Nederige diakonaat: Ons weet nie altyd nie… en dis okay!
👤 Karla Smit
Deuteronomium 24:17-22 (die Woord waarin ons gewandel het)
18“Onthou dat jy ‘n slaaf was in Egipte, en dat die Here jou God jou daaruit vrygekoop het. Dit is waarom ek jou beveel om so op te tree.”
‘n Nederige aanpak tot diakonaat
As ek terugkyk en peins oor die twee dae wat ons saam deurgebring het by die Gemeenskapsdiakonaat Fasiliteringsopleiding, besef ek dat ons ‘n Emmaus-belewenis (Lukas 24) gehad het.
Op Donderdag en Vrydag, 24-25 Julie 2025, het ‘n groep van 10 persone op Clanwilliam bymekaargekom vir die plaaslike Gemeenskapsdiakonaat Fasiliteringsopleiding. Die fasiliteerders was Frederick Marais en Melanie Thirion. Die uitnodiging was aan alle leraars, kerkraadslede en lede van barmhartigheidskommissies gerig.
Ek het die voorreg gehad om ons gemeente se voorsitter van Diens van Barmhartigheid, Carinie van der Westhuizen, saam met my na die opleidingsgeleentheid te neem. Dit was goed om ook ‘n gemeentelid se stem en gedagtes rondom diakonale werk in ons gemeente en gemeenskap te kon hoor. Haar teenwoordigheid het my gereeld herinner dat ons mekaar nodig het. Dit was eintlik van die staanspoor af duidelik tussen die groep dat gemeenskapsdiakonaat nie in isolasie kan plaasvind nie, maar dat verhoudings van kardinale belang is. Dit was egter ook van die fokuspunte van die opleiding gewees – dat om hande saam te vat, verhoudings, netwerke, vennootskappe is die sleutel.
Ons was gevra om in twee groepe te verdeel waar elkeen ‘n beurt gekry het om ‘n diakonale uitdaging wat op ons voorgrond tans is, te noem, waarna elke groep een persoon se verhaal as gevallestudie vir die twee dae moes kies. Tydens die twee dae het ons saam oor die spesifieke uitdagings gedink, beplan, na mekaar geluister, en kon ons ook eerlik vir mekaar sê: “ons weet nie”. Die hele proses waardeur ons gewerk het se doel was om ons toe te rus om dit ook terug na ons kontekste te neem en ons gemeente te begelei.
‘n Belangrike aksie wat ons net weer vir mekaar herinner het, was om diep te luister. Wanneer iemand oor jou pad kom, moet ons onsself inoefen om aandagtig te luister, voordat ons wil begin help – en dikwels geneig is om die “hero” status te bereik. En dit sien ons hoe Jesus geleef het. Jesus het gereeld by mense stilgestaan, aandagtig geluister en die mens raak gesien. ‘n Vraag wat keer op keer by my opgekom het, was: Deur watter bril kyk jy na mense wat in nood is, behoeftig is?
Een van die grootste rolle wat ons as leraars in ons gemeente en gemeenskappe speel, is om ‘n getuie te wees (“to bear witness”). Die Here roep self Sy kinders, stuur hulle en gebruik ook die kerk, gemeentes om deur hulle die toerustingswerk te doen. Ons getuig van God se werk in en met ons en ander. Dit is God wat ons in beweging bring, wat ons herinner wie ons is en waarvandaan ons kom (Deut. 24:18); dit is God wat ons oë versag en ons harte laat warm word.
Soos wat Jesus “op pad” was met die Emmausgangers (en ook elke dag met ons), nooi Hy ons uit om op pad met elke persoon – elke beelddraer van God – te wees, saam mekaar se hande te neem, sterk te maak tot God se eer. Só onthou ons wie God is en wie ons is.



