Mobiele kliniek: ‘n Koelhouer en die koninkryk
👤 Daniël de Wet
Daar is paaie wat ’n mens met ’n GPS aanpak. Jy tik ’n bestemming in en vertrou die stem wat sê: “Draai links oor 300 meter.” En dan is daar paaie wat jy net met geloof kan aanpak. Paaie waar jy nie weet wat wag om die volgende draai nie. Toe dr. Pim de Lijster, en sy vrou Willemijn, ’n paar weke gelede uit Johannesburg vertrek het om saam met die mobiele kliniek span in Mosambiek te gaan werk, het hulle geweet hierdie reis sou van laasgenoemde soort wees. Oorstromings in die Noord-Ooste van Suid-Afrika en in die Suide van Mosambiek het hulle genoop om anders as gewoonlik ’n Westelike roete te kies. Hulle het deur Botswana en Zimbabwe gereis, deur grensposte waar wagtyd jou leer om eerder te vertrou as te beheer.
Ná dae se ry het hulle uiteindelik die Tete-provinsie in Mosambiek bereik – ’n plek van rooi stof, somerhitte en swaar humiditeit. Reeds op die eerste dag is daar met die hoof van die Oftalmologie-departement vergader. Want die werk van die mobiele kliniekspan is nooit net reaksie op nood nie; dit is ook die durf om vooruit te dink en beplan. In September 2026, D.V., hoop hulle om ’n reeks oogheelkunde klinieke aan te bied waar soveel moontlik katarak-operasies gedoen sal word.
Van Tete af wag daar nog 230 kilometer tot by Vila Ulónguè – hul tuiste op die kerkgrond van een van ons Gereformeerde susterskerke in Afrika, die Mphatso-sinode van die Igreja Reformada em Moçambique. Hier, tussen die sinode se geboue en pragtige bome wat skadu gee, vind die mobiele kliniek sy ritme. Hier word voorraad gelaai, roetes beplan en saam gebid voordat die dag begin.
Elke Maandagoggend teen sewe-uur staan die span gereed: ’n mediese tegnikus, ’n tegnikus vir voorkomende gesondheid, twee vroedvroue en ’n bestuurder. Elkeen dra sy of haar deel van die roeping.



Hoewel die reën vanjaar minder was en die paaie beter begaanbaar as in 2025, het die wagtye by die klinieke nie korter geword nie. Op die eerste dag alleen is 120 kinders ingeënt, 53 swanger vroue ondersoek en 75 siek mense behandel. Daar was nie tyd vir koffiepouses of ’n rustige middagete nie. Wanneer die kliniekspan arriveer, is dit vir die gemeenskap soos water uit die rots in die woestyn — mense kom nader, want hier het die Here weer voorsien.
Die kliniekspan se werk gebeur egter nie net onder bome of in kerkgeboue nie. Dit gebeur ook in kantore: in vergaderings met die distrik se direkteure van gesondheid, in logistieke beplanning, in die vervanging van bande van die kliniek se dubbelkajuitbakkie wat die volgende 10 000 kilometer moet hou.
Vir bykans drie dekades bring hierdie mobiele kliniek – met die ondersteuning van Getuienisaksie en lidmate en gemeentes van die Wes-Kaap – gesondheidsorg na gemeenskappe in Mosambiek wat andersins afgesny sou wees van hulp.





Dit is nie ’n projek met helde en heldinne nie. Dit is ’n netwerk van gehoorsaamheid. Dit leef in kerkgronde wat as basis dien, in ondersteuners wat bid en gee, in ‘n span wat saamwerk, in bestuurders wat vroeg soggens ry, in vroedvroue wat stil luister na die sagte ritme van ’n hart, en in tegnici wat koelhouers met entstowwe dra.
En êrens onder ’n boom of langs ’n stofpad, gebeur dit telkens weer:
’n Baba word ingeënt.
’n Swanger vrou hoor haar kind se hartklop.
Koors word gemeet en behandel.
’n Gebed word gefluister.
Soms sien ons iets van die Koninkryk van God wanneer die mobiele kliniek se dubbelkajuitbakkie in die koel oggendlug wegtrek, wanneer ’n koelhouer vol entstowwe langs ‘n stofpad oopgemaak word om ‘n verskil te maak aan die lewens van mense in die omgewing. Dit is genade wat soos lig oor stofpaaie val, wat die stiltes vul en hoop bring, omdat God se teenwoordigheid ook sigbaar is in die stil ritme van mense wat nederig hul werk doen – waar hulle in gehoorsaamheid aanhou ry, een kind, een swanger vrou, een hart, een gebed op ’n slag.



