Monte Rosa: Geseën om te seën
👤 Ronelda Visser
Die woord rentmeesterskap het deesdae ’n refrein geword. Jy hoor dit al hoe meer in vergaderings en gesprekke. Maar hoe kyk ons as kerk daarna en nog belangriker hoe lyk volhoubare rentmeesterskap. Dit is ’n vraag wat organisasies sonder winsbejag en baie van ons gemeentes in die gesig staar. Wat beteken dit in ons land en ’n tyd soos nou?


Die kommunikasiespan het onlangs gaan inloer by die Monte Rosa Tehuis vir Bejaardes, ’n program van Badisa, in die hartjie van Kaapstad. Ons gesels met bestuurder Pieter Smit en fasiliteerder Attie Nieuwoudt en ontdek hoe daar nuut gedink word oor finansiële modelle en volhoubaarheid in hierdie sektor.
Die langtermyn volhoubaarheid van bejaardesorg- en ander soortgelyke fasiliteite word sterk beïnvloed deur die wisselwerking tussen hul finansiële modelle en die veerkragtigheid van hulle ondersteuningstrukture.
Pieter noem dat baie bejaardesorgfasiliteite soos Monte Rosa beduidende finansiële uitdagings moet oorkom. Dit kan toegeskryf word aan die hoë koste van sorgverskaffing, inkomstemodelle wat onder druk is en die instandhouding van verouderende infrastruktuur.

Monte Rosa is oorspronklik in 1895 as Roggelim, ’n tehuis vir bejaarde mans, gebou en daarna het ’n hospitaal en verpleegsterstehuis op die gronde bygekom. Maar stelselmatig het die fasiliteite nie meer aan die behoeftes van die gemeenskap voldoen nie. Geleë in die gesogte Tuine-buurt in die middestad is die eiendom uiters waardevol op papier, maar daar moes op ’n innoverende manier gekyk word na maniere om die gebou op te knap en aantreklik vir nuwe intrekkers te maak.
Pieter verduidelik dat sorgverskaffing personeelintensief is en dus hoë operasionele kostes behels. Ouer fasiliteite wat histories aan die kerk gekoppel was, het ook nie noodwendig opgehoopte fondse vir onderhoud nie. Inwonersfooie is ook tradisioneel nie so gestruktureer om al die kostes te dek nie, aangesien daar vanuit staatskoffers en die wyer kerkgemeenskap ondersteuning gebied is. Operasionele begrotings wat op inwonerskapasiteit gebaseer het, het ook tydens die COVID-19-pandemie ’n ontsettende knou gekry.
Daar moes dus gekyk word na innoverende maniere om kapitaal te genereer en kruis-subsidiëring te doen. En dis hier waar die verskillende belanghebbende partye hande gevat het en met ’n loodsprojek vorendag gekom het, wat die verbeelding aangryp.
Attie was 30 jaar in die privaatsektor en is gemeentebestuurder by Sonnekus. Hy is ook betrokke by die Skool vir Sosiale Innovasie by Hugenote Kollege. Hy verduidelik dat die skep van risikomatrikse en kontantvloeimodelle noodsaaklik is om in gevalle soos Monte Rosa eksterne befondsing te verseker. Maar dan is dit ook belangrik om hulpbronne vanuit die breër gemeenskaplike en institusionele landskap te mobiliseer om volhoubaarheid te verseker.


’n Fasiliteringsgesprek is begin tussen Monte Rosa, Badisa as bestuursprogram, die batehouer Goeie Hoop Behuisingsmaatskappy en Diaconia, die voormalige SKDB. Dit het belanghebbendes toegelaat om ’n vertrouensverhouding op te bou en en op die gemeenskaplike doelwit te fokus. Monte Rosa is aangewys as ‘n loodsprojek om lesse uit operasionele uitdagings te leer en nuwe finansiële modelle te toets. Die noodsaaklikheid wat deur hulle finansiële situasie geskep is, het gelei tot ‘n oopheid vir verandering. Na verskeie gesprekke is daar ooreengekom dat ’n breedvoerige restourasie- en uitbreidingsprojek die enigste opsie is om Monte Rosa se toekoms te verseker.
Planne is opgetrek om elf kamers in elegante en-suite eenhede te omskep en vir bemarkingsdoeleindes is een kamer as vertooneenheid ingerig. Maar voordat daar verder gevorder kon word, moes hulle eers miljoene spandeer om hulle brandalarmstelsel op te gradeer.
Die behoefte vir eksterne befondsing was dus kritiek en op hierdie stadium moes fondswerwing wyer uitkring. Daar is uitgereik na verskillende bronne, onder andere ’n privaatstigting, strukture binne die NG Kerk en ander fasiliteite binne Badisa se uitgebreide raamwerk.


En dis hier waar die seëninge begin instroom het. ’n Stigting skenk oor die R2-miljoen. ’n Aftree-oord binne die Badisa-program wat finansieel sterk is, bied ’n lening teen ’n baie gunstige rentekoers aan en fondse word op ander plekke ontsluit. En daar kry die Monte Rosa projek lewe. Tydens ons besoek was dit ’n byenes van bedrywigheid met konstruksiewerkers hard aan die werk om die volgende tien kamers te voltooi. Die skou-eenheid spog reeds met ’n splinternuwe ruim badkamer en kontemporêre dekor. Genoeg om belangstellendes se aandag te trek, sodat drie van die nuwe eenhede reeds bespreek is.
En soos die eenhede gevul word, kan daar voortgegaan word om gemeenskaplike areas op te gradeer en nuwe projekfases uitgerol word. Daar word onder ander lewensreg-wooneenhede beplan, wat sal help om die algehele bedryfskostes te subsidieer.
Daar bestaan ’n visie om te verhoed dat die 134 afsonderlike programme binne Badisa hul eie oorlewingstryd moet voer. Interprogramondersteuning is hier van kardinale belang en sterker programme word aangemoedig om hulle hulpbronne te deel. Dit word reeds in ’n mate geïmplenteer met sommige fasiliteite wat hulle tiende gee deur sukkelende fasiliteite te ondersteun. “Dit is belangrik dat ons binne die breër sisteem ’n kultuur skep rondom die basiese beginsel van ons tiende skenk aan ’n fasiliteit wat minder bevoorreg as ons is. So word ons geseën om ander te seën. Alles kom tog van ons Hemelse Vader af,” noem Attie.

Om volhoubaarheid te bereik, moet daar ook gemeenskapshulpbronne betrek word. Dit vereis die betrokkenheid van die hele gemeenskap, insluitende plaaslike kerke, ander nie-winsgewende organisasies en selfs die plaaslike regering. Die kerk word aangemoedig om dit te beskou as omvattende rentmeesterskap, wat verder strek as net die onmiddellike gemeente.
Ons hou hierdie loodsprojek met groot belangstelling dop. Miskien kan dit elders in jou gemeenskap gerepliseer word of op ’n ander skaal gedoen word. Rentmeesterskap beteken om verantwoordelik om te gaan met alles wat God aan ons toevertrou het, onder andere ons tyd, geld, talente en selfs die skepping self. In die Bybel sien ons dat alles aan God behoort en dat ons slegs bestuurders van sy gawes is. Jesus leer ons in Lukas 16:10-12 dat getrouheid in klein dinge wys dat ons betroubaar is met groter dinge. Ware rentmeesterskap is dus ’n daad van gehoorsaamheid en dankbaarheid – om God te eer deur sy skepping en gawes met wysheid en liefde te hanteer.
Kontak Pieter Smit vir meer inligting:
Tel: 021 423 8173
Epos / Email: manager@xsinet.co.za


