Libanon: Hoop te midde van puin en die soeke na vrede

👤 Daniël de Wet

In ’n wêreld waar die nuus oorheers word deur oorlog, lyding en onsekerheid, word ons telkens herinner aan ons roeping: om mense van gebed te wees. Soos ons verlede week vir Iran gebid het, word ons hierdie week genooi om ons aandag op Libanon te vestig – ’n land wat, soos soveel ander in die Midde-Ooste, diep geraak word deur konflik en krisis.

Libanon is ’n land van uiterstes – ’n plek waar eeue-oue tradisies en ’n ryk kulturele tapisserie saamleef, maar tans oorweldig word deur een van die diepste krisisse van ons tyd.

Die werklikheid is ontnugterend. Sedert 2019 het die Libanese geldeenheid drasties in waarde gedaal, met verreikende gevolge vir gewone mense. Kos, brandstof en medisyne het vir baie onbekostigbaar geword. Werkloosheid en armoede het skerp toegeneem, en basiese dienste soos elektrisiteit, gesondheidsorg en onderwys verkeer onder geweldige druk. Vir talle gesinne is dit ’n daaglikse stryd om te oorleef.

Hierby kom die blywende trauma van geweld en rampspoed. Die nasionale psige dra die letsels van verlies, onsekerheid en vrees vir wat nog mag kom.

En tog – te midde van hierdie gebrokenheid leef die kerk.

Plaaslike gemeentes, dikwels klein en kwesbaar, bly ’n tasbare teken van hoop. In stede en dorpe regoor die land is die kerk meer as ’n erediensruimte – dit is ’n plek van sorg, ondersteuning en herstel. Gelowiges deel kos met dié wat honger is, bied berading aan mense wat trauma beleef het, en skep ruimtes waar hoop weer kan groei.

Ekonomiese druk en onsekerheid dwing egter baie, veral jongmense, om die land te verlaat. Gemeentes word kleiner, en die toekoms voel broos. En tog kies baie gelowiges om te bly – om te dien, om lig te wees, en om getrou te bly aan hul roeping, juis waar dit die moeilikste is.

Hierdie is dus nie net ’n verhaal van nood nie, maar ook van volharding en geloof.

Te midde van puin en pyn word die kerk geroep om die vrede van Christus te beliggaam – ’n vrede wat dieper gaan as die afwesigheid van oorlog. Dit is ’n vrede wat herstel bring, wat geregtigheid soek, wat versoening moontlik maak, en wat mense help om weer te droom.

Ons word ook hier, soos verlede week, genooi om saam te bid – nie op ’n afstand nie, maar as deel van een liggaam, verbind in Christus met broers en susters wat in moeilike omstandighede leef.

Voorbidding vir Libanon

Bid vir stabiliteit en vrede

  • Dat politieke leiers met wysheid en integriteit sal optree
  • Vir beskerming van burgerlikes, veral in gebiede wat deur konflik geraak word
  • Vir ’n regverdige en blywende vrede in Libanon en die breër Midde-Ooste

Bid vir die kerk en haar getuienis

  • Vir gelowiges en gemeentes om standvastig te bly in geloof, hoop en liefde
  • Vir kerkleiers en hulpwerkers vir krag, wysheid en volharding
  • Vir jongmense  – vir hoop, roeping en nuwe moontlikhede

Bid vir herstel en hoop

  • Vir die veilige en onbelemmerde verspreiding van hulp aan mense in nood
  • Vir genesing van trauma en vertroosting vir dié wat verlies en pyn ervaar het

Bid vir God se koninkryk

  • Dat die kerk ’n lig sal wees in die duisternis
  • Dat God se vrede, geregtigheid en barmhartigheid sigbaar sal wees in Libanon
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Skeppingsorg: Spaar water by kerkgeboue en huise

  • Bid vir Oekraïne: Hoop ten spyte van oorlog

  • Gebed vir Soedan: God sien die vergete raak