Om te treur kan ons help om gesond te word
👤 Braam Hanekom
Almal van ons treur een of ander tyd. Meestal oor ʼn persoonlike verlies. Die aard en omvang daarvan kan baie verskil. Om te treur is nooit lekker nie, maar nie net sleg nie. Iemand het op ʼn keer gesê dat trane ʼn reënboog in die siel kan skep.
Die Bybel praat ook dikwels oor ʼn ander vorm van treur. Dit is wanneer ons smart ervaar oor ʼn situasie om ons. Nehemia en ander profete het dikwels getreur oor die situasie waarin die volk hulle bevind het. Jesus het oor Jerusalem getreur. Die Psalmdigters het dikwels getreur. ʼn Baie groot getal psalms staan bekend as klaagpsalms. Nadenke oor rou, verlies en gebrokenheid is baie eie aan Bybelse tradisies. Hoe vreemd dit ook al mag klink, daar is iets gesonds aan ʼn treurende, reflekterende bekommernis oor die stukkende wêreld om ons. Die skepping om ons sug immers self ook (Romeine 8).
Dit is nie sleg om te treur oor hawelose kinders en bejaardes nie. Ook nie sleg om te treur oor honger landsburgers, vuil stede en dorpe, besoedelde riviere, geweldgeteisterde woonbuurte, verslaafde jongmense, vernietigde instellings en infrastruktuur en korrupte politici nie. Ek treur saam met baie Suid-Afrikaners oor baie dinge, maar meer as enige iets anders oor stukkende mense wat hoop verloor het.
Ons mag en moet treur en ons lot by God bekla. Die klaagpsalms doen presies dit. Ons sien dat Job se vriende met hom oor God praat. Dit help hom weinig. Job praat mét God. Baklei selfs met God, maar dit maak al die verskil. Ons vra maklik waar God is as ons om ons kyk. Bybelse klag worstel mét God, ook oor die wêreld om ons.
Die keerkant van treur behoort egter altyd hoop te wees. Ons treur wel, maar nie soos mense sonder hoop nie. (1 Tess 4:13) Natuurlik verwys Paulus hier na die dood, maar sy verwysing na Christus se opstanding het beslissende implikasies vir ons treur oor die stukkende dinge om ons.
Hoop is ʼn werkwoord. Hoop vra moed wat ons laat opstaan en praat oor dit wat stukkend en verkeerd is, maar vra ook die moed om soms te sit en eerlik te luister na ander met wie ons verskil. Dit is altyd hartseer wanneer mense nie meer die woorde het om te beskryf wat om hulle aan die gebeur is nie. Dalk moet ons fyner na mekaar luister om te verstaan. Nie net oor hoe om die slaggate reg te maak nie, maar hoe om mekaar te help om gesond te word en meer menslik te word.
In dié verband dink ek aan die woorde van Steve Biko: “Die groot magte van die wêreld het aan die moderne wêreld ʼn industriële gesig gegee. Mag ons (Afrika) help om aan die wêreld ʼn meer menslike gesig te gee.”