Rietbron is veel meer as ’n plek op ’n kaart vir Suidkerk
Mariëtte Odendaal
“Dit is ons roeping om Jesus se liefde prakties uit te leef en oor grense heen verhoudings te bou.” – Karen Theunissen, Bedieningsbestuurder (Suidkerk, Kuilsrivier)
As gemeente fokus Suidkerk Kuilsrivier op die Gelowige Pelgrim; om in Jesus se voetspore te volg. Dit beteken dat hulle as gemeente wil betrokke raak waar Jesus reeds aan die werk is – om teenwoordig te wees waar mense ondersteuning, hoop en bemoediging nodig het.
En dit het hulle onder andere by Rietbron, ’n klein Karoodorpie in die Oos-Kaap, 60 km van Beaufort-Wes en 80 km van Willowmore, uitgebring – ’n plek van oop, uitgetrekte landskappe en grondpaaie, maar ’n kwesbare gemeenskap wat meestal van staatstoelaes afhanklik is en waar afstande na mediese sorg en -dienste ver is.
Die motivering vir ’n uitreik
As jy vir Karen Theunissen, bedieningsbestuurder van Suidkerk Kuilsrivier, vra wat hul gemeente se motivering was om na Rietbron uit te reik, antwoord sy: “Dit is ons roeping om Jesus se liefde prakties uit te leef en oor grense heen verhoudings te bou.”
“Ons het mense in Rietbron leer ken wat gasvry is en graag deel wat hulle het,” vertel ds. Hennie du Pisanie, predikant by Suidkerk. “Terselfdertyd het ons bewus geraak van hul beperkte hulpbronne en groot behoeftes rondom hul kinders se leer- en ontwikkelingsgeleenthede. Vir ons het Rietbron daarom veel meer as ’n plek op ’n kaart geword: dit is mense met name, stories, gawes en drome.
“Daar het veral die behoeftes van vroue, kinders en die uitdagings rondom onderwys en vroeëkindontwikkeling ons aangegryp; iets wat aangesluit het by Suidkerk se Winterhoop-fokus op kwesbare mense. Ons wil saam met plaaslike mense werk aan geleenthede waarin hul kinders kan ontwikkel en die gemeenskap se eie vermoëns versterk kan word.”


Die ontstaan van die Rietbron Uitreik
Hennie vertel: “Ons betrokkenheid het ’n geskiedenis wat teruggaan na uitreike daar in 2018 en 2019. Kontak en verhoudings met Rietbron het daarna voortgegaan en die grondslag gelê vir die meer omvattende betrokkenheid van 2026.
“Die leiersontwikkeling deur BrightStar in 2025 en besoeke van Bronnies Educare in Rietbron se leiers aan Suidkerk het as verdere boustene vir ons uitreik in 2026 gedien.”
Die Rietbron Uitreik se belangrikste vennote sluit in: Suidkerk, die NG Gemeente Rietbron, Bronville Primêr (Rietbron), Bronnies Educare (Rietbron) en Zifumane Foundation. Karen Eybers, waarnemende skoolhoof van Bronville Primêr, is ’n belangrike plaaslike rolspeler.
Hennie vertel verder: “Verskillende spanleiers het verantwoordelikheid geneem vir die kinderprogram, vrouebediening, bouwerk, tegnologie, sonkrag, geestelike versorging en logistiek. Dit is ’n gesamentlike onderneming wat deur baie mense se gawes en diens moontlik gemaak word.
“Uiteindelik het die uitreikspan uit 72 lede bestaan; iets wat vir ons ’n simboliese betekenis gekry het toe ons besef dat Jesus ook 72 dissiples uitgestuur het volgens Lukas 10:1.”
Hoe het die uitreik prakties gewerk?
Karen Theunissen vertel dat sy as Suidkerk se bedieningsbestuurder nie self op die uitreik was nie, maar as deel van die bestuurspan besef het dat dit van kardinale belang was om na Rietbron uit te reik.
Sy vertel: “Daar was alreeds sterk verhouding oor die jare met Rietron se mense opgebou; iets wat die uitreikplanne vergemaklik het. Ek het saam beplan en gehelp om goedere in te samel, donasies te vind en vervoer te reël vir alles wat die Kuilsrivier-gemeenskap met soveel liefde geskenk het, in Rietbron te kry.
“Ek is ook verantwoordelik vir Suidkerk se sosiale media en het seker gemaak dat die stories van die Rietbron Uitreik daagliks met ons gemeente en gemeenskap gedeel is – stories van hartseer en ook van hoop.
“Ds Hennie du Pisanie het as hoof-koördineerder van die uitreik die ander leiers toegewys en bygestaan, seker gemaak dat al die spanne gereed is vir die uitreik en toegesien dat alles glad verloop. Hy het ook baie moeite met borge gedoen.”

Waarop gefokus word tydens so ’n uitreik
Daar word hoofsaaklik op mense se geestelike, emosionele en praktiese behoeftes gefokus, met besondere aandag aan vroue, kinders en die mense wat hulle versorg en onderrig.
Die werk word in verskillende spanne georganiseer:
- Kinder- en jeugbediening: ’n Program vir ongeveer 180 laerskoolleerders, met as temas: spel, spanwerk, geloofsvorming, identiteit en verhoudings.
- Vrouebediening: Geleenthede vir ontmoeting, ondersteuning en bemoediging.
- Vroeëkinderontwikkeling: Ondersteuning aan Bronnies Educare met leerhulpbronne, fasiliteite en die versterking van plaaslike kapasiteit.
- Praktiese werk: Onder meer verfwerk, kaste, loodgieterswerk, sanitêre geriewe, klimrame, sonkrag en IT-ondersteuning.
- Geestelike versorging: Gebed, pastorale gesprekke, stilword en saam nadink oor ons roeping.
- Logistiek: Vervoer, verblyf, maaltye, materiaal en die daaglikse organisasie.
“Die voorbereiding begin lank voor die vertrek,” vertel Hennie. “Behoeftes word met plaaslike vennote bespreek, hulpbronne word ingesamel en mense word volgens hul gawes en vaardighede ingedeel. Die plaaslike gemeente en gemeenskap speel ook ’n belangrike rol in die ontvangs en versorging van die span.”
Wat die uitreik vir spanlede beteken het
Op so ’n uitreik raak dit wat jy as spanlid daar ervaar jou gewoonlik diep – jy kom as ’n ander mens terug. Daardie belewenis gee aan jou nuwe insigte, begrip en deernis, want jy is blootgestel aan ’n ander kultuur, manier van doen en leef. Daarvan kan talle spanlede van die Rietbron Uitreik getuig.
Riané Louw deel met ons die volgende: “Ek het opnuut die vrede en vreugde van God op Rietbron besef. Te midde van die kinders en hulle swaarkry het hulle gelag en speletjies gespeel; iets wat my net weer eens laat besef het dat God se vreugde nie van omstandighede afhang nie. Ek het geleer dat ons nie altyd alles perfek kan regkry nie, maar dat God sal voorsien waar ons tekortkom.”
“Vir my was dit wonderlik om te sien hoe almal kon saamwerk, al het hulle nie ’n tegniese agtergrond nie,” vertel Petrus Swart. “Ons Suidkerk-jongmense het selfs smiddae die bouspan kom help verf nadat hulle die oggend met Rietbron se jongmense gewerk het; dit was great. Almal het ingespring waar daar hulp nodig was en ons kon alles klaarkry wat ons beoog het om te doen.”
Chanté Fourie vertel: “Behalwe vir die warmte en liefde waarmee ons ontvang is, haal ek, as kleuterskoolonderwyseres, my hoed af vir die juffrouens van Rietbron wat meer as dertig kinders per klas moet hanteer. Vir een mens om byvoorbeeld kinders van 2 – tot 3-jariges wat nog moet leer om hul emosies te reguleer, gedissiplineerd te kan hanteer, is dit ’n enorme uitdaging. Ek kyk met nuwe oë na my bevoorregte omstandighede van net tien in ’n klas.”
Wat die uitreik vir Rietbron se mense beteken het
Hennie vertel: “Alhoewel die uitreik aandag, tyd en praktiese ondersteuning geverg het, het dit ook nuwe geleenthede verskaf. Kinders kon aan ’n program deelneem waarin daar met hulle gespeel, na hulle geluister en aan hul selfvertroue en verhoudings gewerk is.
“Die praktiese projekte was daarop gerig om die ruimtes waarin hulle leer en ontwikkel, beter toe te rus.
“’n Belangrike uitkoms was die versterking van verhoudings met die NG Gemeente Rietbron, Karen Eybers, waarnemende hoof, en die skoolpersoneel. Dit skep ’n vaste grondslag waarop ons verder kan saamwerk.
“Ons span is deur Rietbron se mense ontvang en bederf. Hulle gasvryheid het ons geraak en ons opnuut laat besef hoeveel ons van mekaar kan ontvang.”
Die grootste uitdagings
“Die grootste uitdaging is volhoubaarheid,” vertel Hennie. “Die waarde van verbeterde fasiliteite en nuwe hulpbronne hang ook af van die bestuur, onderhoud en doelmatige gebruik daarvan nadat die span vertrek het.
“Daarom is plaaslike leierskap, duidelike verantwoordelikhede en goeie samewerking so belangrik. Ons moet saam seker maak dat die werk mettertyd vrug dra.
“Die afstand, vervoerkoste, verblyf, materiaal en koördinering van ’n groot groep vrywilligers bring verdere uitdagings.
“Ons moet ook voortdurend luister, sodat ons ondersteuning aansluit by die gemeenskap se werklike behoeftes en prioriteite.”
Planne vir die toekoms
“Ons wil die bestaande verhoudings verdiep en die opvolgwerk versterk,” vertel Hennie. “Uit ons terugvoer, is die rigting wat ons moet inslaan, die verdere ondersteuning aan Bronville Primêr en Bronnies Educare, met besondere aandag aan leierskap, bestuur en die verantwoordelike gebruik van hulpbronne.
“Ons wil saam met plaaslike vennote duidelike prioriteite en verantwoordelikhede bepaal. Verdere betrokkenheid moet voortbou op wat reeds plaasgevind het en help dat die voordele vir kinders en die gemeenskap behoue bly.
“Nuwe uitreikdatums en die omvang van toekomstige projekte moet nog vasgemaak word.”
Wat die gemeenskap kan doen om Suidkerk se Rietbron Uitreik te ondersteun
Volgens Karen kan mense kan hul tyd, vaardighede, hulpbronne en gebede beskikbaar stel.
Sy brei uit: “Finansiële bydraes help met vervoer, materiaal, programme en opvolgwerk. Ambagslui, opvoeders, mense met IT-kennis en persone met ervaring in bestuur en administrasie kan waardevolle ondersteuning bied. Besighede kan help met materiaal, toerusting, vervoer of borgskappe.
“Boeke, opvoedkundige speelgoed, skryfbehoeftes en ander benodigdhede kan ook nuttig wees. Skenkings moet vooraf met die span gekoördineer word, sodat dit by die vasgestelde behoeftes aansluit.
“Ons soek mense en vennote wat bereid is om ’n pad saam te stap en betrokke te bly.”
Vir meer inligting kan Karen Theunissen by bestuur@suidkerk.org.za of ds Hennie du Pisanie by hennie@suidkerk.org.za gekontak word.


Hierdie storie vorm deel van Sinani
Sinani is ’n storie-reeks van Diensgroep Diaconia wat gemeentes se verhale van diensbaarheid, barmhartigheid en saamleef dokumenteer en vier. Sinani beteken “Ons is met julle” en nooi die kerk om weg te beweeg van doen vir mense na leef saam met mense.
Deur hierdie verhale ontdek ons hoe diakonaat gestalte kry waar gemeentes langs mense staan, verhoudings bou en ook self deur dié ontmoetings verander word.


