Trump, die debat en die dialoog

👤 Braam Hanekom

Uit kommentaar en skrywes in die media die afgelope tyd, blyk dit baie duidelik dat daar groot onsekerheid bestaan of die voorgestelde nasionale dialoog dit gaan oplewer wat ons daarvan verwag. Dit beteken nie dat Suid-Afrikaners nie hul mening lug nie. Die vraag is of ons verstaan wat ware dialoog is en wat die verskil tussen debat, sosiale media en politieke geraas en ware dialoog is?

Intussen kom jaag Donald Trump toe verder die kat in die hoenderhok met sy uitvoerende bevel oor vlugtelingstatus vir die Afrikaner en uitsprake oor die verskriklike goed wat in Suid-Afrika gebeur. Binne ʼn oogwink was die ou ideologiese slagordes weer opgestel en is die gesprek witwarm aan die gang. Wie se skuld is dit alles? Wie is die oortreder en wie is die slagoffer? Binne die Suid-Afrikaanse debat gaan dit mos veral daaroor oor wie die morele hoë grond het en kan behou.

Die afgelope paar jaar was ek deel van nagenoeg 100 gemeenskapsgesprekke. Gesprekke oor wat gemeenskappe as uitdagings ervaar en wat hul diepste eksistensiële behoeftes is. Van myngemeenskappe om Richardsbaai tot die Wes-Rand, Oos-Kaap, Gqeberha en Graaff-Reinet, Springbok, Beaufort-Wes, Ceres en vele meer. Hierdie gesprekke was nie debatte nie, maar uitdrukking van die diep versugtinge en drome wat in ons mense se harte op voetsoolvlak leef. Almal gaan nie hou van wat ek sê nie, maar dit gee dalk ʼn bietjie perspektief op die huidige geraas.

“Ons soek ware geleenthede, meneer die President”

Mag ek dit dadelik duidelik stel. Ons sit met ʼn onafgehandelde proses van regstelling in Suid-Afrika. Wat tydens die koloniale tydperk en daarna in die apartheidsjare gebeur het, is onverskoonbaar. As ek net een moment in ons land se geskiedenis kon uitwis dan is dit die 1913 Natives Land Act. Ek glo nie die nuwe onteieningswet is die grootste ramp wat die land getref het nie. Ek het egter ʼn eenvoudige vraag aan die regering: Waarom lê Distrik Ses na dertig jaar nog kaal en onontwikkel? Waarom lê daar duisende hektaar onbenutte landbougrond in staatsbesit? Dit kan tog sekerlik nie op ʼn paar boere se brood gesmeer word nie.

In bykans 100 gesprekke regoor die land, was grond selde ter sprake. Onthou, die agenda word deur die gemeenskappe bepaal. Ek dink mense verstaan dat grond sonder kapitaal en vaardighede jou min gaan help. Oral is die behoefte gehoor aan groentesaad en die hulp om groentetuine te vestig. Wat wel bespreek is, was sake soos titelaktes, grond wat in trustgrond deur stamhoofde beheer word en dan onderlinge ooreenkomste met myne aangaan. Wat verder duidelik gehoor is, was die wanhopige versugting na grond waarop menswaardige behuising opgerig kan word. Die soeke na werksgeleenthede en vaardigheidsopleidings vir die jeug, is in elke gesprek gehoor.

Geweld in Suid-Afrika is verskriklik en onaanvaarbaar

In feitlik elke gesprek is die pyn rondom misdaad en geweld gehoor. ʼn Nasie kan nooit vry wees as die weerloses nog onveilig is nie. Ongeag wie skuld dit is, lyk dit of die wêreld Suid-Afrika onder ʼn nuwe vergrootglas gaan plaas. As Donald Trump bedoel het dat die geweld in SA uitsluitlik op witmense gerig is, is hy verkeerd. Veral armer gemeenskappe regoor die land is radeloos oor die moord en geweld. Die afgelope twee jaar is daar meer as 50 000 mense in Suid-Afrika vermoor. Dit is meer mense as in die hele Gaza-oorlog. Gemeet aan internasionale standaarde is dit die tweede hoogste ter wêreld. Nagenoeg 46 moorde per 100 000 mense. Ons het baie “gevaarlike plekke” soos Venezuela, Ecuador, Mexiko en Colombië, verbygesteek. Ons townships lyk soos slagvelde en bendegeweld in gebiede soos die Kaapse Vlakte het handuit geruk.

Sedert 1994 is ʼn paar duisend boere vermoor. Hierdie lewens is nie meer of minder werd as die lewens van mense in ons townships nie. Sommige wil dit afmaak as ʼn klein persentasie van die moorde in die land. Dit is ʼn bietjie meer ingewikkeld as dit. Daar word beweer dat, in die landbou sektor in Suid-Afrika, plaasmoorde meer as 500% hoër is as in enige ander landbousektor in die wêreld. Landbougemeenskappe in SA is beide in terme van beleid en fisiese beskerming, van die mees onbeskermde landbougemeenskappe ter wêreld.

ʼn Totale nuwe anti-misdaad strategie en politieke wil is nodig, Dit sluit in: Veel sterker optrede teen onwettige immigrante; ʼn gesprek in landbou self, of mense vir ʼn paar maande in diens geneem kan word en dan vir maande werkloos in die omgewing kan rondhang. Dit vra vir moeilikheid. Verder is die skep van sosiale kohesie in gemeenskappe nodig. Alarms en kameras gaan ons net sover help. Die hele gemeenskap moet beveiligers van die gemeenskap word, maar dit sal nie gebeur voor ons nie ʼn “ons” storie kan skryf nie.

Mense soek ʼn waardige blyplek en werk

Oral, letterlik oral, het ons die kreun van armoede gehoor en die versugting na ʼn waardige blyplek. Wanhopig word daar dan na ʼn paar boere, myne en bekende ryk mense gekyk. Die nasionale debat oor armoede en werkloosheid verloop intussen so: mense is arm omdat die rykes hul geld vashou. Die gesprek oor rykdom en armoede is uiters belangrik en die ongelykheid wat ons tans sien, onaanvaarbaar. Ongelykheid en armoede sal egter nie net deur die groter “barmhartigheid” van rykes opgelos word nie. Die ekonomie moet groei. Veel vinniger as die huidige 1% wat weer eens in vergelyking met vergelykbare lande, bitter laag is.

Die vraag is hoekom die ekonomie dan nie groei nie? Ons het grondstowwe en minerale, enorme toerisme potensiaal, genoeg jeugdiges wat kan werk en baie kundigheid in die land. Aand vir aand word die antwoorde op ons sake-programme gegee, maar duidelik word daar nie geluister nie. My vraag is hoekom ons regering nie hul ideologiese trots in die sak steek en gaan kyk na ontwikkelende lande waar groter groei wel plaasgevind het nie? Wat is gedoen wat gewerk het? Hoekom is ons so traag om dit toe te pas?

My oortuiging is dat daar talle beleidsraamwerke tans in plek is wat letterlik direk daarvoor verantwoordelik is dat armoede hand oor hand toeneem. Dit sluit sensitiewe sake soos SEB, kaderontplooiing, en die wyse waarop toelaes hanteer word, in. Ek sal ons regering nie dom noem nie, maar wel ideologiese gevangenes in eensame aanhouding.

Oor behuising net die volgende. In ʼn stad soos Wene woon daar 500 000 mense in 1800 gesubsidieerde gemeenskap behuisingskomplekse. Dit word egter nie gratis uitgedeel nie. In Suid-Afrika pleit ek vir meer gedienste grond, titelaktes en programme wat mense bemagtig om self huise te bou.

Die regering kan nie werk skep nie. Die regering skep poste wat deur belastinggeld betaal moet word. Belastings wat betaal is deur mense wat volhoubare werk geskep het. En werk kan ook net gedoen word deur mense wat opgelei en geskool is om dit te doen. Mag ons tersiêre opleidingsbeleid spoedig dramaties aangepas word.

“Kom kruip onder my vlerk in”

Vandat ek my politieke bewussyn so 50 jaar gelede begin kry het, is daar ʼn groter wordende narratief aan my oorgedra. Die Afrikaner is die groot oortreder (“perpetrator”). Toe kom waarskynlik die magtigste man in die wêreld en in een onverwagse oomblik sê hy vir hierdie groep: “ Julle is die slagoffers (“victims”). Kom kruip onder my vlerk in.” Ek het aanvanklik gedink dis fopnuus.

Dit het die land onmiddellik verdeel. Na my mening was dit ʼn voortydige uitvoerende bevel. Die nuwe dinamika wat dit losgemaak het, moet egter nie onderskat word nie. ʼn Rou senuwee is raakgeboor. Waarskynlik daarom die uiteenlopende en intense reaksies wat dit ontlok het. Ons moet egter nou die oog op die bal hou. Debatte oor wie vir die bevel blameer moet word, gaan nie veel help nie. Ware dialoog vra hoe ons dinge saam kan regmaak! Vir Afrikanergroepe om eensydig hierdie oomblik te misbruik, sal ʼn groot fout wees. Hierdie is ʼn geleentheid vir eerlike dialoog, waar ons moedig met mekaar praat én na mekaar luister. Dialoog behoort aan geen enkele party of instansie nie. Dit is ons elkeen se fundamentele reg. Ons moet dit net gebruik. Veral nou in die gemeenskappe waar ons woon en werk.

Dr. Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: