Nicea: ‘n Geloof wat aansteek en aanhou brand

👤 Wilmi Wheeler

“Christenskap is ’n living religion,” sê Zandré Marais, predikant by Sonstraal-gemeente. “Sodra jongmense agterkom dat daardie ding wat ons partykeer in die kerk saam opsê – die Apostoliese Geloofsbelydenis – ’n naam, ’n geskiedenis en ’n tradisie het, begin iets binne hulle wakker word. Hulle besef ons geloof is lewendig en altyd aan die gang.”

En dís wat oor die naweek in Stellenbosch gebeur het. Iets het wakker geword.

’n Klomp jongmense (byna 400!) van regoor die Wes-Kaap het opgedaag vir die Ons Glo-belydeniskonferensie in Stellenbosch wat gefokus het op die Belydenis van Nicea. Sommige het aangekom met oë wat sê: “My ma het my gedwing.” Ander se oë het verklap: “Ek het geen verwagtinge vir hierdie dag nie.” En party met oë wat fluister: “Ek soek iets… ek weet net nie wat nie.”

Maar in daardie kerkgebou, toe die orrelspel begin het en die eerste gesprekke gevoer is, het ’n ander soort energie ingeskuif. Nie die soort wat jy kry by ’n konsert of in ’n TikTok feed nie, maar iets stiller, dieper. Iets wat jou rug regop ruk sonder dat jy weet hoekom.

Nicaea, geloof

Tinus van Zyl van Durbanville-gemeente sê die konferensie het jongmense gehelp om geloof nie net te verstaan nie, maar te beliggaam. “Wat glo ons en hoe maak dit saak in die wêreld waarin ons elke dag leef?” vra hy. “Hierdie groep is amper klaar met skool. Hulle dink aan die toekoms. En skielik besef hulle: wat ek glo, gaan saam met my die wêreld in…”  Saam universiteit toe. Eendag saam werk toe.

Een jong deelnemer sê sy het geskok gevoel (op ’n goeie manier) om te sien hoeveel ander jong gelowiges daar is. “Ek’t nooit besef hoeveel ander mense glo wat ek glo nie.” ’n Ander sê: “Ek het gevoel ek kan asemhaal hier; ek is veilig tussen hierdie mense.” En nog een: “Ek’t nie geweet ek’s nie alleen nie.”

So, hierdie geleentheid was nie ’n belydenisklas met baie ekstra jongmense nie. Dit was ’n herinnering dat geloof nie dooie geskiedenis is nie. Nie net ’n ‘kerk-ding’ wat jy uitstel totdat jy oud genoeg is vir jou eie besluite nie. Hierdie geloof leef. Dit vra vrae saam met jou. Dit daag jou uit en dit dra jou.

Die belydenis van wat? Wat presies is die Belydenis van Nicea?

Eenvoudig gestel, die Belydenis van Nicea is die kerk se antwoord op die vraag: “Wie is Jesus?” Dis ’n eeue oue belydenis oorspronklik opgestel in 325 ná Christus, wat nog steeds die geloof van Christene wêreldwyd verwoord. Dit sê: Jesus is nie half God en half mens nie. Hy is volkome God én volkome mens. Dis ’n soort geloofspoësie wat God se karakter beskryf sonder om Hom in ’n boks te probeer druk. ’n Taal van aanbidding. ’n Taal van “ons”.

Soos Fourie Rossouw van Stellenbosch Moederkerk sê: “Die vraag oor wie Jesus is, is ’n vraag wat elke generasie moet antwoord.” En dan, met ’n lag, voeg hy by: “Elke generasie glo so bietjie dat hulle meer spesiaal is as die ander generasies, want ‘ons konteks is dan baie anders.’ (Hier mag lesers wat self ooit jonk was dalk ’n skuldige laggie gee.)

“Tog is dit so universele, oor-kulture, tydlose vraag wat die evangelie in ons binneste kom plaas.”

Maar ten spyte van ons selfbewondering as Millenials, Generasie Z, Alpha of wat ook al, is dit juis hierdie tydlose vraag wat ons almal bly konfronteer: Wie is Hy? En as Hy is wie Hy sê Hy is… wat dan?

Wat gebeur as jy dit regtig glo?

Dan is geloof nie net ’n herkoude tradisie nie. Dan is dit ’n vuur wat deur eeue aanhou brand. ’n Geloof wat in antieke woorde begin het, maar in vandag se aksies uitspeel. Dan is ‘n belydenis nie net ’n belofte wat jy aflê voor ’n gemeente nie, maar ’n lewe wat jy leef voor die wêreld.

Want dis nie genoeg om net te sê jy glo nie. Geloof wat net in jou kop bly, beteken niks as dit nie jou voete begin beweeg nie. Dít was die vibe van hierdie naweek: “Ek’s nie net hier om mooi woorde op te sê nie. Ek’s hier om te leer hoe om dit te leef.”

En nee, niemand het perfek daaruit gestap nie. Maar iets het gebrand. Iets wat meer is as ’n ‘kerk experience’. Iets wat kan hou, lank ná die laaste lied uitgedoof het en die bussies huis toe vertrek het.

Dis hoe jongmense se geloof lyk in 2025: nie flashy nie, nie fake nie. Maar regtig. Tasbaar. Deelbaar. Stil, maar sterk.

Ons glo… en, ja, dit maak saak.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: