Die wit klippie wat jou weer na die tafel toe nooi
👤 Wilmi Wheeler
Ek het nie verwag dat ’n klein klippie uit ’n hardewarewinkel my so sou raak nie. Dis tog net ’n wit klippie. Glad, eenvoudig, lig en koel in my hand. Niks meer as die definisie wat ons in die HAT kry nie: ‘n Harde gesteente wat in die veld en in tuine op die grond lê. Daar is op hierdie een net ’n kruis op geverf.

Dit was voor Sondag se erediens by Bellville-Vallei gemeente wat dominee Chris Wheeler Sondag vir elke gemeentelid ’n wit klippie uitgedeel het en vertel dat ons dit nodig het vir die erediens.
Almal gaan sit maar met die gesteente. Mens hoor sommer hoe die klippies op die houtbanke neergesit word soos mense self gaan sit.
Tydens die diens het ek dit afwesig vasgehou. Ek het geluister, gesing, gesit en opgestaan soos altyd. Maar my vingers het telkens teruggekeer na daardie klein voorwerp, asof dit my aandag wou terugroep.
Toe kom die Skriflesing uit Openbaring 2:12–17.
Dit is Jesus se brief aan die gemeente in Pergamum. Hierdie stad was nie ’n gemaklike plek om ’n Christen te wees nie. Pergamum was ’n sentrum van keiserverering en afgodsdiens, met die bynaam troon van die Satan. Om daar ’n getroue volgeling van Jesus se bly, het jou gekos: werk, status, vriende, veiligheid en soms ook jou lewe.
En dis presies dáár, waar Christene as randfigure in die samelewing leef, wat Jesus hierdie belofte maak:
“’Aan wie oorwin, sal Ek van die verborge manna gee, en Ek sal vir hom ‘n wit klippie gee, ja, ‘n klippie waarop ‘n nuwe naam gegraveer is, en wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.’” (Openbaring 2:17)
Dit is ’n belofte vir die getroues. Vir dié wat Hom aanhou kies, selfs wanneer dit hulle iets kos.
Wat is die betekenis van die wit klippie?
Chris vertel hoe wit klippies in die ou Griekse beskawing ’n besondere betekenis gehad het. Dit is gebruik as vriendskapklippies (seker maar soortgelyk aan wat sommige pikkewyne doen). Jou naam was gegraveer op die klippie, saam met ’n spesifieke huis se embleem. So ’n klippie het dan vir jou onbeperkte toegang gegee tot iemand se huis of tafel. Dit was ’n teken van aanvaarding, van behoort, van sosiale status.
Hoe meer van hierdie klippies jy gehad het, hoe meer mense het jou geken. Hoe meer plekke het jy gehad waar jy welkom was.
Natuurlik was dit nie ’n realiteit vir die Christene van die samelewing nie. Hulle was nie welkom in enige Griek se huis nie, nog minder toegelaat om saam met hulle te eet. Hulle was verstoot.
En teen hierdie agtergrond draai Jesus hierdie konsep op sy kop: Aan julle wat deur die wêreld uitgesluit word omdat julle aan My behoort, gee Ék my klippie. Nie die wêreld s’n nie. Myne.
Dis asof Hy sê: julle mag dalk toegang verloor tot tafels in Pergamum, maar Ek nooi julle na Myne. Julle mag dalk julle plek in sosiale kringe verloor, maar by My is daar altyd ’n stoel oop.
Die tafel waar niemand weggewys word nie
Toe ek Sondag die klippie in my hand hou, het my gedagtes onwillekeurig na die nagmaalstafel gedwaal. Daardie plek waar ons almal gelyk staan. Waar titels verdwyn. Waar mislukkings nie jou toegang bepaal nie. Waar Jesus self die gasheer is.
Die wit klippie word ’n tasbare herinnering: Jy hoef nie aan ’n lys goed te voldoen voordat jy mag kom aansit nie, jy is reeds welkom.

Vir soveel mense is kerk ’n plek van onsekerheid. “Is ek goed genoeg?” “Pas ek hier in?” “Wil God regtig my storie ken?”
Jesus se woorde is eerlik. Hy erken dat getrouheid eensaam kan wees. Die Christen wat nie bereid is om kompromieë met die wêreld aan te gaan nie, word dikwels eenkant toe gestoot.
Om volgens Jesus se pad te leef, kos iets. Dit kan jou populêrheid kos. Dit kan jou gemak kos. Dit kan jou selfs jou gevoel van behoort kos. Maar Jesus los dit nie daar nie. Wat ons deur getrouheid verloor, sê Hy, vergoed Hy self. Die wit klippie sê: jou identiteit lê nie in wat jy verloor het nie, maar in aan Wie jy behoort.
Die wit klippie is nie ’n troosprys nie. Dit is ’n koninkryksbelofte.
Die wit klippie verteenwoordig meer as wat die wêreld kan bied
Aan die einde van alles bly hierdie uitnodiging staan: konsentreer op dit wat die Here vir jou gee. Want wat Hy gee, is altyd meer en beter as enigiets wat die wêreld kan bied.
Die wêreld gee status wat vervaag. Jesus gee behoort wat hou.
Die wêreld gee tafels waar jy moet presteer. Jesus gee ’n tafel waar jy kan rus.
Die wêreld gee applous. Jesus gee ’n naam.
En soms gee Hy dit in die vorm van ’n eenvoudige wit klippie wat jy in jou sak kan dra. Of op jou lessenaar kan neersit. Of in jou hand kan vashou wanneer jy weer wonder of jy regtig welkom is.
Jy is welkom.
By Hom.
Aan sy tafel.
In sy hart.


