Molteno: God se werk begin in die grond

👤 Wilmi Wheeler

God het die mens uit grond gevorm, uit die aarde self. ‘n Teken dat ons nie los van die grond staan nie, maar daaraan verbind is. Ons is deel daarvan en dit is deel van ons.

Vat net Genesis 2:7. God het die mens uit die stof van die aarde gevorm en toe sy lewensasem daarin geblaas. Toe word ons.

Dalk is dit hoekom grond so heilig voel.

Hoekom ons weet dat dit ‘n plek is waar lewe gebeur, waar iets kan groei. Hoekom ‘n boer se hande vol grond vir hom ‘n tipe gebed is.

Ons verloor soms hierdie verstaan. Ons vergeet hoe afhanklik ons is van dit wat onder ons voete lê. Ons bou huise wat die stof uitsluit, ons trek skoene aan wat ons voete verwyder van die aarde. Maar iewers binne ons roer daar iets; ‘n besef dat die grond deel is van ons storie. Dat ons, net soos saad, daarin moet val om werklik te groei.

Ek dink hieraan toe ek in Molteno staan. ‘n Dorpie in die Oos-Kaap, net duskant Cradock (nou Nxuba). Hier, waar grond in oorvloed is, maar kos skaars. Waar mense leer om met minder klaar te kom, maar steeds glo dat môre beter kan wees.

Op ‘n oop stuk grond by die crèche oorkant die kerk staan ‘n paar ou motorbande in ‘n ry. Dit lyk nie na veel nie. Maar vir die vroue wat hier bymekaargekom het, is dit ‘n begin. Hulle leer hoe om groentetuine in hierdie bande aan te lê, hoe om die regte grondmengsel te gebruik, hoe om met min water die meeste groei te kry.

Dit tref my hoe eenvoudig dit eintlik is: neem wat jy het en maak iets daarvan. Waar daar niks was nie, begin ‘n tuin vorm kry. Wat gister net ‘n stukkie oop grond was, is vandag ‘n plek waar iets geplant kan word. En môre, wie weet? Miskien ‘n oes.

Elke vrou wat verby my loop, glimlag vir my. Nie net ‘n vriendelike knik (daai tipiese gebaar as jy per ongeluk oogkontak maak met ’n vreemdeling op straat) nie, maar ‘n oorvloedige, uit-die-hart uit glimlag. Daar is iets in hulle. ‘n Lewendigheid. ‘n Lig.

Hulle skaterlag oor iets wat ek nie kon verstaan nie. Ek wens ek het Xhosa gepraat. Hulle sing asof niemand luister nie. Hulle dans asof daar ‘n troue aan die gang is. Hulle werk met vreugde, met oorgawe, met ‘n wete dat dit wat hulle doen groter is as net hulle self.

Ek kyk na hulle en voel skielik klein. Nie op ‘n ongemaklike manier nie, maar op ‘n manier wat my herinner hoe baie ek nog moet leer.

Ek het hierheen gekom met ‘n sekere idee in my kop: ‘n kerk in armoede, ‘n projek vir gemeenskapsontwikkeling, ‘n poging om mense te help. Maar toe ek hier instap, moes ek my eie vooropgestelde idees begrawe.

Ja, die kerk se houtvloere is gekraak en dop af. Daar is geen lopende water in die kombuis nie. Die vensters is gebreek en word met papier en sellotape aanmekaar gehou. En tog…

Tog is dit die heiligste plek waarin ek in ‘n lang tyd was.

Hier, waar ek armoede verwag het, kry ek oorvloed. Nie die soort wat in bankstate gemeet word nie, maar die soort wat in vreugde gevind word. Hier is daar ‘n rykdom wat nie met geld gekoop kan word nie – die wete dat God in elke hoekie en krakie van die lewe teenwoordig is.

Ek het gekom om ‘n storie te vertel, maar ek is besig om ‘n nuwe een te leer.

Die Bybel is vol verhale van mense wat uit stof en stoflike omstandighede iets groots gebring het. Van Maria wat in ‘n eenvoudige dorpie ‘n Seun gebaar het wat die wêreld sou verander, tot Rut wat in ‘n vreemde land ‘n nuwe lewe gevind het. God se werk gebeur in stofstrate waar mense met geloof in hulle hande saai.

Hierdie plek, hierdie mense, het my herinner dat ‘n bietjie hoop, saam met ‘n bietjie elbow grease en ‘n bietjie geloof genoeg is om ‘n gemeenskap te verander.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: