Nkosi sikelel’ Afrika: ’n Gebed in aksie in Ceres
👤 Wilmi Wheeler
Nkosi sikelel’ Afrika – God seën Afrika. Ons sing dit so dikwels, maar bedoel ons die woorde in hierdie gebed wanneer ons dit uit volle bors langs die sportveld, by ’n saalopening of parlementsvergadering sing? Hierdie gebed wat die kern van ons hoop vir Suid-Afrika verwoord. Ons hoop vir ’n nasie waar geregtigheid en vrede om elke hoek en draai tasbaar is. Waar kinders hand-aan-hand speel in strate wat skoon is van vrees en gevul is met lag. Ouers wat met trots hul families voed omdat hulle werk het wat hul waardig laat voel. ’n Gemeenskap waar ons mekaar in die oë kyk en groet met respek, waar ons vir mekaar luister en waar ons saamwerk vir ’n beter toekoms.
Die #100DorpeDialoog-gespreksessie, gefasiliteer deur dr. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG), in Ceres was só ’n gebed in aksie – ’n roep na eenheid en oplossings, gebore uit ’n diep liefde vir ons land en sy mense.
‘n Groep leiers, onderwysers, ma’s, besigheidseienaars, regeringsamptenare, gemeenskapswerkers en inwoners van hierdie streek het bymekaargekom om oor hierdie drome te praat. Hulle het om tafels gesit, stories gedeel, geluister en begin droom oor hoe Ceres ’n lig kan wees in ’n nasie wat dikwels oorweldig voel deur sy uitdagings.
Ons praat baie, maar luister ons rêrig?
In Suid-Afrika is daar baie stemme, maar min regte gesprekke. Ons praat dikwels verby mekaar, vasgevang in ons eie narratiewe en aannames. Die aanhaling wat deur die dialoog as rigtingwyser gebruik is, is: “Mag jy die moed hê om op te staan en te praat, maar ook die moed hê om te gaan sit en te luister.”
Om op te staan en jou stem te laat hoor, vra moed. Dit beteken om ongemaklike waarhede te deel en ongelykhede the ontbloot. Maar luister vra dieselfde, indien nie meer nie. Dit vra dat jy jou eie vooroordele opsy moet skuif en iemand anders se pyn en hoop moet probeer verstaan. Hierdie moed om werklik te luister, was die grondslag van die gesprekke in Ceres.
’n Ongelyke Suid-Afrika
Een van die groot temas wat tydens die dialoogsessie na vore gekom het, was die ongelykheid wat Suid-Afrika verdeel. Onderwys, spesifiek in township-skole, is een van die areas waar hierdie ongelykheid die duidelikste is. ’n Leier uit die streek vertel dat kinders in minderbevoorregte gemeenskappe nie dieselfde geleenthede as hul eweknieë in hoofstroomskole het nie. Hierdie kinders kry nie die kans om hulself ten volle te ontwikkel nie en dit hou direkte verband met werkloosheid, armoede en sosiale onrus.
’n Skoolhoof uit Wolseley het vertel hoe dissipline en respek, wat eens hoekstene van onderwys was, in baie skole vervaag het. Hy het die belangrikheid beklemtoon van hoe kinders grootgemaak word – nie net deur onderwysers nie, maar deur ouers en gemeenskappe. Dit is hier waar die moed om te luister krities is. Hoe kan ons saamwerk om die waardestelsel van ons gemeenskappe te herstel?
Maar, daar is hoop.
Die oplossing lê nie net in klaskamers nie, maar in die harte van gemeenskappe wat saamwerk. Die dialoog het planne bespreek om beheerliggame te bemagtig, mentors van buite in skole te bring en veral om hoop in ons jeug te plant. Want, soos een deelnemer opgemerk het: “Gee die jeug ’n aandeel in die toekoms van die land en hulle sal deel van die oplossings wees.”
Suid-Afrika is getraumatiseerd
Suid-Afrika dra die letsels van ’n traumatiese verlede en dit bly brand in die hede. “As jy niks het nie,” het iemand gesê, “gee jy nie om nie. Geen ma, geen pa, geen opvoeding, geen geld, geen werk – geen hoop.” En dit is die harde realiteit vir soveel van ons mense. Hierdie siklus van trauma bly die wortel van baie van ons land se probleme – van armoede tot misdaad en geweld.
Maar daar is ook stories van oorwinning oor trauma. Een deelnemer het vertel hoe hy in die ou bedeling gebore is, maar geweier het om sy ouers se woede na sy eie kinders oor te dra. Hierdie persoonlike keuse het die potensiaal om generasies te verander. Want genesing begin by die keuse om anders te wees – om hoop te kies bo bitterheid en om die verlede nie die mag te gee om te bepaal wat kom nie.
Suid-Afrika sukkel met vertroue
Die dialoog het ‘n belangrike waarheid beklemtoon: Daar is ’n krisis van wantroue in ons samelewing. Politici praat te veel en doen te min en gemeenskappe voel afgesny van die mense wat veronderstel is om hulle te lei.
In ’n samelewing waar mense toenemend kwaad is vir mekaar, het respek ’n skaars kommoditeit geword. Tydens die gesprekke is opgemerk dat respek nie begin deur sommer maar net respek vir ander mense te hê nie, maar dit begin by respek vir jouself. “Hoe verander ek my eie denke?” het een deelnemer retories aan die groep gerig. Dit begin by die eenvoudige, maar kragtige daad om te groet, om mense in die oë te kyk en om nie bang te wees vir mekaar nie.
Maar daar is een manier om hierdie gaping te oorbrug: deur stories.
“Luister na die stories wat ons nie noodwendig hoor nie,” het Jandré Viljoen, predikant van NG Gemeente Ceresvallei, gesê. “Ons weet nie altyd wat om te doen nie, want ons mis dinge onbewustelik. Maar ons kan begin deur te luister.”
Die groep het opnuut besef hoe belangrik dit is om na die stories van ander te luister, veral dié wat ons normaalweg miskyk. Elke storie is ’n brug – oor wantroue, oor vrees, oor onkunde.
Stories bou boonop nie net empatie nie; dit herstel menslikheid. Dit is deur stories dat ons mekaar se werklikhede begin verstaan en weer leer hoe om respek vir mekaar te hê.
Die kerk se rol in ’n Suid-Afrika wat sukkel
Die gesprek het ook die kerk se rol beklemtoon as ’n noodsaaklike bondgenoot in gemeenskapsontwikkeling. Kerkleiers en organisasies soos Badisa kan help om kinders en gesinne te ondersteun, veral in dorpe waar daar te min maatskaplike werkers is. Die kerk kan ’n veilige ruimte wees waar genesing en groei moontlik is.
Maar dit is nie net die kerk nie. Dit is ons almal. Ons moet ons gemeenskappe ontmoet waar hulle is en saamwerk om die siklus van trauma en wanhoop te breek.
Daar is hoop vir die toekoms
Ceres, met sy vrugbare grond en sterk gemeenskapsbande, is die perfekte plek om te begin. Die #100DorpeDialoog is nie net ’n gesprek nie; dit is ’n beweging wat ons herinner dat ons verantwoordelikheid het vir ons toekoms. Ons het dalk nie al die antwoorde nie, maar ons kan dink, droom en doen.
Soos wyle Jaap du Randt gesê het: “As ons in solidariteit leef met die lyding, is daar geen rede waarom ons nie kan verenig nie.” Dit begin met moed. Moed om jou stem te laat hoor. Moed om stil te wees en te luister. En moed om te glo dat verandering moontlik is.
Suid-Afrika is nie onherstelbaar nie. Die hoop lê in die mense wat bereid is om saam te sit, saam te luister en saam te werk. Ceres is ’n voorbeeld hiervan – ’n dorp waar hoop in aksie verander. En as Ceres kan, hoekom nie die res van ons nie?