Tydens die naweek van 14-16 September 2024 het ‘n groep van die Wes-Kaap Msinga besoek. DJ Muller van Kaapkerk vertel van sy ervaring.
Dit is lente in die Boland en die bloeisels aan die bome is soos kansels wat preek oor nuwe lewe en beloftes. Nuwe lewe na ’n lang winter en die belofte van geurige vrugte wat ons binnekort kan pluk en geniet – amper soos dividende van ’n winterbelegging.
Vyf van ons klim op ’n vliegtuig Durban toe en reis vandaar noordwaarts met die R33. Ek (DJ), Daniël de Wet, Mizelle Prinsloo, Albert Myburgh en Nati Stander is op pad vir iets wat ons steeds sukkel om te benoem. Ons wil dit nie ’n uitreik of ’n inreik noem nie, en ons wonder steeds wat dit presies is. Toe ons Msinga binnery, begin ek my afvra of dit hier ook lente is. Dit lyk nie so nie. Trouens, ek wonder of ons nie dalk in Zimbabwe beland het nie. Dit lyk só – vervalle, arm, vuil en besig. “Dit is maar hoe dit hier lyk,” sê Albert, wat al dikwels hier was. Vir my, Mizelle en Nati is dit ons eerste keer. Skielik begin dit na ’n uitreik voel…
Daar is min groenigheid aan die bome. Hier en daar is ’n enkele blaartjie te sien, maar die prentjie bly grootliks vaal. Ons ry ’n dorpie binne en stop by ’n klein kerkie. Nkazimulo kom groet ons by die bussie. Binne die kerkie word ons hartlik verwelkom deur die kerkraad – meestal vroue wat breed glimlag terwyl hulle ons groet. Ons bid en sing saam en word toe genooi vir “tee” by Nkazi se huis langs die kerk. Aan tafel vra ek hom hoe dit vir hom voel wanneer mense soos ons na hulle toe uitreik. Interessant genoeg beleef hy dit nie as ’n “uitreik” nie. Vir hom is dit normaal – dit is hoe dit behoort te wees. “Julle weet die Here het julle lief, maar soms stuur die Here mense uit die Wes-Kaap net om dit weer vir julle te kom wys,” het Johnson Mazibuku altyd aan sy Zulu-gemeente verduidelik. Hy was vroeër jare ’n evangelis hier. Die “tee” word toe ’n reuse ete – hoender, rys en koolslaai.
Naby aan Nkazi se huisie in Keates Drift, sien ek ’n klein boompie met helder bloeisels en ’n paar groen blaartjies. Teen die vaal agtergrond van die dorp staan hierdie boompie uit. Ek neem ’n foto en bêre my kamera weer. Ons klim in die bussie en ry verder deur Tugela Ferry tot by Pomeroy. Hier is ’n jong geestelike leier, Xolani, wat ook ’n klein kerkie en ’n boompie met bloeisels het. Hy is jare gelede ná ’n diens geskiet en moes lank met groot moeite rondbeweeg waar hy moes wees – by sy gemeentelidmate. Hy het voortgegaan met huisbesoeke en eredienste ten spyte van geweldige uitdagings. Sy toewyding het, volgens hom, mense laat glo wanneer hy vir hulle sê hoe lief God hulle het. Luister na sy verhaal in hierdie podcast.
Kort-kort draai ons van die grootpad af en stop by gemeentes. By elke gemeente sien ek ’n boompie met bloeisels vol beloftes. Ek begin wonder of hierdie boompies nie dalk iets vir my wil sê nie. Sondag woon ons ’n erediens by in Mhlumayo. Tydens die diens word daar dankie gesê vir ds. Lourens Schoeman en sy vrou, Hanlie, se betrokkenheid in Msinga sedert 1988. Patrick Lamula vertel oor sy eerste ontmoeting met ’n witmens in die 80’s: “Die wit man het oor die berg na ons toe aangestap gekom.” Hy verwys na Lourens. Patrick vertel die storie in Zulu, en die tolk vertaal dit so: “This was the first time we see a white person, and then we find out, this person is in love with us.” Hierdie woorde slaan my asem weg. Ek is so diep geraak deur die woorde dat ek eers buite moes gaan asem skep. Terwyl ek op ’n klip onder ’n doringboom sit en oor die vaal vallei uitkyk, begin die boompies met die bloeisels met my praat.
In Msinga is daar nie baie groen nie. Dit is werklik vaal, veral ook in ’n ekonomiese en sosiale sin. Die mense hier leef bitter swaar. Tog is daar bloeisels. Daar is mense wat “in love is” met die Zulu’s hier, en deur hierdie liefde het die mense hier ook vir God lief geword. Ek dink terug aan die vreugdevolle ontmoetings langs die pad, die kragtige getuienisse, die oorvloedige etes en bederfies. Ek dink aan die glinstering in mense se oë wanneer hulle oor hul kerk praat, en hoe hul gesigte gloei met passie vir Jesus wanneer hulle sing. Soos bloeisels! Nati was reg toe hy sê dat dit vir hom voel of ons nou die dividende geniet van die beleggings wat al vir jare hier gemaak is. Skielik voel ek skaam, want ek het gedink hierdie is ’n uitreik. Nou is dit ék wat bedien en beweeg word deur ’n kleurvolle getuienis van Zulu-bloeisels. Is dit dan ’n inreik?
Dit voel asof ons deur tyd reis. Dinge in Msinga voel aan die een kant “terug in tyd”. Die swaarkry en eenvoud laat dit lyk asof gemeenskappe hier agtergebly het terwyl die wêreld aanbeweeg het. Tog is dit ook vorentoe in tyd, want die kerk hier is reeds soos baie van ons gemeentes nog moet word. Ek vra die laaste aand vir Mizelle oor haar ervaring. Sy antwoord terwyl sy nog spartel om woorde nader te sleep en sê: “Ek dink my woorde sal eers oor twee weke kom.” Miskien is dit hoekom ek ook nie heeltemal seker is wat ons hier kom doen het nie. Wat ek wel weet, is dat die bloeisels in Msinga vrugte sal dra wat hongeres kan voed. En ek weet dat ons vyf uit die Wes-Kaap nie op ’n uitreik was nie. Ons was kerk toe.