Sterf met ‘n Goddelike vrede, wat ‘n seën!
👤 Wilmi Wheeler
Daar is iets misterieus aan die dood. Soms oorval dit ons skielik en soms sien ons dit van ver af aankom. Dit kruip voetjie vir voetjie nader. Dit voel of die dood met ons kat en muis speel.
Soms genees siekes wonderbaarlik en dan wil dit lyk of die dood eers gewyk het. Tog weet ons dat ons eendag gaan moet sterf; dit is onafwendbaar.
Digters het al met woorde om die dood probeer dans en komponiste het dit in requiems probeer vasvang. Dit word ‘n soeke na sin, sekerheid en vrede. Vir sommige loop dit uit op fatalisme, ‘n oortuiging dat ek na die lewe opgaan in ‘n ewige niks.
“Ek dink daarom is ek,” het Descartes gesê. As ek ophou dink; geen bewussyn meer het nie, dan bestaan ek eenvoudig nie meer nie. Ander hou vas aan die oortuiging dat ek nie ‘n liggaam met ‘n siel is nie, maar `n siel wat vir ‘n rukkie in die liggaam woon (C.S. Lewis) en dan wel voortbestaan.
Dit is ‘n algemene ervaring dat sterwende gelowiges ook angs en onsekerheid kan beleef. Hierdie gevoelens kan vererger word deur die afsondering wat baie mense tans ervaar, veral dié wat in hospitale alleen sterf. Dit is juis in hierdie tye dat die teenwoordigheid van geliefdes van onskatbare waarde is.
Christene sterf met vrede: Die ewige lewe wag
Tog is my ervaring ook dat mense na aan die dood, ‘n Goddellike vrede kan ervaar. Dit kan voor en na die afsterwe van familie en vriende groei. Paulus kon spot oor die dood en die vroeë kerk kon grappe daaroor vertel. Mense vra soms snaakse vrae oor die dood. Vir my is die wete dat God daar is, genoeg.
Die wete dat God altyd met ons is, bring uiteindelike troos en rustigheid. Die Skrif gee ons ‘n vaste hoop op die ewige lewe. Johannes 11:25-26 herinner ons aan Jesus se woorde: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe. En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Ons geloof gee ons die sekerheid dat die dood nie die einde is nie, maar eerder ‘n oorgang na ‘n nuwe en ewige lewe by God. Hierdie geloof stel ons in staat om die dood met hoop en moed in die oë te kyk, wetende dat ons veilig in die hande van ons Skepper is.
Die dood bly ‘n groot misterie, maar vir die gelowige bring dit nie net vrees en onsekerheid nie, maar ook hoop en vrede. Ons geloof in Christus en die beloftes van die Skrif gee ons die krag om die dood in die oë te kyk en te weet dat daar iets groter en ewigs op ons wag.
Geskryf deur Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis.