Heilige ruimte in Bloubergstrand bring gemeenskap byeen
👤 Ronelda Visser



As jy onlangs een naweek toevallig by Bloubergstrand se NG Kerk verbygestap het, sou jy ‘n onverwagse kombinasie van klanke gehoor. ‘n Tradisionele kerkorrel wat ‘n rock anthem saam met ‘n baskitaar uitbasuin met selfs die dominee en die kerkkoor saam op die verhoog. Dit was die magiese betowering van Zoid Psalm – die breinkind van Suid-Afrikaanse rocksanger Karen Zoid. Met haar inleiding het sy lidmate in die gehoor gerusgestel deur te beklemtoon dat die heilige ruimte vir ‘n paar vertonings gebruik word om ‘n unieke en diverse gemeenskap bymekaar te bring – van musiekliefhebbers oor talle genres.
Elmarie Dercksen van Bloubergstrand-gemeente Iverduidelik hoe die produksie die lig gesien het: “In ons kerkgeboue hou ons eredienste. Ons weet dit is nie die “huis van die Here” nie – God slaap tog nie snags in geboue van mensehande gemaak nie. Ons as gelowiges is self die tempel van die Heilige Gees; die inwoning en heiligmaking gebeur in ons. Tog glo ons dat wanneer ons bymekaar kom vir ‘n erediens, God ons wat twee of meer is, op ‘n spesiale manier ontmoet; en dat ons mekaar ook op ‘n spesiale manier in daardie ruimte teëkom.
Dit kan egter gebeur dat ons aan die kerk begin dink as eksklusief, ‘n plek net vir uitgesorteerde gelowiges. In ‘n tyd waar baie mense kerklos en kerkloos is, sou dit ons miskien goed doen om aan die gebou te dink as ‘n gawe vir die hele gemeenskap. ‘n Plek met oop deure waar mense met oop harte werk, waar alle mense welkom is en die belange van ‘n verskeidenheid mense in ons samelewing gedien word.
Baie gemeentes is inspirerend hiermee. Samewerking met skole, dansskole en kunsklubs, die ACVV en Badisa is orals te sien. Die kerkplanters in ons sinode leer ons mos dat dit een van die eerste stappe is: om te kyk waar ons die gemeenskap kan dien. Ons gemeente huisves al jare ‘n ondersteunersgroep vir Parkinsons-lyers, opleiding vir tuissorg vir die Robin-trust en ons plaaslike belastingbetalersvereniging. Al die mense wat onder ons dak inkom, is beslis nie lidmate of selfs gelowiges nie.
Meer onlangs huisves ons die plaaslike tak van Narcotics Anonymous een maal per week. Herdie samewerking het gegroei tot ‘n vriendskap tussen ons en Karen Zoid wat tans die voorsitter is en dit het weer haar kreatiwiteit aangespoor tot die skep van ‘n unieke vertoning genaamd Zoid Psalm, ‘n fusie tussen rock en kerklied, tussen elektriese kitaar en orrel.
Ons het al voorheen kunstenaars genooi en kaartjies verkoop, aangesien ons kerkgebou (soos talle ander) wonderlike akoestiek het. Maar hierdie was iets heel anders; dit was ‘n hele gemeenskap se spanpoging. Karen het plaaslike besighede gekry om dekor en ligte te borg en ons het weer kaartjies verkoop vir ‘n spesiale ete by die restaurante. Plaaslike kunstenaars, koffiewinkels en vleismarkte het uitgestal en geborg. Ons het ook duisende pannekoeke gebak – die ou kerkbasaar-staatmaker!
Dit gons nog steeds in ons gemeenskap na al die opwinding en almal wil dit weer doen, al was dit harde werk. Daar het honderde mense by ons gekuier wat jare laas in ‘n kerk was, maar ook getroue lidmate het behoorlik gefees.”
Dankie aan Ben Francis vir die groepfoto van Blouberg se span ds. Thinus Britz, ds. Elmarie Dercksen, kerkraadslid Anle Britz en ds. Stefan de Klerk saam met Karen Zoid (middel).
Ander fotograwe: Jacqui van Staden, Ronelda Visser en Orcansu Productions


