Kaapstad: ’n Staptoer deur tyd en teenstrydigheid

DJ Muller

Op 22 Julie 2026 het die historiese strate van Kaapstad as ’n lewende klaskamer gedien vir die sinodale personeel van Stellenbosch en Wellington. Ons roete was eintlik baie kort: ’n wandeling tussen die Groote Kerk en St. George’s Katedraal. Maar in die skadu van hierdie merkwaardige geboue lê daar lae van die geskiedenis.

Terwyl die prag en gewyde stiltes van die katedraal en kerk ’n gevoel van kontinuïteit bied, was daar vir my ‘n uitdaging opgesluit in die kontraste op die sypaadjies buite die geboue. Dit dwing my tot ’n ongemaklike selfondersoek: Wat is my morele blindekolle van 2026? Wat kyk ek vandag mis wat toekomstige geslagte sal laat frons?

Binne die mure van die Groote Kerk weerklink die verhaal van Krotoa, die Khoekhoen-meisie wat deur die koloniste ‘Eva’ genoem is. Sy was die eerste inheemse bekeerling wat in 1662 gedoop is, en het as tolk en bemiddelaar vir Maria van Riebeeck opgetree tussen twee onversoenbare wêrelde. Sy is in 1674 gebroke en oorgelewer aan alkohol op Robbeneiland oorlede – ‘n lewe wat deur die stelsel gebruik en toe afgeskryf is.

Tydens ons toer deur die Groote Kerk het Ds. Riaan de Villiers oor ‘n historiese realiteit gedeel wat my hard teen die bors gedruk het. Hy het vertel van ’n boom wat tot so onlangs as ’n honderd jaar gelede nog buite die kerk gestaan het. Aan hierdie einste boom is slawe vasgebind terwyl hul eienaars binne die kerk gesit het om God te aanbid.

Die ironie is skreiend: die “beeld van God” is buite aan ’n stam vasgeketting, terwyl die eienaars (ook beeld van God) binne sing van verlossing. Riaan worstel self met die vraag hoe dit destyds as “aanvaarbaar” beskou kon word. Hoe kon mense week na week verby daardie boom stap, moontlik selfs die slaaf se oog vang, en dan steeds ongestoord die drumpel van die heilige instap?

Ons stappie vanaf die Groote Kerk na St. George’s Katedraal, waar ons ’n middagmis bygewoon het, het bewys dat 2026 sy eie vorme van blindheid kweek. Die sypaadjies pols met ekonomiese teenstrydighede. Aan die een kant sien mens besigheidsmense met aktetasse en ’n regsgeleerde wat in ’n statige toga stap. Aan die ander kant is daar die rou werklikheid van oorlewing: betogers wat met vlae waai teen die onderdrukking in Palestina, en klein stalletjies waar mense sigarette en koeldrank verkoop in ’n desperate stryd teen armoede.

Dit is ’n ontnugterende ervaring. Om van die een katedraal na die ander te beweeg, beteken dat jy fisies verby uiterste behoefte en diepgesetelde ongeregtigheid stap. En tog, net soos die kerkgangers van honderd jaar gelede, loop ek dikwels “onaangeraak” daarby verby op pad na my eie geestelike of sosiale bestemmings.

Die 100-jaar Vraag: Waaroor gaan mense dan frons?

Toekomsstudies leer ons dat elke generasie glo hulle is aan die “regte kant” van die geskiedenis. Maar as ons vandag met afsku terugkyk na die slaweboom, moet ons onsself afvra: Waaroor gaan die mense van 2126 met dieselfde verbystering na ons kyk?

Wat is die dinge waarby ons vandag so gemaklik verbyloop?

Wat is ons moderne “slaweboom”?

Krotoa se verskeurdheid herinner my daaraan dat mense dikwels die prys betaal vir die gemak van ’n stelsel wat weier om hulle werklik te sien. Die plek waar die slaweboom buite die Groote Kerk gestaan het, is ’n monument aan ons vermoë om God te wil aanbid terwyl ons té gereeld die lyding van ons naaste ignoreer. Die uitdaging vir ons in 2026 is om die “onaangeraaktheid” af te skud. As ons vandag bloot verby die armoede en ongeregtigheid in ons strate stap op pad na ons eie “middagmis,” is ons morele blindheid dan werklik enigsins anders as dié van die mense honderd jaar gelede?

Wat sal die mense van 2126 van mý sê?

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: