“Seppie en die Donker”: Kinderteater raak harte dié Pinkster

👤 Christine Kruger

Voordat ek by Proteahoogte Gemeente begin werk het, het Christo (Botha) vir my probeer verduidelik wat die kinderteater is en hoekom hulle dit doen. Eers toe ek deel van die gemeente geword het en die voorreg gehad het om die kinderteater in sy volheid te ervaar, het ek die diepte, uniekheid en impak daarvan begin verstaan.

Daar is iets aan hierdie manier van Pinkster vier wat jou anders laat loop — iets wat jou ligter maak, maar jou terselfdertyd ook dieper anker. Jy stap weg van die kinderteater en jy weet: daar het iets gebeur. Daar is ’n kollektiewe gevoel van opgewondenheid, van dankbaarheid — en ek kan met alle eerlikheid sê: deur dit het ek vol geword. En ek dink dit is wat genade genoem word. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Lig wat deur mense werk.

Vanjaar het ons die storie van Josef en sy drome vertel, maar vanuit ’n ander oogpunt. Daar was nuwe name en nuwe klanke. Die produksie se naam was Seppie en die Donker. Ons het probeer om so getrou as moontlik aan die Bybelverhaal te bly — Josef wat drome droom, broers wat jaloers raak, ’n put, ’n bietjie mensehandel, ’n vreemde land. Maar ons het ook probeer om die verhaal lewendig te maak: deur humor, deur vrees, deur vreugde — en natuurlik deur die element van verrassing. Ons het reusepoppe gebruik om die drome oor te vertel: die maan en sterre met hul eie gesigsuitdrukkings en droomagtige lywe wat oor die verhoog beweeg het.

Ons skrywer het selfs ’n liedjie spesiaal vir die vertoning geskryf — eenvoudig en troostend, en gou op almal se lippe:

Al is dit donker, al is dit nag,
die sterre flonker, dit word weer dag.

Wanneer Seppie alleen, bang of bekommerd was, het hy hierdie lied gesing. Om homself — of ander — te troos. Dit het ’n mantra geword, nie net vir die karakter nie, maar vir ons almal. ’n Herinnering dat God in die donker by ons is. Dat donkerte nie die einde is nie. Dat dit weer dag word.

Maar die ware “magic” van kinderteater lê nie net in wat op die verhoog gebeur nie. Dit lê in die gemeenskap wat daardeur gevorm word — van jonk tot oud, van teks tot klank, tot saam eet voor die vertoning. Daar is verskillende hande wat saam werk en droom om die produksie ’n realiteit te maak. En dit is dalk die vreemdste ding: hoe alles in plek val sonder dat enigeen regtig in beheer is. Nie die dominees nie, nie die skrywers nie, nie die regisseurs nie. Jy besef: hierdie projek is in God se hande. Ons is net deel daarvan.

Wat Kinderpinkster só waardevol maak, is dat dit nie net ’n geleentheid is om te kyk nie, maar om deel te neem. Dit is kerkwees wat nie net vanaf ’n kansel gebeur nie, maar op ’n verhoog, in ’n storie, tussen verf, kostuums en vriendskap. Die kinders van die gemeenskap kry ’n geleentheid om Bybelverhale te beleef — met hul lywe, met hul stemme, met hul oë. En die grootmense kry weer toestemming om kind te wees.

Ons doen dit anders, want ons glo Pinkster behoort aan ons almal. Nie net aan dié wat preek nie, maar aan elkeen wat verf, sing, lag, speel, huil. Dié wat sit en kyk. Dié wat kom help opruim. Dit is ’n voorreg om deur te speel en stories te vertel, om God te dien. Om in iets wat lig is, heiligheid raak te sien. Om saam te sê: Al is dit donker — dit word weer dag.

*Christine Kruger is leraar by Proteahoogte Gemeente.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: