Van uitreik na volhoubare verandering: Hoe kerke ’n verskil maak

👤 Aletia Grundling

Vir te lank is daar ‘n pleister van liefdadigheid (charity) op negatief-geaffekteerde gemeenskappe geplak, met die verwagting dat die seer van die verlede vanself sou verdwyn en menseverhoudinge na normaal sou terugkeer. Die NG Kerk het ‘n geskiedenis van liefdadigheid betoon deur organisasies soos die ACVV, Diens van Barmhartigheid, BADISA, sopkombuise en uitreikaksies na buurlande soos Malawi. In hierdie seisoen kon die NG Kerk prakties sy naasteliefde betoon, soos Galasiërs 5:6(b) van ons vra: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”

Met 1994 se oorgang na demokrasie het ‘n nuwe seisoen vir die Kerk aangebreek: die era van gemeenskapsontwikkeling, met spesifieke fokus op vredebou en volhoubare ontwikkeling. Vredebou het die “liefdadigheidsteologie” ‘n werkwoord gemaak, wat verwys na aksies met ‘n positiewe, volhoubare impak. In hierdie benadering word respek, deernis, empatie, Jesus-liefde, hoop, geregtigheid en vrede die sement wat gemeenskappe aanmekaar bind. Galasiërs 5:6(b) is hier steeds die grondslag en sien ons die Kerk in aksie deur lidmate wat hul gawes prakties in diens van die Koninkryk uitleef.

Negatief-geaffekteerde gemeenskappe is in die verlede dikwels teleurgestel deur nie-volhoubare aksies wat eerder vertroue gebreek het as om versterking en bemagtiging te bied. ‘n Eenmalige uitreik sonder opvolgbesoeke, geen begeleiding van pasgeredde kinders van God na geestelike volwassenheid nie, en ‘n gebrek aan mentors wat praktiese hulp bied om mense na ‘n doelgerigte lewe te lei, is voorbeelde van waar gemeenskappe in die steek gelaat is.

Hierdie wantroue kan slegs genees word deur volhoubare, praktiese aksies soos opleiding en bemagtiging, waar mense eers kan sien en dan glo. ‘n Voorbeeld hiervan is JEPSA (Jesus Peace South Africa), wat in 1999 ontstaan het vanuit lidmate van die Strooidakgemeente en as deel van die gemeente se Geloofsgelofteoffer (GGO) ‘n sendingprojek geword het. Lidmate het maandeliks deur die GGO-rekening finansieel bygedra tot JEPSA, ‘n industriële beskuitfabriek.

Die fokus van JEPSA was om werklose kinders van God te bemagtig deur ‘n drie-dimensionele menseontwikkelingsprogram, sodat hulle as volwaardige eienaars van hul maatskappy geestelik, psigologies en sosio-ekonomies volhoubare lewens kon lei. Ds. Fanie Kriel, ‘n Strooidakleraar en pastorale terapeut, het die Myers-Briggs-persoonlikheidstoets op elke eienaar van JEPSA toegepas om hul persoonlikheidseienskappe te identifiseer en prakties in die bakkery aan te wend. ‘n Lidmaat van die Strooidakkerk het as projekbestuurder/fasiliteerder opgetree. Hierdie vennootskap het uitgebrei na SASKO Meule, wat JEPSA as hul gemeenskapsprojek aanvaar het deur professionele dienste en goedere te voorsien. Dit het ook deure geopen vir produkplasing op Pick ‘n Pay, Shoprite en Checkers se rakke. Hierdie vennootskap het agt jaar geduur.

In 2008 het Monte Christo Miqlat (MCM), ‘n nie-regeringsorganisasie, JEPSA genader om ‘n industriële voedingsentrum te ontwikkel. Daagliks is daar 5 000 kinders in verskeie dagsorgsentrums gevoed. Dit was ‘n praktiese bewys van hoe Jesus JEPSA se invloed uitgebrei het. MCM het later JEPSA as die nuwe GGO-projek van Strooidak vervang, en gemeentes vanuit die Drakensteinvallei het kos by MCM se voedingsentrum gekoop om hongeriges te voed. Die voormalige eienaars van JEPSA is verder bemagtig deur self voeding vir hul gemeenskap voor te berei.

Teen 2016 moes MCM se gemeenskapsentrum in Paarl-Oos jeugbendegroepe soos die Barbarians, Gaza’s en Stiflis trotseer. Hul gewelddadige aktiwiteite het die gemeenskap onregeerbaar gemaak. ‘n Drama- en skryfskool is by MCM gevestig, waardeur die Heilige Gees hierdie jong kinders se harte en denke kon vernuwe (Romeine 12:2). Die kinders het ‘n hartroerende boek geskryf oor hul seer, soeke na ‘n vaderfiguur en liefde. Strooidakkerk was ‘n instrument in God se hand vir gemeenskapstransformasie: die boekbekendstelling het in die Strooidakkerk plaasgevind, en voormalige bendelede het self hul boeke aan die gemeenskap verkoop en onderteken. Vandag bestaan daar geen jeugbendes in Paarl-Oos nie. Die Lig het die duisternis verdryf.

Lidmate van die Strooidakgemeente ondersteun MCM spontaan deur skenkings van goedere en finansies. ‘n Lidmaat bestuur MCM se Hyundai-bakkie om etes aan dagsorgsentrums in Drakenstein te versprei. ‘n Ander lidmaat doen MCM se grafiese ontwerp en bemarking gratis. Nog ‘n lidmaat, wat by die NG Kerk Sinode werk, help met administrasie, webwerf-onderhoud en sosiale media. ‘n Berader bied gratis dienste aan, en ‘n geestelike mentor speel ‘n deurlopende rol in die tieners se lewens. Besigheidsmanne uit Strooidak en Paarl vat met MCM hande deur finansiering en professionele dienste soos instandhouding en sweiswerk te voorsien.

Ander gemeentes skakel ook by MCM in en bied kundigheid om ‘n vaardigheidsentrum vir jeugvaardigheidsontwikkeling en werksplasing te beplan. Op hierdie manier skep die Kerk volhoubare hoop in mense se lewens wat hoop verloor het.

Wanneer gemeentelede besef wat hul gawes en passie is, word gemeenskapsontwikkeling ‘n werkwoord, ‘n aksie wat deur Jesus-liefde gedryf word. Dit stel mense in staat om betrokke te raak, die Koninkryk uit te brei, menseverhoudinge en gesinne te versterk en die Bybel prakties te leef ter bevordering van vrede en versoening.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Zikomo-woonstelle in die mark

  • Die verskil tussen liefdadigheid en gemeenskapsontwikkeling

  • Redder-kompleks: Wees eerder ‘n broer, ‘n suster, en reisgenoot