Die La Rochelle-ervaring: Om Jesus se hande en voete te wees

👤 Jana Dickason

La Rochelle-gemeente se jaarlikse Hande en Voete-uitreike is meer as net ‘n projek, is dit ‘n getuienis van God se goedheid en ‘n bewys dat ware kerkwees nie net mooi woorde is nie, maar ‘n lewende, praktiese daad.

Vir ons by La Rochelle gaan dit nie net oor uitreik nie, maar eerder oor inreik – om diep in die lewens van ander in te reik met die liefde van Christus. Dit is ‘n dag waar jonk en oud in die gemeente saam hande vat om Jesus se liggaam op aarde te wees, gelei deur die krag en oortuiging van die Heilige Gees. Dit is juis hierdie afhanklikheid van die Here wat ons uitreike elke jaar laat groei en mense se lewens op ‘n diep vlak verander. Dit is nie ons krag of ons vermoëns nie, maar God se genade wat ons toerus en lei.

In 2025 het ons 10 verskillende instansies besoek, elk met die doel om die “geheim” te deel. Die geheim waarna ons verwys, is die wonderlike evangelie van Jesus Christus, soos uiteengesit in ons fokusteksvers, Efesiërs 3:6: “En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God beloof het.”

Die “geheim” is dat Jesus vir ons sondes gesterf het en opgestaan het, en sodoende die ewige lewe vir ons moontlik gemaak het. Dit is hierdie goeie nuus wat ons moet deel. Soms het mense dit nog nooit gehoor nie, en ander kere het hulle net ‘n geloofsversterkende boodskap nodig in die aangesig van moeilike omstandighede. Dit is ons roeping om hierdie hoopvolle boodskap uit te dra.

Ons projek het ons geneem na plekke soos die Welverdiend Aftree-oord, die Alta du Toit Nasorg Sentrum, MES se Mannehuis en Safe Space, die Lucky Lucy diere-skuiling, die Brandweer, Huis Redelinghuys, plaaslike petroljoggies en selfs Miles Bowker by Stikland. By elke plek het ons die geleentheid gehad om te dien, te luister en die liefde van God te demonstreer.

As ‘n gemeente is ons diep dankbaar vir die manier waarop die Here ons gebruik, en ons nooi elkeen uit om te onthou dat dit God se werk deur ons is. Hierdie Sondag is ons opgewonde om die Alta du Toit Nasorg Sentrum se koor by ons eredienste te verwelkom vir ‘n spesiale Lof- en Aanbiddingsgeleentheid, ‘n verdere uitdrukking van die gemeenskap van gelowiges en die voortsetting van God se werk in ons midde.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Amptekonferensie: Wat ons herbevestig en waaroor ons moet verder verbeel

  • Die kerk is heilig, maar nie humorloos nie!

  • Arme ek is oupa uil, maar God kyk steeds na my