Vir almal vir wie Kersfees swaar is: so lyk ware vreugde

👤 Wilmi Wheeler

Dis Advent. Die derde kers staan reg voor in die kerk om aangesteek te word. Die een wat mens elke jaar herinner dit is die Sondag van vreugde. Maar as ek so om my kyk (en soms in myself ook), voel dit amper ironies. ’n Ongemaklike woord in ’n jaar wat weer eens sy volle gewig op ons rus. Miskien juis daarom moet ons weer vra wat “vreugde” in die Bybel wérklik beteken. Want as dit net ’n emosie is, dan gaan hierdie Kersfees vir baie van ons misluk.

Ons lewe immers in ’n wêreld waar pyn en smart vinniger by ons uitkom as lig. Kyk net na die harde stories wat die nuus opslurp. Mense wat vir ’n handsak vermoor word. Politieke sluipmoorde wat soos ’n donker stroom onder ons demokrasie bruis. Families wat mekaar nie meer verstaan nie. Mense wat net aanhou verloor: ’n werk, ’n geliefde, gesondheid, geld, hoop. En dan kom Kersfees met sy fairy lights en sy “Season of Joy!”-quotes op Facebook… maar statisties is dit ook die tyd waarin die meeste mense die alleenste voel. Die tyd waarin selfmoordsyfers skerp opwaarts skiet.

Dalk staan jy self hierdie Advent voor iets wat jou bekertjie leeg hou. Jy self het dalk hierdie jaar nie genoeg geld vir ’n ordentlike ete op die tafel nie. Of hierdie Kersfees is jou eerste met ’n leemte op ’n spesifieke stoel om die eetkamertafel. Of jy spandeer jou dae tussen hospitaalafsprake en medisyne waarvan die name klink soos iets uit ’n chemie-eksamen. Of jou familie is ver oor waters… of 10 km weg maar emosioneel veels te ver.

Dis hier waar ek onbewustelik weer begin wonder het oor vreugde. Nie die Instagram-weergawe nie, maar die Bybelse een. En toe herinner my man (wat wel ’n dominee is): vreugde is nie iets wat ’n mens self opwek nie. Vreugde is ’n geskenk.

En jy gee net ’n geskenk as dit iets is wat iemand nie het nie.

Nou maak Jesus se woorde in Johannes 15 bietjie meer sin: “Dit het Ek vir julle gesê sodat my vreugde in julle kan wees en julle vreugde volkome kan wees.” As Jesus sy eie vreugde gee, impliseer dit dat die wêreld s’n nie genoeg is nie. Dat ons dit nie natuurlik in onsself kan opwek nie.

En kyk net na Paulus. Die man wat die helfte van die Nuwe Testament geskryf het, het nie sy briewe vanuit ’n strandhuis of ’n koffie-shop geskryf nie. Nee, hy was in die tronk. Letterlik. Koue klam mure, kettings, onsekerheid oor of hy môre nog gaan lewe. En dáár sing hy. Dáár skryf hy oor blydskap. Dáár sê hy: “Ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees.” Hy het dit geleer, dit het nie natuurlik gekom nie.

Ons sien dieselfde patroon oor en oor in die Bybel. Hanna se vreugde kom nie omdat haar omstandighede perfek was nie, maar omdat God haar roep gehoor het. Habakuk sê: “Al sou die vyeboom nie bot nie… nogtans sal ek in die Here jubel.” Dawid skryf Psalms van vreugde terwyl hy vlug vir sy lewe. Vreugde trek nie in by ’n perfekte lewe nie; dit klim in by ’n wêreld wat uitmekaar skeur.

Elke keer is die patroon dieselfde: Die vreugde kom nie uit die situasie nie. Dit kom uit die wete dat God in die situasie teenwoordig is.

En dalk is dit presies wat ons in Advent mis wanneer ons probeer “opgewonde voel” on command. Dis hoekom Jesus nie vir ons ’n “seisoen van joy” belowe het nie. Hy belowe eerder ’n Persoon as bron van vreugde. Nie ’n gevoel nie. Nie ’n quote vir Instagram nie. Nie ’n façade van “Kersfees moet mos altyd lekker wees” nie. Maar ’n anker.

’n Anker in ’n wêreld wat moor en arm maak en jou alleen laat voel.

Ek dink soms ons het vreugde se definisie verkeerd. Ons dink dit is lag, ligtheid, gelukkig wees. Maar die Bybel se vreugde is heel anders. Dis soos ’n ondergrondse fontein wat bly borrel terwyl daar bo die grond storms woel. Dis ’n ingeboude sekerheid. Selfs ’n soort hardkoppigheid wat sê: “Ek hou vas aan Iemand, selfs as niks anders bymekaar gehou wil word nie.”

En miskien is dit die uitnodiging van hierdie Advent: nie om vreugde te voel nie, maar om dit ontvang. Om dit toe te laat. Om dit te dra soos ’n geskenk wat in jou hand geplaas word.

Jesus bring vreugde juis omdat Hy weet hoe ’n wêreld sonder vreugde lyk. Hy kom sit by ons wanhoop. Hy huil saam by Lazarus se graf. Hy raak die melaatse aan wat almal vermy het. Hy stap in ’n wêreld vol geweld, onreg en politieke spanning in. Hy sit aan tafels met mense wat nie welkom was nie. En dan sê Hy: “My vrede gee Ek vir julle… my vreugde gee Ek vir julle.”

Nie uit ’n plek van naïwiteit nie, maar uit ’n plek van teenwoordigheid.

So as jy hierdie Advent nie kan glimlag nie, is dit okay. As vreugde vir jou vreemd voel oor Kerstyd, is dit okay. Jesus se uitnodiging dra nooit die woorde “probeer harder” nie. Hy nooi jou net om te rus. Om te kom sit. Om te ontvang.

Ek sien Advent-vreugde deesdae as die sagte lig van ’n kers wat aanhou brand al is die vertrek baie donker. Nie verblindend nie, maar hardnekkig. ’n Liggie wat nie wegwaai nie.

En miskien, net miskien, is dit die grootste geskenk van hierdie seisoen: dat vreugde nie bewys dat alles regloop nie, maar dat Christus hier is.

 

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: