Winterhoop 2024: Geloof en koinonia in Kuilsrivier-Suid
👤 DJ Muller
Ondanks die dreigende stormweer en swaar reën het Kuilsrivier-Suid se derde Winterhoop-projek op 27 Julie ’n merkwaardige dag van koinonia en hoop vir die gemeenskap geword. Die week vooraf was deurgebid in vertroue dat die Here wat die weer betref so ingryp, en Saterdag het dié geloof vrugte afgewerp.
Die dag het vroeg begin met die aansteek van vure en die bak van roosterkoeke, terwyl Velddrif-gemeente ’n trok vol snoek gebring het. Die hitte van die vure en die gees van vriendskap het hand aan hand gegaan terwyl etes voorberei is. Komberse, versier met rooi hartjies en kaartjies wat die liefde van Jesus verkondig, was ook gereed om uitgedeel te word aan ‘n groot groep seniors uit die omliggende gebied.
Om 13:00 het die Kuilsrivier-polisie meer as 500 bejaardes per bus vanaf so ver as Kalkfontein ingebring. Die reën het bedaar toe hulle arriveer, en die erediensruimte was tot oorlopens toe vol. Onder leiding van broer James Flowers het die VGK Sarepta ’n inspirerende musiekvertoning aangebied, met ’n uur en ’n half se lofprysing en dans. Die talentvolle Alban Petersen het ook die bekende lied “He Holds My Hand” gesing.
Tydens die byeenkoms het die polisie raad gedeel oor misdaadvoorkoming en die beskerming van bejaardes. Na afloop van die musiekvertoning is elke bejaarde bederf met ’n wegneem-snoekmaaltyd, sjokolade, en ’n rooi kombers met ’n drukkie—’n gebaar van Jesus-liefde. Terwyl die musiekvertoning aan die gang was, het dit gereën, maar die reën het opgehou toe dit tyd was om huis toe te gaan – die Here het mos ingegryp met die weer.
Vir baie van die bejaardes, wat dikwels net een keer per maand uitkom om Sassa-geld te trek, was hierdie dag ’n spesiale geleentheid om weer uit te kom. Een egpaar het gedeel dat dit die eerste keer in tien jaar was dat hulle na so ’n geleentheid genooi is.
Sondagoggend het Ds. Elize van Velddrif-gemeente by die gemeente gepreek. Hierdie dag het die gemeente gemeenskap herinner aan die grootheid van God en sy beheer oor alle omstandighede. Winterhoop 2024 was ’n lewende getuienis van die krag van geloof, hoop, en die bande van gemeenskap.