Street Store: Waar mense mekaar werklik raaksien

👤 Wilmi Wheeler

Daar is vir seker oomblikke wat mens nie vooraf kan beplan nie. Jy kan ’n dag se program uit jou kop uit ken. Jy kan weet waar jy moet wees, wat jy moet afneem en watter stories jy hoop om te vertel. Maar dan gebeur daar iets klein, amper onopvallend, wat jou as storieverteller se asem wegslaan.

Dit was wat met my gebeur het toe ek met my kamera deur NG Kerk Bellville-Wes se kerksaal geloop het. Hulle was die gasheer vir die Noordelike Voorstede se Street Store.

Ek het probeer om ’n foto te soek wat die geleentheid se gevoel kon verwoord. ’n Uitbeelding van ’n gemeenskap wat saamkom om iets vir iemand anders te beteken.

En toe sien ek hulle raak.

Twee vroue, bietjie eenkant, tussen die gewoel van die Street Store. Om hulle was daar beweging: Mense wat deur klere blaai, skoene wat aangepas word, vrywilligers wat help dra, vou, soek, regskuif. Iemand lag hard aan die ander kant van die saal. ’n Kind hardloop by ’n tafel verby. ’n Jas val van ’n hanger af en iemand tel dit weer op.

Maar by hierdie twee vroue het die wêreld vir ’n oomblik stilgestaan.

Street Store

Die een was ’n vrywilliger wat daardie dag gekom het om te help. Die ander ’n vrou wat op straat leef. Ek weet nie hoe hulle gesprek begin het nie. Dalk het die vrywilliger gevra of sy iets spesifieks soek. Dalk het sy gehelp met ’n kledingstuk. Dalk was dit net een van daardie eenvoudige vrae wat ’n mens vra sonder om te weet dat dit ’n deur tot verdere gesprek gaan oopmaak.

Maar toe ek hulle sien, was hulle reeds diep in gesprek.

Nie daardie vinnige, beleefde praatjies wat ’n mens soms maak terwyl jou lyf eintlik al oppad is na die volgende ding nie. Hulle het mekaar in die oë gekyk. Regtig in die oë gekyk. Die vrywilliger se lyf was na haar gedraai. Haar oë op haar. Haar aandag daar. Nie halfpad of haastig nie.

En die vrou van die straat het gepraat.

Ek het nie gehoor wat sy sê nie. Ek dink ook nie ek moes nie. Party stories behoort nie aan die hele vertrek nie. Party stories word net vir een paar ore gegee, op ’n spesifieke oomblik, omdat iemand veilig genoeg voel om dit uit haar lyf uit te laat kom.

Toe begin sy huil.

Nie groot of dramaties nie. Daardie eerlike huil wat oor ’n mens se gesig loop voor jy dit kan keer. Sy het gepraat en die trane het gekom. En ek het daar gestaan met my kamera in my hand en vir ’n oomblik nie geweet wat om te doen nie.

Want ek was daar om die dag vas te vang. Dis mos wat ’n mens doen met ’n kamera. Jy soek die oomblikke wat die storie vertel. Maar hierdie een het gevoel asof dit nie vir my bedoel was nie. Asof ek per ongeluk by iets ingestap het wat te sag is vir ’n lens.

Ek wou wegkyk.

Maar ek kon nie.

Nie uit nuuskierigheid nie. Nie omdat ek die oomblik wou “gebruik” nie. Eerder omdat ek geweet het dat hier iets gebeur het wat nader aan die hart van die Street Store lê as enige foto van rye klere ooit sou kon wys.

Die vrou het gehuil. Toe lag sy. Toe huil sy weer so half deur die lag. Die vrywilliger lag saam. Daar was ’n grappie iewers tussen die trane, iets wat die swaar vir ’n oomblik ligter gemaak het. En toe omhels hulle mekaar.

Sommer daar, tussen die tafels en hangers en sakke vol klere.

Hawelose mense word eregaste by Street Store

Ek dink baie van ons weet hoe dit voel om by ’n verkeerslig te stop en nie te weet waar om te kyk nie.

Daar is iemand by jou venster. Jy het dalk nie kontant nie. Of jy het al gegee. Of jy is moeg. Of jy voel skuldig. Of jy is bang. Of jy is net in die middel van jou dag en jy weet nie hoe om nog ’n stukkie swaarkry in jou hart te laat inkom nie.

So kyk ons vorentoe. Ons hou die venster toe. Ons maak asof ons nie sien nie. Nie altyd omdat ons koud is nie. Dalk omdat ons oorvol is.

Maar by die Street Store word daardie gewone patroon vir ’n paar uur onderbreek.

Hier word mense wat dikwels buite ons winkels, buite ons motors, buite ons gemak en buite ons gesprekke staan, ingenooi. Nie as “gevalle” nie. Nie as mense wat net moet vat wat oor is nie. As gaste. Eregaste, eintlik.

Hulle kan self deur klere soek. Hulle kan vra vir ’n ander grootte. Hulle kan ’n hemp teen hulle lyf hou en besluit of dit pas. Hulle kan skoene aanprobeer. Hulle kan iets kies wat prakties is, ja, maar ook iets waarvan hulle hou.

En dit klink dalk klein, tot jy daaraan dink hoe min keuses ’n mens oorhou wanneer die lewe jou tot op straat gestroop het.

Daardie dag was daar baie mooi foto’s om te neem. Die samewerking tussen NG Kerk Bellville-Wes, Doxa Deo Tygerberg en Doxa Deo Langeberg. Die tafels vol klere. Die mense wat help. Die hande wat dra. Die glimlagte. Die beweging van ’n kerksaal wat vir ’n paar uur ’n winkel sonder prysetikette geword het.

Maar die foto wat in my kop bly, is die een wat ek amper nie wou neem nie.

Twee vroue wat mekaar in die oë kyk.

Een wat vir ’n oomblik nie ’n hawelose vrou is nie, maar net ’n vrou met ’n storie wat te lank alleen gedra is. Een wat nie net ’n vrywilliger is nie, maar iemand wat bereid was om lank genoeg te bly sit sodat die storie kon uitkom.

Miskien is dit waar die kerk op haar beste begin. By iemand wat nie wegdraai nie.

Teen die einde van die dag sou mense met sakke klere uitstap. Daar sou minder jasse op die hangers wees, minder skoene onder die tafels, minder truie op die hope. En dit maak saak. Warm klere maak saak. Skoon klere maak saak. ’n Paar skoene wat pas, maak saak.

Maar lank nadat die tafels opgeruim is, dink ek gaan ek steeds daardie een gesig onthou met trane op haar wange, ’n glimlag wat deurbreek, arms wat om haar vou.

Omdat iemand haar raakgesien het.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: