Wat beteken dit om as te dra in Lydenstyd?
👤 Wilmi Wheeler
As en stof. Simbole wat regdeur die Bybel gebruik word, van Genesis tot Openbaring. Dit is deel van die mens se storie – van ons oorsprong tot ons einde. Maar wat beteken dit regtig om as te dra, veral in Lydenstyd? En is dit steeds iets wat vir ons vandag relevant is?
As en stof in die Bybel
Van die vroegste tye af was stof en as tekens van nederigheid, berou en sterflikheid. Wanneer Adam en Eva uit die tuin verwyder word, herinner God hulle: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Genesis 3:19) Dit is ‘n pynlike realiteit. Ons is nie so magtig soos ons dink nie. Ons liggame is verganklik, ons lewens is broos.
Deur die Bybel sien ons hoe mense in tye van groot hartseer of bekering as op hul koppe strooi of in stof en as sit. Job, nadat hy alles verloor het, sê: “Ek herroep my woorde en sit in stof en as.” (Job 42:6) Die mense van Ninevé, toe hulle besef God se oordeel is op pad, trek rouklere aan en sit in as. (Jona 3:6) Vir hulle was dit ‘n uiterlike teken van ‘n innerlike werklikheid: Ek is niks sonder God nie. Ek het Hom nodig.
Jesus en die simboliek van as
Toe Jesus op aarde was, het Hy nie fisies as op sy kop gegooi nie, maar Hy het wel die essensie daarvan beliggaam. Hy het self gekies om deel van die “stof” van die mensdom te word, om gebroke wêreld toe te kom en in ons pyn en sonde in te stap. Hy het gehuil oor Jerusalem, Hy het ‘n lewe van vernedering gekies en uiteindelik het Hy die laaste weg van as en stof geloop… Die kruis.
In Lydenstyd herinner ons onsself daaraan. Dit is ‘n seisoen van aflegging, van besef hoe klein ons is en hoe groot God se genade is. Dit is ‘n seisoen waarin ons eerlik voor God gaan staan en sê: Ek is stof. Maar U maak nuwe lewe uit stof.
Wat beteken dit vir ons vandag?
In ‘n moderne wêreld waar ons alles probeer beheer en perfek voor ander wil voorkom, is die idee van stof en as amper vreemd. Dit herinner ons aan ons broosheid, ons nietigheid, en ons afhanklikheid van God – dinge wat ons dikwels probeer ignoreer.
Wanneer ons tydens Lydenstyd nadink oor stof en as, gaan dit nie noodwendig daaroor om fisies as op ons koppe te strooi nie. Dit gaan oor ‘n houding van nederigheid en erkenning voor God. Dit is ‘n bewuste keuse om ons eie begeertes en trots neer te lê en vir God te vra om ons harte te suiwer.
Baie van ons word gemerk met ’n kruis uit as op ons voorkoppe op Aswoensdag met die woorde: “Onthou, mens, dat jy stof is en tot stof sal jy terugkeer.” Dit is ‘n fisiese herinnering aan ‘n geestelike realiteit.
Maar selfs al doen jy dit nie, is die betekenis van as steeds vir jou relevant. Om as te dra in Lydenstyd gaan oor meer as net ‘n uiterlike teken – dit gaan oor ‘n innerlike houding:
- ‘n Herbesinning van ons prioriteite. Wat beskou ek as belangrik in my lewe? Is ek besig om vir dinge te leef wat uiteindelik soos stof in die wind sal verdwyn?
- ‘n Seisoen van aflegging. Wat hou ek vas wat ek eintlik moet neerlê? Trots, selfgerigtheid, ‘n behoefte aan beheer?
- ‘n Erkenning van afhanklikheid. Om te sê: Here, ek is stof. Maar ek wil u wil volg.
Uit die stof, tot nuwe lewe
Die goeie nuus is dat stof en as nooit die einde van die storie is nie. Net soos wat Jesus nie in die graf gebly het nie, bly ons ook nie in ons stofmomente vasgevang nie. God se wil is herskeppend – Hy maak nuwe lewe uit stof.
Om as te dra in Lydenstyd is nie ‘n teken van hopeloosheid nie. Dit is ‘n teken van hoop. Dit sê: Ek weet wie ek is – ‘n mens wat broos en gebroke is. Maar ek weet ook wie God is – die Een wat lewe bring waar ek net stof sien.