Wanneer geweld dreig om jou vrede te steel
👤 Wilmi Wheeler
Die afgelope weke voel dit of geweld ons land en ons skerms oorstroom. In Kraaifontein is ’n gesin se lewens brutaal beëindig. In die Oos-Rand en die Vrystaat is bloed weer gestort. En asof dit nie genoeg is nie, spoel die wêreld se geweld ook in ons huise in: die moorde van Charlie Kirk en Iryna Zarutska in die VSA, herdenkingsvideo’s van 9/11 en die grusaamste beelde wat sonder filter oor sosiale media soos veldbrande versprei.
Te midde van al hierdie onrus kry ons ’n boodskap van ’n dominee-kollega uit Franschhoek, Ryno Els. Hy sê: “Ek ervaar dat die hele internetgemeenskap intense trauma beleef en onnodiglik opneem… Sjoe, dit is ongesond om in detail te sien hoe iemand so wreed sterf.”
Ek lees dit en ek sug. Want hy’s reg.
“Ek dink opnuut oor die belang van dialoog, om te verskil met deernis, God se genade wat so barmhartig en lankmoedig is. Kies liefde bo haat,” skryf hy verder.
Ek wens dit was makliker. Ek wens ek kon die televisie aansit of my foon oopmaak sonder dat my maag draai. Sonder dat ek bang is vir die volgende beeld, die volgende video wat my onkant vang. Die afgelope weke was genadeloos.
Ses jong mense doodgeskiet in Wallacedene en Eikendal. Drie ander paartjies wat in ’n enkele nag in Mitchells Plain en Mfuleni dood is, almal slagoffers van ’n bende-oorlog wat net nuwe grafte kweek. En dit is net die stories wat dit tot die nuus haal. Intussen word gemeenskappe, gesinne en kinders in die skadu van geweld groot.
Dan, van die ander kant van die wêreld, word nog beelde oor ons geskerms gegooi. Iryna Zarutska, wat oorlog in Oekraïne oorleef het, maar in Amerika in ’n trein doodgesteek is. Charlie Kirk, doodgeskiet terwyl hy praat. En altyd, altyd is daar ’n video. Voor jy weet waarna jy kyk, is dit reeds te laat. Jou oë het dit ingeneem. Jou siel dra dit saam.
Sielkundiges praat van sekondêre trauma. Jy is nie self die slagoffer nie, maar jou liggaam reageer asof jy daar gestaan het. Oral om my hoor ek mense sê: “Ek kan nie meer na die nuus kyk nie.” “Ek slaap nie meer lekker nie.” “Ek voel hoe verloor ek hoop in die mensdom.”
En tog, in plaas daarvan dat ons pyn ons nader aan mekaar bring, laat dit ons verder uitmekaar skuif. Sosiale media word ’n slagveld van opinies. Almal kies kant. Links teen regs, immigrante teen burgers, armes teen rykes, polisie teen gemeenskap. Dit voel asof ons net meer raas, meer beskuldig, meer vinger wys… terwyl ons harte net nog verder verhard.
Dis waarom Ryno se woorde my tref: “Kies liefde bo haat.” Nie omdat dit maklik is nie. Nie omdat dit die pyn wegvat nie. Maar omdat dit die enigste manier is om nie te verloor wat ons mens maak nie. Wat ons gelowiges maak nie.
Ons geloof roep ons nie om blind te wees vir geweld nie. Jesus self het geweld in die oë gekyk, het lyke en trane gesien, het die onreg aan sy eie lyf gevoel. Maar Hy het geweier om sy hart te laat verhard. Hy het ’n ander pad geteken: vrede midde-in chaos, sagmoedigheid midde-in haat, genade midde-in oordeel.
Ek weet hoe aanloklik dit is om hard te word. Om jou naastes opsy te skuif en eerder net vir jouself en jou mense te leef. Daar is ’n Ingrid Michaelson liedjie wat dit mooi saamvat: “The storm is coming but I don’t mind. People are dying, I close my blinds.”
Maar, dis hier waar die ‘maar’ inkom. Wat as ons anders kies? Wat as ons, juis in ’n tyd van bloed en geraas, minsaam bly? Wat as ons probeer luister eerder as om geraas te maak? Wat as ons, in plaas van om vinnig te oordeel, eers probeer verstaan? Wat as ons, in plaas van haat, liefde kies – weer en weer en weer?
Ek glo dit is moontlik. Nie omdat ek naïef is nie, maar omdat ek glo God se genade is groter as ons wonde. Sy lankmoedigheid langer as ons woede. Sy liefde dieper as ons haat.
En dalk is dit waar genesing begin. Nie in groot politieke oplossings nie, maar in klein keuses van liefde. In die manier waarop ek met my buurman praat. Hoe ek my kind leer reageer. Hoe ek op sosiale media antwoord. Hoe ek weier om die sirkel van haat verder te voed.
Ons leef in ’n tyd waar geweld ons siel wil steel. Maar ek glo ons kan terugveg, soos Ryno sê: nie met woede nie, maar met liefde.


