Seisoen van Skepping: klaar, maar nie verby nie
👤 Wilmi Wheeler
Die Seisoen van Skepping lê nou agter ons. Vir vier weke het gemeentes wêreldwyd liturgieë, gebede en eredienste gevul met die kleure en klanke van skepping. Maar nou? Nou staan ons weer aan die rand van die alledaagse. Die wêreld waar herwinningstasies stof vergader, plastieksakke in die wind wapper en waar jy jouself betrap dat jy sommer haastig ’n blik in die verkeerde drom gooi.
Maar die waarheid is: die skepping neem nie ’n seisoen af nie. Aarde gaan nie op sabbatsverlof wanneer die kerkkalender draai nie. Ons bly geroep om die aarde te versorg. Al staan ons knieë vol grasvlekke en ruik ons hande permanent na kompos.
Jacques Strydom, predikant by Brackenfell-Wes, verwoord dit só:
“Om groener te leef gaan verder as net hoe jy jou eie rommel hanteer, maar om pro-aktief te wees en ook ’n publieke stem te hê. As gelowiges roep die Here ons om hande te vat in ons gemeenskappe en ’n positiewe verskil te maak. Ons het die geleentheid om verhoudings te bou met ons plaaslike gemeenskap, besighede en munisipaliteite. Ons onderskat dikwels ons netwerk en potensiaal!”
Met ander woorde: dit help nie ons kyk net na ons eie tuin nie. Jou tuin is altyd deel van ’n groter landskap. En as die buurman se tuin brand, gaan joune ook nie lank gespaar word nie.
Jacques vertel van Kleinmond se eko-bediening wat vir ons as ’n inspirasie kan dien. Wat in 2019 as ’n klein groepie begin het, het intussen tot meer as 60 lede gegroei. Gelowiges wat glo dat hul verhouding met die Skepper nie kan eindig by ’n Sondagpreek nie, maar uitvloei na hoe hulle optree teenoor die natuur. Hulle tel rommel op, sluit aan by die munisipaliteit se herwinningsinisiatiewe en skep ruimte waar God in die natuur beleef kan word. Hulle het selfs ’n span wat spesifiek met owerhede skakel om só ’n groter verskil te maak. Dit is kerk-wees buite die kerkmure.
En miskien is dit die punt. Ons dink soms ons is klein: net een persoon wat plastiek bottels sorteer of ’n brief aan die plaaslike koerant skryf. Maar onthou Jacques se woorde: ons onderskat dikwels ons netwerk en potensiaal. Jou enkele aksie kan ’n vonk wees wat ander aan die gang sit. Jou stem kan ’n ander se gewete wakker maak.
So, hoe lyk dit prakties? Jy kan begin deur te vra: Waar kan ek hier, in my dorp, ’n verskil maak?
-
Skakel in by bestaande inisiatiewe – dalk is daar reeds ’n eko-groep in jou buurt.
-
Begin iets eenvoudig: ’n papier-herwinning by jou kerk of skool.
-
Gebruik jou pen – of jou WhatsApp-status – om bewustheid te kweek.
-
Skep geleenthede vir mense om God in die natuur te beleef: stap, bid, kuier en luister na hoe skepping self getuig.
Die Seisoen van Skepping mag amptelik verby wees. Maar die voëls hou nie op sing nie. Die son draai nie weg nie. En jy? Jy bly geroep om saam met God tuin te maak in hierdie wêreld.


