“Dit is merkwaardig om te sien hoe God deur mense werk!” Getuig ds. Suléne du Toit van NG Kerk Bellville-Uitsig. Hulle gemeente reik nou al vir ‘n geruime tyd elke jaar uit na die gemeenskap van Merweville, ‘n klein dorpie geleë in die uitgestrekte Karoo-landskap in die Wes-Kaap. So, die woorde ‘Merweville uitreik’ is welbekend in die woordeskap van die Bellville-Uitsiggers.
Dorpies in die Karoo ervaar dikwels groot nood as gevolg van die uitdagings wat gepaard gaan met droogtes, hulle afgeleë ligging en ekonomiese kwesbaarheid. Dan is werkgeleenthede boonop nog skaars ook. Hierdie omstandighede het ‘n impak op die lewenskwaliteit van mense en skep ‘n dringende behoefte aan eksterne ondersteuning om die basiese behoeftes van die inwoners aan te spreek.
Dit is waar gemeentes se uitreikpogings inkom. Gelowiges word immers geroep om die praktiese liefde van Christus te beliggaam.
Uitreike na gemeenskappe is ‘n besondere geleentheid wat beide diegene wat dien en diegene wat ontvang, verryk. Terwyl die primêre doel mag wees om ondersteuning en liefde aan ander te bied, is dit ‘n ervaring wat die deelnemers se eie lewens onherroeplik verander.
Om uit te reik na ander skep ‘n dieper begrip van empatie en ‘n besef van menslikheid. Dit herinner ons aan die krag van gemeenskap en saamwerk en ons kry ‘n hernude waardering vir die klein, alledaagse dinge in die lewe wat ons soms as vanselfsprekend aanvaar. Hierdie wisselwerking van diens en ontvangs bring ‘n gees van wederkerigheid wat die gemoedere ophef en harte verbind in ‘n gesamentlike roeping om liefde en hoop te versprei.
Die Merweville uitreik wys ons is geroep om liefde en hoop te versprei
Die span van Bellville-Uitsig-gemeente wat betrokke was by die Merweville uitreik, bestaan hoofsaaklik uit tieners, maar die besondere bydraes van die volwassenes in die gemeente, kan nie misgekyk word nie. Dit is juis deur middel van hierdie gemeenskaplike poging oor generasies heen wat wys hoe God deur mense se harte werk om wonderwerke te verrig.
Die deelnemers getuig dat hierdie uitreik ‘n tyd was van geestelike groei en persoonlike herinnering aan God se genade. Dit het hulle herinner aan die krag van gebed en die noodsaaklikheid om God se liefde onvoorwaardelik aan ander te bewys.
Die hoogtepunte van die uitreik sluit die verspreiding van geskenkbokse aan omliggende ouetehuise in, sowel as die daaglikse bediening van sop aan die inwoners van Merweville. Hierdie eenvoudige daad van diens het nie net liggaamlike behoeftes aangespreek nie, maar het ook die harte van die gemeenskap gevoed deur ‘n poppekas, kuns-aktiwiteite en werkswinkels vir alle ouderdomsgroepe.
Dit was vir die kinders van die gemeenskap spesifiek ‘n onvergeetlike ervaring. Aan die einde van die week het elke liewe kind wat die week se sessies bygewoon het, ‘n verrassingspakkie ontvang met onder andere ‘n warm gebreide mussie en ‘n gebreide teddiebeer in. Sulene vertel dit was hartroerend om te sien hoe bly van die kindertjies was om (dalk) vir die eerste keer in hulle lewe ‘n teddie van hul eie te kon vashou. Hierdie klein gebaar het groot vreugde gebring aan kinders wat dalk nie aldag diep liefde ervaar nie.
Wat die spanlede betref, het die uitreik ‘n eenheid en liefde beklemtoon wat oor verskeie agtergronde en omstandighede strek. Dit was ‘n getuienis van die Heilige Gees se werk, wat mense saambind tot ‘n hegte eenheid vir ‘n gemeenskaplike doel: om God te eer, mekaar op te bou en sy liefde uit te straal.
“Dit was ‘n voorreg om vir ‘n week lank Jesus se liefde wat Hy aan ons kom bewys het, ook onvoorwaardelik en in oorvloed, aan mense te kom uitdeel wat dikwels min tot geen liefde ontvang,” vertel Sulene. “In die proses is nie net húlle lewens nie, maar veral ook die span se lewens, aangeraak. Ons het opnuut ons afhanklikheid van God besef en ook dat die mense wat vir ons intree in gebed en nie noodwendig self die uitreik meemaak nie, ‘n baie belangrike rol speel.
Mag God aanhou om in en deur ons almal se harte te werk sodat ons met onvoorwaardelike liefde Sy genade oor almal kan uitstort en ook beleef hoe ons baie meer in die proses ontvang.”