Kroon van alle feeste: Antieke perspektiewe op hemelvaart

👤 Hennie Stander

In 2025 word Christus se hemelvaart op 29 Mei gevier. Daar is ‘n paar interessante gegewens oor wat die antieke teoloë oor Jesus se hemelvaart gesê het:

Nestorius (5de eeu) noem die hemelvaart die “kroon van alle feeste”. Ook Pseudo-Epiphanius (4de eeu) sê dat Christus se hemelvaart die sieraad van feeste is, soos ‘n mens se kop op jou lyf, omdat dit die toppunt van alle feeste is. Toe Christus gebore is, was daar net ‘n ster om te wys dat ‘n koning gebore is, maar toe Jesus gedoop is, het God self met ‘n stem uit die hemel bevestig dat Jesus sy Seun is. Dit was egter steeds nie genoeg nie – Jesus se onsterflikheid moes nog bewys word met sy opstanding. Ook die opstanding van Jesus was nog steeds nie genoeg nie, want Jesus was nog aardsgebonde. Jesus se hemelvaart was die finale been van sy sending en dit het Jesus se oorwinning oortuigend in elke opsig verseël. So was Christus se hemelvaart die toppunt van Jesus se bediening!

Vergelyking met Elia se hemelvaart

Talle antieke teoloë het Jesus se hemelvaart met Elia se hemelvaart vergelyk. Hulle het egter gesê dat Jesus se hemelvaart Elia se hemelvaart by verre oortref het. Chrysostomos (4de eeu) sê dat God ‘n wa en perde van vuur gestuur het om Elia te gaan haal (2 Konings 2:11) omdat hy ‘n dienskneg was, maar dat Jesus met ‘n wolk opgevaar het, soos dit pas by God!

Verskeie antieke teoloë het ook Jesus se neerdaal na die hel (of onderaarde) verbind met sy opvaart na die hemel, en dit beskryf as twee komplementêre sfere waar Jesus sy heerskappy verklaar het. Hiervoor het hulle hulle op Efesiërs 4:9-10 beroep: “Hierdie uitdrukking: ‘Hy het opgevaar’, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.”

Beskrywings van die hemelvaart

Eusebius van Alexandrië (6de eeu) vertel dat al die profete op die berg bymekaar was toe Jesus op sy hemelvaart gegaan het. Onder die profete was ook Dawid met sy geestelike lier wat Jesus aangemoedig het om op te vaar. Die kerkvader Chromatius (4de eeu) het gesê dat Jesus natuurlik nie regtig die wolk nodig gehad het om op te vaar nie, omdat Hy God is en dus self ook Skepper van die wolke.

Die kerkvaders het ook geglo dat die hemel uit verskillende vlakke bestaan het. So verduidelik Chrysostomos (4de eeu) breedvoerig hoe Jesus se hele hemelse roete gelyk het: Jesus het opgevaar eers deur die vlak waar die engele was, en toe deur die vlak waar die aartsengele was, verby die gerubs, en toe verby die serafs, en toe verby al die magte en kragte. Steeds het Hy nie gestop nie, tot Hy by die heel boonste hemel uitgekom het waar die troon van die Vader was. Hiervoor het die kerkvaders ook ‘n teks gehad, naamlik Hebreërs 4:14: “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God…”

Proclus (5de eeu) vertel dat al die hemelse wesens Christus geprys en geloof het terwyl Hy op elke vlak van die hemel verby hulle gereis het op pad na die Vader. Hulle het Jesus geprys omdat Hy sy sending suksesvol voltooi het.

Die “spoed” van die hemelvaart

Proclus (5de eeu) sê dat Jesus baie stadig opgevaar het, stukkie vir stukkie (κατὰ μικρόν), maar Pseudo-Epiphanius (4de eeu) verduidelik dat Jesus met spoed opgevaar het, en hy vergelyk dit met die spoed van strydwaens!

Die aankoms in die hemel

Gregorius van Nyssa (4de eeu) vertel dat toe Jesus by die hemelpoorte aankom, het die engele uitgeroep: “Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure, want die magtige Koning wil ingaan” (Psalm 24:9). Die hemelse wesens vra toe: “Wie is Hy, hierdie magtige Koning?” (Psalm 24:10), en toe antwoord die Gees: “Dit is die Here, die Almagtige, Hy is die magtige Koning” (Psalm 24:10).

Chromatius (4de eeu) verduidelik dat die Vader nie gewag het tot Jesus by Hom in die boonste hemel gekom het nie, maar dat Hy vir Jesus tegemoetgegaan het, want Psalm 73:23-24 sê: “U vat my aan die hand en U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem.”

Ou-Testamentiese voorspellings

Die kerkvaders het geglo dat talle verse in die Ou Testament reeds Jesus se hemelvaart voorspel het. Hulle verwys dan na verse soos Psalm 18:11: “Hy het op ‘n gerub geklim en gevlieg; op die vlerke van die wind het Hy nadergesweef.”

Teologiese betekenis

Dit is ook interessant om te lees watter teologiese betekenisse die antieke teoloë aan die hemelvaart gekoppel het. Hulle het byvoorbeeld gesê dat toe Jesus gebore is, het Hy die godheid na die aarde gebring, maar toe Hy opgevaar het, het Hy ons mensheid na God geneem. Vir Chrysostomos (4de eeu) was die hemelvaart die versoening tussen God en mens. Athanasius (4de eeu) sê dat Christus se hemelvaart die hemel vir ons toeganklik gemaak het.

Verbinding met die wederkoms

Die antieke teoloë het ook Jesus se hemelvaart met die wederkoms verbind. Immers, Handelinge 1:11 sê dat twee mans in wit klere na Jesus se hemelvaart vir sy dissipels gesê het: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Augustinus (4de/5de eeu) sê dus dat net soos Christus as God en mens opgevaar het, sal Hy ook as God en mens op ‘n wolk terugkeer met sy wederkoms. Diadochus (5de eeu) sê dat Jesus op ‘n wolk sal terugkeer met sy wederkoms, omdat Hy op ‘n wolk opgevaar het.

Harmonie onder die kerkvaders

Dit is interessant om te sien hoe in harmonie die antieke kerkvaders is wanneer hulle oor Christus se hemelvaart nagedink het! Ons het inderdaad ook verskeie preke uit die Vroeë Kerk wat oor die hemelvaart handel en wat vir ons bewaar gebly het. Dit is baie interessant om dit te lees.

Pseudo-Epiphanius (4de eeu) begin byvoorbeeld sy preek deur vir sy gemeente te vra dat hulle “die loodswaar lug, wat hulle wil laat slaap, moet onderdruk, en ook hulle onsinnige geklets in die kerk moet stop, sodat hulle kan luister na sy preek oor die hemelvaart!”

Prof. Hennie Stander is ‘n voormalige Professor in Grieks aan die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van Pretoria. Hy het ook gedien as Waarnemende Hoof van die Departement Antieke en Moderne Tale & Kulture, Waarnemende Direkteur van die Sentrum vir Japanse Studies, en Waarnemende Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe aan dieselfde universiteit.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: