Wanneer die lewe ons tref met golwe van onvoorsiene seer, is dit nie ons eie krag wat ons kop bo water hou nie, maar die uitgestrekte hande van ‘n geloofsgemeenskap wat saamstaan. In die klein dorpie van Piketberg het die klank van musiek en die ritme van voete op ‘n dansvloer, meer as net vreugde en vrolikheid gebring; dit het die finansiële las van ’n familie wat deur ’n tragedie getref is, ligter gemaak.
Marli*, ’n sewejarige dogtertjie, se lewe het onherroeplik verander na ’n tragiese motorongeluk wat ernstige breinbeserings veroorsaak het. Die lang en uitmergelende hospitaalverblyf wat nou haar werklikheid is, het ‘n diepe seer en onsekerheid oor haar toekoms gebring. Hierdie pyn het Simoné van Niekerk en haar vriendin Annelize Coetzee diep geraak. In hulle soeke na ’n manier om hoop en hulp te bied, het die idee van ’n fondsinsamelingsdans in die kerksaal ontstaan – om Marli se stryd ’n bietjie ligter te maak.
Simoné het met groot dankbaarheid teruggekyk op die sukses van die geleentheid. Sy het met die NG gemeente Piketberg gesels oor die inspirasie agter die fondsinsameling, die uitdagings wat hulle in die gesig gestaar het en die buitengewone gemeenskapsgees wat deur elkeen wat betrokke was, uitgeleef is.
1. Wat het julle geïnspireer om ‘n fondsinsamelingsdans by NG Piketberg te hou? Hoe het die idee ontstaan?
Marli en my dogter is al maatjies vir jare – sedert net so voor twee jaar oud af. Sy is soos nog ‘n kind vir my. Haar ongeluk en waardeur haar ma moes gaan en nog sal moet gaan, het my hart erg geruk. My jonger suster is liggaamlik gestremd gebore, met net een arm. So, sy was die eerste twaalf jaar van haar lewe baie in die hospitaal en deur twee baie groot operasies. Ek weet watter onkostes dit het om so lank in die hospitaal te wees. Ek was ook bewus van die feit dat dit oor baie meer as net mediese uitgawes gaan en dat daar baie ander ekstra uitgawes is.
Ek en Theresa (‘n vriendin van my) het een dag gesels oor Marli* se mamma se situasie en die idee gekry dat ons iets wil probeer doen om ‘n ekstra geldjie in te samel om te help met hierdie mediese onkostes. Na twee probeerslae op ander funksies wat misluk het, het ons op die idee vir ‘n dans gekom. Almal hou tog van ‘n lekker dans!
2. Kan jy ‘n spesifieke oomblik of reaksie deel wat jou die meeste geraak het voor en tydens die dans?
Wat my regtig verras het, was die vrygewigheid van ons borge en mense wat sommer net kaartjies gekoop het om ‘n bydrae te maak. Daar was ‘n anonieme dame wat nie haar naam wou gee nie wat byvoorbeeld R700 oorbetaal het.
Gedurende die dans het ek en Annelize vir ‘n oomblik gaan stilstaan en in dankbaarheid gestaan en kyk hoe Marli* se mamma ontspan en vir die eerste keer in maande net ‘n bietjie kon lag en laf wees. Na al die trane, stres, min tot geen slaap en baie bid, kon Marli* se mamma net vir ‘n paar ure weer ‘normaal’ voel. Dit het amper die hele aand meer die moeite werd gemaak as die geld wat ons vir haar kon oorbetaal na die dans.
3. Watter boodskap wil julle hê die gemeenskap van Piketberg (en breër) moet neem uit die dans?
Die boodskap wat ek graag sal wil oordra, is dat ‘n mens nie baie hoef te gee om te help nie en dat wanneer ons saamstaan as ‘n gemeenskap ons ‘n verskil kan maak, al voel dit hoe klein. As ons net bietjie minder vasgevang word in wat alles in ons lewens ‘verkeerd’ gaan, sal ons besef dat daar soveel mense om ons is wat dit dalk moeiliker as ons het en dat ons elke dag moet opkyk en dankie sê.
4. Hoe sien jy hierdie tipe gebeurtenis as deel van die gemeente se rol om God se liefde en sorg aan die gemeenskap te wys?
My ma het eenkeer vir my gesê dat dit nie saak maak hoe goed jy die Bybel ken of hoeveel kursusse jy gedoen het oor die Bybel nie, as mense nie in jou manier van lewe vir God kan sien nie, maak niks van dit saak nie. Mense moet Jesus in jou kan sien. Dit is ons werk om sy liefde en omgee uit te leef.
Daar is regtig baie mense daar buite wat sukkel en wie se omstandighede hulle dalk laat twyfel of God regtig omgee en ons is daar om hulle te help glo dat alles ‘n doel het en dat Hy aan ‘n groter plan werk en hulle net moet aanhou glo en moed hou.
5. Waarom die kerksaal en wat was die reaksie wat jul gekry het?
Die kerksaal op Piketberg was ons laaste uitweg nadat ons geen ander opsie gehad het nie. Ek het met baie hoop vir die kerkraad genader en van ons planne en doel vertel vir die funksie. Ons het geweet daar is ‘n moontlikheid dat dit afgekeer sou word, maar met geloof en gebed geglo dat ons gehelp sal word. Die positiewe reaksie van almal het ons verwagtinge ver oortref.
*Skuilnaam is gebruik.