Simondium Familiekerk word kinderhuiskinders se familie

Mariëtte Odendaal

“Wat ons as Simondium Familiekerk laat aanhou betrokke bly, is die geleentheid om op ’n betekenisvolle en langtermyn manier deel van kinders se lewens te wees,” vertel ds. Nadia Muller.

Ons hoor dikwels uitdrukkings soos “It takes a village to raise a child” of “Umntu ngumntu ngabantu” (’n mens is ’n mens deur ander mense); gesegdes wat die belangrikheid van ’n kind se vormingsjare beklemtoon en die onontbeerlike rol wat ons as volwassenes daarin speel.

Maar hoe gemaak as ’n kind se menswees en selfwaarde sonder hierdie ouerleiding moet ontwikkel? Wie versorg, beskerm en is die kompas vir hulle in hierdie jarelange proses wat van soveel kardinale belang is?

Daarom is dit van onskatbare waarde as gemeentes soos Simondium Familiekerk by kinderhuise soos Huis Andrew Murray (HAM) betrokke raak.

Ons het met die predikant van Simondium, ds. Nadia Muller, gesels om meer oor dié gemeente se betrokkenheid by HAM uit te vind.

Nadia, vertel eers kortliks iets oor jouself.

Ek is in Kimberley gebore en het in die kusdorp, Amanzimtoti, suid van Durban, grootgeword.

Na skool het ek teologie aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, waar ek ook my man, DJ Muller, ontmoet het. Ons is in 2010 getroud en het van 2014 tot 2019 in Prieska bedien. In 2020 het ons na Simondium verhuis, waar ons tans saam met ons twee dogtertjies woon.

Ek dien as predikant van Simondium Familiekerk, terwyl DJ by die sinode van Wes-Kaapland (Kaapkerk) werk.

Ek is passievol oor mense, die handhawing van gesonde verhoudings en die voorreg om saam met ander ’n verskil in die wêreld te maak.

Julle gemeente is al jarelank betrokke by HAM. Vertel meer.

HAM is een van die Wes-Kaapse kinderhuise van BADISA waarby ons gemeente al meer as 25 jaar betrokke is; ’n plek waar 155 seuns tussen die ouderdomme van 1 tot 18 jaar deur Christelik-gefundeerde ondersteuning, beskerming en ontwikkeling versorg word.

Wat ons as Simondium Familiekerk laat aanhou betrokke bly, is die geleentheid om op ’n betekenisvolle en langtermyn manier deel van kinders se lewens te wees. Om die seuns te sien grootword, hul uitdagings en oorwinnings te deel en saam met hulle die lewe te vier, is ’n groot voorreg.

Hierdie betrokkenheid herinner ons telkens daaraan dat liefde nie net iets is wat gesê word nie, maar iets wat gelééf word.

Simondium Familiekerk en HAM

Wat behels julle gemeente se getrokkenheid alles?

Ons gemeente is betrokke by Huis Lourier, een van die seunshuise by HAM, waar daar tans 13 “boeties” (seuns) woon.

Ons ondersteuning sluit verskeie praktiese en persoonlike projekte in. Ons voorsien byvoorbeeld maandelikse sakgeld aan die kinders, hou verjaarsdagpartytjies en koop twee keer per jaar nuwe klere vir die seuns.

Die kinders sluit ook gereeld by ons gemeente aan vir kinderdienste, die basaar, Kerssangdienste en ander spesiale geleenthede; iets wat hulle deel laat voel van ons gemeenskap – dat hulle behoort.

Deur die jaar reël ons ook uitstappies waar ons saam kinderjare-herinneringe (childhood memories) kan help maak. Ons het ook ’n groep omgee-mammas wat elkeen vir ’n spesifieke seun bid en op ’n persoonlike vlak belangstelling in sy lewe toon.

Wanneer die huismoeder spesifieke behoeftes identifiseer, help ons waar moontlik met items soos beddegoed, handdoeke of opknappings. Van ons lidmate skenk gereeld vars vrugte, terwyl ons gemeente ook ’n projek het waar smere soos konfyt, grondboontjiebotter, ensovoorts asook versnaperinge vir skooltoebroodjies geskenk word.

Ons doel is nie net om materiële behoeftes aan te spreek nie, maar om vir die seuns te wys dat hulle gesien, geken en geliefd is; hulle is belangrik en maak saak.

Watter impak of transformasie het jul gemeentebetrokkenheid al teweeggebring?

Die grootste impak van hierdie betrokkenheid lê nie in geld, klere of projekte nie, maar in die verhoudings wat oor die jare heen gebou word.

Vir my is die kosbaarste deel van ons betrokkenheid by HAM om tyd saam met die seuns deur te bring – om saam te speel, te lag, stories te deel en deel van mekaar se lewens te word. Kinders het nie net hulp nodig nie; hulle het mense nodig wat opreg omgee en wat daar bly wanneer die aanvanklike nuutheid verby is.

Een van die seuns het eenkeer gesê: “Wanneer ek by Simondium kom, voel dit of ek by my familie kuier.”

’n Omgee-ma van die gemeente beskryf dit so: “Ek het gedink ek gaan ’n verskil in ’n kind se lewe maak, maar uiteindelik was die grootste verskil in my eie lewe. Dankbaarheid, nederigheid en liefde is die dinge wat deur my hart gaan as ek saam met my ‘boetie’ kuier.”

’n Ander gemeentelid vertel: “Hierdie projek het my geleer dat liefde dikwels baie eenvoudig lyk; dit is om op te daag, weer en weer, en vir iemand te wys hulle is belangrik.”

Dit is die ware transformasie van HAM: nie net veranderde omstandighede nie, maar veranderde lewens – aan beide kante van die verhouding.

Simondium Familiekerk

Hoe kan mense HAM ondersteun?

Finansiële ondersteuning help HAM om kinders die beste moontlike huiservaring te bied.

Daar is verskeie fondsinsamelingsprojekte deur die jaar, insluitend programme wat jongmense ondersteun wanneer hulle die kinderhuis verlaat en hul eie pad in die wêreld begin stap.

Mense kan ook hul tyd en talente gee. ’n Speletjiesdag, kunsaktiwiteit, uitstappie of vakansieprogram kan ’n ongelooflike verskil in ’n kind se lewe maak. Soms is ’n paar ure se opregte aandag net so waardevol soos ’n finansiële bydrae.

Daar is selfs geleenthede om as naweek- of vakansie-ouers betrokke te raak, waar kinders tyd saam met gesinne kan deurbring en die warmte van ’n huisgesin kan ervaar.

Elke bydrae maak saak. Elke verhouding maak saak. Elke kind maak saak.

Besoek Huis Andrew Murray se webblad vir meer inligting of volg hulle op Facebook. Rig enige navrae aan Karen Petersen by info@andrewmurray.org.za.

sinani

Hierdie storie vorm deel van Sinani

Sinani is ’n storie-reeks van Diensgroep Diaconia wat gemeentes se verhale van diensbaarheid, barmhartigheid en saamleef dokumenteer en vier. Sinani beteken “Ons is met julle” en nooi die kerk om weg te beweeg van doen vir mense na leef saam met mense.

Deur hierdie verhale ontdek ons hoe diakonaat gestalte kry waar gemeentes langs mense staan, verhoudings bou en ook self deur dié ontmoetings verander word.

Vind meer uit oor Sinani hier.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: