel van die moderne samelweing, wat grootword tussen prestasie, uitbranding en konstante selfoptimalisering, is hierdie teks ’n ongemaklike teks. Ons is geleer om te fight, fix, hustle. Om eers alles te probeer beheer voordat ons bid. Om God in te roep nadat die planne misluk het.
Josafat draai dit om. Hy plaas aanbidding nie as ’n reaksie op oorwinning nie, maar as ’n daad van weerstand teen vrees.
Die sangers sing nie “dankie vir die oorwinning” nie. Hulle sing “Loof die Here, want sy liefde duur vir ewig.” Hulle verklaar wie God is, voordat enigiets verander het.
Vandag se “oorloë” lyk anders, maar voel nie ligter nie. Burnout. Ekonomiese onsekerheid. Klimaatsangs. Identiteitsvrae. Kerkmoegheid. Ons stuur dikwels eers ons verdedigingsmeganismes in: sinisme, oorwerk, selfbeskerming, ironie.
Josafat se vraag bly staan: wie stuur jy eerste?
Is dit jou vrees? Jou beheerdrang? Jou konstante beplanning? Of is dit aanbidding, nie as emosionele ontsnapping nie, maar as ’n daad van waarheidspreek in die gesig van chaos?
Of is dit aanbidding? Nie as emosionele ontsnapping nie, maar as ‘n standvastige waarheid in die gesig van chaos.
Aanbidding in 2 Kronieke 20 is nie mooi nie. Dis dapper. Dis gevaarlik. Dis openbaar. Dit plaas God in die middel en skuif die mens uit die hoofrol. En dit werk nie omdat sang magies is nie, maar omdat dit die volk heroriënteer. Hulle kyk nie meer net na die vyand nie. Hulle kyk na God.
Eers later, amper terloops, vertel die teks van die oorwinning. Want dit is nie die kern nie. Die hart van die verhaal lê vroeër: in ’n volk wat leer om God te vertrou voordat hulle weet hoe dinge gaan uitwerk.

“Nogtans sal ons sing…” – ’n Tema vir ons tyd
2 Kronieke 20 is Kaapkerk se ankerteks vir ons sosiale media se jaartema: “Nogtans sal ons sing…”. Ons bedoel dit nie as ’n maklike slagspreuk nie, maar as ’n geestelike houding. Die “nogtans” erken dat die geveg nog aan die gang is. Dat onsekerheid nie verdwyn het nie. Dat baie van ons steeds leef met vrae sonder vinnige antwoorde.
Deur die jaar gaan ons oor en oor terugkeer na hierdie refrein.
Op Kaapkerk se sosiale mediaplatforms gaan hierdie tema deur die jaar verwoord en verken word. Elke maand nuut, maar altyd gewortel in 2 Kronieke 20. Deur liedere uit die Liedboek, sowel as Flam- en Vonk-liedjies, leen ons taal wanneer ons eie woorde min raak. Ons gebruik hierdie jaar musiek as ’n manier om te bid, te onthou en aan te hou.
Hierdie reis is nie net vir een tradisie of een konteks nie. Dit is ’n uitnodiging aan gemeentes en gelowiges regoor die land om saam te stap. Om saam te sing wanneer dit maklik is, maar ook wanneer dit nie is nie. Om saam te ontdek hoe lof ons kan dra, selfs terwyl die geveg nog voorlê.
Die geveg is nog nie verby nie.
Die onsekerheid ook nie.
Maar… Nogtans sal ons sing.


