‘n Grys kruis van as in Citrusdal-gemeente se parkeerarea

👤 Wilmi Wheeler

Teen 07:00 is Citrusdal nog nie heeltemal aan die gang nie. Dis daardie tyd van die oggend waar mense by die huis nog koffie drink, kinders hulle skoolskoene soek en die dag nog voor jou oop lê. Maar, op die kerkterrein het motors een vir een begin inry om vir die eerste keer saam as geloofsgemeenskap Aswoensdag te vier.

“Die konsep van om Aswoensdag te vier is ‘n nuutjie in ons gemeente, so ons het dit baie informeel gemaak,” vertel Marica Mouton, skriba van die gemeente. Mense kon dus tussen 07:00 en 08:30 by die Aswoensdag-drive thru stop op pad werk of skool toe as ’n oomblik om stil te word en die begin van Lydenstyd bewustelik te merk.

Marica vertel dat ds. Rudie by elke voertuig gaan staan het en die as aan elke persoon bedien het. Party mense het hulle vensters oopgedraai, ander het uitgeklim. Hy het die as in ’n klein kruis op elke persoon se voorkop of arm geteken en die woorde uit Genesis 3:19 gesê: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Aswoensdag herinner ons immers aan iets wat ons reeds weet, maar selde hardop sê: Ons is nie onaantasbaar nie. Ons is mense van stof. Ons liggame is broos. Ons planne is voorlopig. Ons kan nie onsself red nie. Ons lewens is afhanklik van genade.

Wat die oggend volgens Marica besonders gemaak het, was hoe natuurlik dit gebeur het. ’n Plaaslike besigheid het hul personeel saamgebring. Hulle het nie net individueel kom stop nie, maar as span. Ouers het met kinders op die agtersitplek opgedaag. Party het nog skoolhemde reggetrek toe die motor stop. Van die ouetehuis se inwoners het sommer te voet gekom.

Saam met die as het elke persoon ’n pamflet ontvang wat verduidelik wat Aswoensdag en Lydenstyd beteken. Dat dit die begin is van veertig dae van voorbereiding op Paasfees. Dat dit ’n tyd is vir gebed, bekering en om weer jou lewe in die lig van die evangelie te ondersoek. Tekste soos “Keer terug na My met julle hele hart” en “Skep vir my ’n rein hart, o God” het die toon aangegee.

Vir die kinders was daar ook iets konkreet. Hulle kon ’n hart teken en binne-in skryf: “Here, maak my hart nuut.” Swart vir berou, groen vir nuwe lewe en rooi vir liefde. Dit het mooi aangesluit by die gemeente se uitnodiging van Lydenstyd: Nie net om oor geloof te praat nie, maar om dit doelbewus te leef.

Teen halfnege het die ry motors opgedroog. Mense het aangery werk toe. Kinders is by skole afgelaai. Die dag het normaal voortgegaan. Maar iets het begin. ’n Seisoen het afgeskop.

Vir Citrusdal-gemeente was hierdie Aswoensdag ’n eerste tree in ’n ritme wat ouer is as die dorp self. Die kerk oor eeue heen het Lydenstyd gebruik as ’n tyd van terugkeer. Terug na God. Terug na gebed. Terug na die kern van die evangelie.

Nou lê die veertig dae voor ons. Nie as ’n projek nie, maar as ’n uitnodiging. Om stadiger te leef. Om eerlik te bid. Om weer te vra wat dit beteken om Jesus te volg.

Dit het hier begin met ’n paar motors in ’n parkeerarea, ’n grys kruis op ’n voorkop en woorde wat eenvoudig genoeg is om te onthou.

“Stof is jy.”

En tog, stof in God se hande. Stof wat Hy vorm. Stof wat Hy weer laat asemhaal.

Die veertig dae lê nou voor die gemeente. ’n Pad wat stadig loop. ’n Pad wat deur stilte gaan. ’n Pad wat uiteindelik by ’n leë graf eindig.

En miskien is dit hoe nuwe dinge begin. Juis met die erkenning dat ons vir God nodig het.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: