Van hierdie Nobelprys behoort Suid-Afrika kennis te neem

👤 Braam Hanekom

Die 2024 Nobelprys vir Ekonomiese Wetenskappe is toegeken aan drie Amerikaanse ekonome. Hul werk fokus op die diepgaande vraag waarom sekere lande ryk is, terwyl ander arm bly.

Daar is oor die jare soveel Nobelpryse toegeken dat ’n mens onmoontlik van elkeen behoorlik kan kennis neem. Ek glo dat vanjaar se Nobelprys vir ekonomie vir Suid-Afrikaners ’n uitsondering behoort te wees. Ons behoort van hierdie toekenning en veral die navorsing wat dit voorafgegaan het, kennis te neem.

Nobelprys

Professore Daron Acemoglu en Simon Johnson van die Massachusetts Institute of Technology (MIT en prof. James A. Robinson van die Universiteit van Chicago het vanjaar die prys gesamentlik ontvang. Die basiese vraag wat hulle deur hulle navorsing wou beantwoord is waarom sommige lande ryk en ander lande arm is.

Uit die navorsing het dit geblyk dat geografiese ligging en kultuur nie die hoofoorsake is nie. Die antwoord waarmee die navorsers vorendag gekom het, het my laat regop sit.

Arm lande gaan gebuk onder swak politici en gebroke instellings. Sterk, inklusiewe instellings bevorder ekonomiese groei. Swak instellings wat burgers uitbuit en korrupsie toelaat, verhinder egter vooruitgang. Dit is natuurlik ook waar dat arm lande steeds swaar dra aan die nalatenskap van kolonialisme. In lande wat lank onder koloniale bewind was, sien ons dat daar dikwels uitbuitende instellings ontstaan het wat hulpbronne geplunder het en die plaaslike bevolking in psigiese gevangenisskap geplaas het. Iets meer later hieroor.

Kom ons stel dit eers duidelik. Armoede het nie ’n enkelvoudige gesig nie en het ook nie ’n enkelvoudige oorsaak nie. Ek is geruime tyd reeds daarvan oortuig dat sistemiese armoede op ten minste vyf pilare rus: Gebrekkige opvoeding en onderwys, gebrekkige waardes en moraliteit, konflik en gebrek aan sosiale kohesie, ʼn gevangenisskap van ons denke (bv. ‘n mentaliteit van slagofferskap of ‘n vooruitsig sonder hoop) en gebrekkige instellings en samelewing strukture.

Omdat laasgenoemde so by my spook, was ek so opgewonde om van die navorsing en toekenning kennis te neem.

Dit word algemeen aanvaar dat daar vyf groot samelewings instellings is: die gesin, die staat of regering, die ekonomie, opvoeding en godsdiens. Maatskaplike instellings word gesien as daardie strukture wat ontstaan om die basiese behoeftes in ’n gemeenskap te takel. Dus sou ons ook kon redeneer dat verdere instellings wat sorg vir gesondheidsorg, openbare vervoer, veiligheid, water en energie in die kategorie val.

Politici se rol

Die navorsers het probeer aantoon dat waar hierdie instellings ons faal, word lande arm. Die groot sondaars in dié verband bly die politici. Ongeag wat politici sê. Daar kom ’n punt waar hul direkte aanspreeklikheid vir die armoede in ’n land moet aanvaar. In lande met korrupte regerings en wetgewing wat nie die regte van burgers beskerm nie, is mense geneig om ekonomiese agteruitgang te ervaar. In teenstelling hiermee bevorder sterk instellings wat geregtigheid, deursigtigheid en deelname verseker, groei en welvaart.

Die navorsing het verder aangetoon dat in lande waar elite hul mag wil behou, hul dikwels beloftes van hervormings maak wat nie uitgevoer word nie. Dit lei gewoonlik tot wantroue wat volhoubare ekonomiese groei vertraag. Oor die effek wat korrupsie op die psige van ’n land en ekonomiese groei het, praat ons nie eers nie. Daarteenoor het die navorsing duidelik getoon dat politieke stabiliteit en deursigtigheid noodsaaklik is vir langtermyn-ekonomiese groei.

Stukkende instellings en strukture

Die implikasies vir ’n land soos Suid-Afrika is vanselfsprekend. Die invloed wat ons stukkende plaaslike regerings, gebrekkige elektrisiteitsvoorsiening, duur openbare vervoer (taxi’s bly die duurste vorm), gebrekkige gesondheidsorg en ’n lam onderwyssisteem op armoede in Suid-Afrika het, word vir my deur hierdie navorsing bevestig.

Olusegun Olinipekun skryf in sy boek Nation Building soos volg oor gebrekkige instellings: “Mense begin hul eie alternatiewe planne maak en alles word stelselmatig meer ongeorganiseerd. Die maatskaplike, politieke en ekonomiese vesels word gekompromitteer en die nasie word swak.”

In dié verband wil ek dit waag om te sê dat die komende plaaslike verkiesings in 2026 selfs belangriker vir ons toekoms kan wees as die nasionale verkiesing van 2024. Vanjaar se verkiesing was maar die eerste stap op die pad na herstel. Mag ek egter byvoeg, en ek weet dit is vir baie sensitief, dat die huidige instellings en strukture wat tradisionele regerings (stamhoofde) trustgrond en die afwesigheid van titelaktes vir individue beliggaam, ook dringend herbesoek moet word.

Terwyl ons praat van instellings en strukture moet ons egter ook dringend na gesinstrukture in Suid-Afrika kyk. Dit is hierdie kernstruktuur en instelling wat orde en stabiliteit skep. Ons weet dat gesinne vandag wyer gesien word as die tradisionele beskouinge. In die praktyk sien ons egter ’n bykans totale afwesigheid van vaders en die toenemende getal huise waar tieners die ouerskap funksies moet verrig. Dit voorspel moeilikheid.

In landelike gebiede waar gemeenskapstrukture soos sportklubs, verenigings en gemeentes gekwyn het, word die gebrek aan gesonde instellings verder gevoel. Wanneer tradisionele instellings uit voeling met die konteks geraak het, moet dit omvorm word. Die samelewing het egter altyd ʼn behoefte aan tradisieryke instellings.

Kolonialisme

Baie lesers wil dit dalk nie hoor nie, maar die navorsing wys ook op die historiese impak van kolonialisme en hoe dit verskillende instellings in verskeie lande gevestig het, wat die toekomstige ekonomiese trajekte beïnvloed het.

Die navorsers verduidelik dat in sekere kolonies instellings geskep is om rykdom na die koloniseerders te kanaliseer, wat tot langdurige armoede gelei het in die post-koloniale era. Hierna word verwys as uitbuitende instellings.

Mynbou in Suid-Afrika is in dié verband dikwels in die spervuur. Natuurlik het kundigheid, goeie bestuur en kapitaal die mynbou sektor in Suid-Afrika ontwikkel wat oor jare miljoene rand in belastings tot die staatskas bygevoeg het. Die vraag is egter wat die mynbousektor aan die sosiaal-maatskaplike vesels van ons land gedoen het.

Ek het onlangs die Merafong-gemeenskap in Noordwes besoek. Daar word reguit gepraat van die “ghetto next to the gold”. Die oorheersende gevoel onder Suid-Afrikaners is dat daar ’n disproporsionele hoeveelheid geld uit Suid-Afrika na aandeelhouers regoor die wêreld gevloei het. Oor die impak wat die stelel van trekarbeid op huisgesinne gehad het, kan ʼn mens maar net wonder.

Kom ons gee nog ʼn voorbeeld van hoe eksklusiewe koloniale strukture gewerk het en wat die gevolg daarvan was. Die feit is dat ons ʼn situasie laat ontwikkel het waar een groep vir ʼn ander oor ʼn tydperk van 300 jaar opdragte gegee het en die bevraagtekening daarvan nie geduld het nie. Skielik sê jy: die rolle keer nou om, nou moet jy dink en regeer en volle verantwoordelikheid aanvaar. Dit kan ingewikkelde gevolge hê. Langdurige koloniale strukture kan en het op ’n selfvertroue-vlak ʼn groot ontmagtigende rol gespeel.

Nasionale dialoog en plaaslike gemeenskappe

Groot gewag word tans gemaak van die komende nasionale dialoog. Mag ek by voorbaat waarsku, dat enige sweem van politieke inmenging en/of kaping die proses ’n vinnige dood sal laat sterf. Daarom begin ons in November met ’n beskeie proses om in drie streke (Beaufort-Wes, Ceres en Ladismith) gemeenskappe op plaaslike vlak te laat praat oor hul toekoms. Veral as dit kom by armoede en werkloosheid, misdaad en geweld en ons jeug. Waar politici en gebroke en stukkende instellings ons mense in ’n hok van armoede gevange hou, is dit nou tyd vir gemeenskappe om op te staan en hul stem te laat hoor.

Ons stukkende instellings speel, soos bevestig deur die navorsing van hierdie drie ekonome, ’n reuserol in die huidige groeiende vlaag van misdaad en armoede. Daar is egter ook eilande van hoop wat oral te sien is. Dit is waar gewone mense opstaan en deur programme op plaaslike vlak begin om nuwe samelewings instellings te skep. As jy daarmee besig is, moet asseblief nie wonder of jy op die verkeerde pad is nie. Ons het jou baie nodig.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: