Deur die kruis gesien – Simboliek by Andrew Murray Sentrum
👤 DJ Muller

Daar is plekke wat ‘n mens se gedagtes orden sonder dat jy dit beplan. Plekke waar die atmosfeer self ‘n uitnodiging is tot rus, refleksie en ‘n nuwe manier van kyk. Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington is so ‘n plek. Dit is bekend as ‘n plek waar vergaderings en retraites gehou word, vir sy akkommodasie en pragtige simboliek-ryke tuine, vir die kapel en die sitkamers en ander vertrekke waar mense saam kan dink en bid. Dit is ‘n plek van stilte en klank, van teenwoordigheid en misterie. En dit is ‘n plek van die kruis.

Tussen kinderstemme en wind wat deur die Donkiebos se bome roer, leef iets amper ongesiens. Dit is nie net in die argitektuur ingebou nie, maar in die manier waarop die lig val, hoe water beweeg, hoe jou voetstappe jou onbewustelik op ’n reis neem. Die kruis is hier – nie as ’n versiering nie, maar as ’n voortdurende uitnodiging om met nuwe oë te kyk en met ’n dankbare hart te leef.


Wanneer jy die gebou Samuel binnegaan, sien jy in die verte ‘n kruis van beton, uit wie se lyne water vloei. Dit is nie net ‘n fontein nie; dit is ‘n doopherinnering. Die klank van die water bring ‘n kalmte, ‘n bewuswording van die Een wat die lewende water is. Dit is ‘n belewenis van my doop, ‘n herbevestiging van die water wat eenmaal oor my gevloei het en steeds in my lewe bly vloei.
Die paadjie na die kapel is doelbewus ontwerp sodat jy op die kruis loop. Dit is ‘n subtiele, maar diep betekenisvolle herinnering dat om in hierdie ruimte te wees, beteken om in die kruis te leef. By die kruispunt, waar die horisontale en vertikale dele ontmoet, is daar ‘n poel water. Dit is asof die kruis en die water onafskeidbaar is. By die drumpel van die kapel is ‘n klein doopvont. Hier kan jy jou hand insteek om weer die water teen jou vel te voel en jouself te herinner dat jy aan Hom behoort.


Wanneer jy uiteindelik in die kapel instap, word jou aandag onmiddellik gevestig op die groot glasmuur. In die middel daarvan is ‘n reuse kruis, ‘n venster waardeur jy die buitewêreld sien. Dit is ‘n beeld van hoe gelowiges geroep word om deur die kruis te kyk, om die wêreld met ‘n ander lens te beskou. En dan is daar die sonlig wat deur die kruis skyn, ‘n verblindende lig wat die hele ruimte van buite na binne vul. Dit is ‘n besef van genade: God kyk deur die kruis na my, en in daardie kyk is daar nie oordeel nie, net liefde. Net genade.

Die kruise in en rondom die kapel is nie dekoratiewe elemente nie. Hulle is nie net esteties nie. Dit is boodskappe, stille preke, uitgestrekte arms wat herinner aan ‘n liefde wat nooit opdroog nie. Hier, waar water vloei, lig skyn en beton getuig, is dit maklik om te weet: God is hier. En Hy kyk deur die kruis, met oë van genade.
Daar is ook kruise in ander ruimtes by dié sentrum. Die genade van die kruise bly nie net by die kapel nie. Dit volg ons in die sitkamers, kombuise, kamers en gange van ons lewens.
