Kom ons wees nou eerlik. Vra enige Suid-Afrikaner: “Wat maak jou trots Suid-Afrikaans?” en die lys klink amper soos ’n inkopiemandjie vir ’n feesmaal: biltong, braaivleis, pap en wors, melktert, koeksisters. As die koslysie afgehandel is, kom daar gewoonlik nog iets op die tafel: rugby. En ja, daar’s min dinge so lekker as om die Bokke te sien wen terwyl jy aan jou biltong kou…

Maar as ons regtig daaroor nadink, verby die oppervlakkige antwoorde, is daar iets in die Suid-Afrikaanse siel wat moeilik is om in woorde vas te vang. Iets wat ons met trots dra, maar wat nie altyd verstaan word deur mense wat buite ons grense woon nie. Dis daardie iets wat maak dat ons die moeilike tye oorleef, wat ons laat saamstaan wanneer dit regtig saak maak. Daardie onverklaarbare iets wat net beskryf kan word as die DNA van ’n Suid-Afrikaner. Hulle weet nie wat ons weet nie. Hulle weet regtig nie wat ons weet nie.

“Hulle weet nie wat ons weet nie” – Wat is dit wat ons weet wat ander lande net nie kan snap nie?

Niemand anders in die wêreld weet wat dit beteken om in ’n land te leef waar ’n verkeerslig letterlik as ’n “robot” bekend staan nie. Net ons verstaan hoe die woorde “nou-nou” beteken dat jy moontlik nooit daarby sal uitkom nie. Hulle weet nie hoe dit voel om Kersfees in die somer te vier met ’n ouma wat daarop aandring dat jy ’n warm skaapboud moet eet terwyl jy sweet nie. Hulle weet nie hoe dit voel om ’n vreemdeling te groet asof jy hulle jou hele lewe ken nie. Hulle weet nie dat jy in Suid-Afrika kan verdwaal en uiteindelik in iemand se kombuis beland vir tee nie.

Maar hierdie slagspreuk is ook deurdrek van ervaring, van swaarkry, van oorlewing, maar ook van ‘n geloof wat ons dra. As Suid-Afrikaners het ons almal iets meegemaak wat ons aan mekaar bind, ‘n gedeelde ervaring van veerkragtigheid, ‘n verstaan van wat dit beteken om aan te hou hoop in die donkerste tye. Ons verstaan mekaar op ‘n manier wat mense van buite dalk nooit heeltemal sal begryp nie. Ons weet van drome wat verpletter word en weer herbou word, van gemeenskappe wat skeur en weer heel word, van uitdagings wat ons saam oorkom. Ons weet wat dit is om deur genade staande te bly.

Ons weet ook wat dit is om rykdom langs armoede te sien, om pyn saam met vreugde te voel, om die donkerte van ons verlede raak te sien, maar steeds te droom van ’n toekoms vol hoop. Ons weet wat dit is om in ’n land te bly waar alles nie altyd werk soos dit moet nie, maar ons maak dit werk. Ons weet wat dit beteken om vir reg en geregtigheid te veg. Hulle weet nie wat ons weet nie, want hulle het nie soos ons geleer om deur gebrokenheid die skoonheid te sien nie.

En rugby? Ja, dit is iets wat ons trots maak, maar dit is meer as net ’n wedstryd op die veld. Dit is ’n simbool van samewerking, van ‘n nasie wat bymekaar kan kom, al het ons baie wat ons verdeel. Hulle weet nie wat dit is om in daardie oomblik, wanneer die eindfluitjie blaas, meer te voel as net ’n oorwinning nie. Dis ’n bewys dat ons iets kan regkry wanneer ons saamstaan.

En dan is daar ons geloof. Baie van ons weet wat dit is om ons hoop nie in mense of omstandighede te plaas nie, maar in iets groter – in God. Hulle weet nie wat ons weet nie – hulle weet dalk nie hoe diep ons geloof gaan, hoe ons as Christene, ons hoop op iets meer as net die hier en nou plaas nie.

Hulle weet nie wat ons weet nie, omdat hulle dalk nie ons geskiedenis geleef het nie. Hulle weet nie van die pad wat ons al geloop het en die een wat ons nog moet loop nie. Maar ons weet. Ons weet van ons eie innerlike krag, ons vermoë om op te staan nadat ons geval het, ons vermoë om ons hande uit te steek na mekaar, ongeag hoe groot die gaping soms lyk. En ons weet hoe om te lag, selfs wanneer dinge om ons uitmekaarval.

So, die volgende keer as iemand vra wat dit beteken om ’n Suid-Afrikaner te wees, mag jy dalk eers aan biltong en braaivleis dink. Ja, ons hou van ons braai en ons rugby, ons soet koeksisters en geurige tamatiesmoor oor ons pap. Maar daar is meer as dit. Ons is ook trots op ons mense, ons samehorigheid en ons gedeelde geloof in ‘n beter môre. Ons mag dalk nie ‘n perfekte nasie wees nie, maar ons streef elke dag daarna om die beste weergawe van onsself te wees – in Suid-Afrika en vir Christus.

Ons weet wat ons weet en dit is genoeg.