Kenridge se nuwe gebou vir ontmoeting, toegewy aan Christus

Kaapkerk Kommunikasie

’n Kerkgebou is soveel meer as mure, vensters en ’n dak. Dit is ’n plek waar vreemdelinge vriende word, waar geloof in die alledaagse lewe gestalte kry en waar mense iets van Christus se liefde in mekaar se teenwoordigheid ontdek.

Vir Kenridge-gemeente was dít die hart agter ’n besondere bouprojek. Hulle wou nie bloot ’n bestaande gebou uitbrei en vernuwe nie, maar ook ’n ruimte skep waar mense werklik kan tuiskom.

Op Sondag 8 November 2026 het die gemeente hul nuwe gebou tydens ’n besondere wydingsdiens aan Christus toegewy. Dit was die hoogtepunt van ’n geloofspad gekenmerk deur gebed, vrygewigheid, samewerking en God se voorsiening.

Ons het by die Kenridge-gemeente se bedieningspan gaan hoor waar hierdie droom begin het, hoe dit gestalte gekry het en waarom die grootste hoop vir die nuwe gebou nie in die gebou self lê nie, maar in die mense en stories wat dit nog gaan huisves.

Vertel ons ’n bietjie van die pad wat Kenridge-gemeente tot by hierdie besondere mylpaal gestap het. Waar het die droom van hierdie nuwe gebou begin en hoe het dit mettertyd vorm aangeneem?

Die droom het begin by ’n vraag oor gemeentewees: Hoe skep ons ruimte waar mense werklik saam kan leef en groei in Christus? In ons nadenke en navorsing oor die toekoms van die kerk het die belangrikheid van egte geloofsgemeenskap telkens na vore gekom. Ons wou ’n plek skep waar mense mekaar leer ken, saam kuier en die lewe met mekaar deel.

Die gedagte van ’n “derde ruimte” het ons hiermee gehelp. Buiten jou huis en jou werk het ’n mens ook plekke nodig waar jy behoort, waar jy geken word en waar jy jouself kan wees. Ons het begin droom oor hoe ons gebou so ’n ruimte kan help moontlik maak. Die uitbreiding en opgradering het vanuit daardie droom vorm aangeneem: ’n verwelkomende plek waar mense Christus en mekaar kan ontmoet.

Waar het julle God se hand en voorsiening die duidelikste in hierdie proses raakgesien? Is daar ’n spesifieke gebeurtenis of getuienis wat vir julle uitstaan?

Hierdie hele projek is een groot wonderwerk. Vir ons lê die getuienis in die geheel van die proses: die geld, hulpbronne en mense wat hierdie droom moontlik gemaak het. Ons kyk met dankbaarheid terug en besef hoeveel ons ontvang het. Die gebou getuig van God se voorsiening deur mense en dit wat hulle kon bydra.

Een van die betekenisvolste oomblikke was daarom die wydingsdiens op Sondag 8 November. Verskillende mense het vir verskillende dele van die gebou gebid en dit aan Christus toegewy. Daarmee het ons eintlik gesê: “Here, alles wat ons hier het, het ons uit u hand ontvang. Nou gee ons dit aan U terug. Gebruik dit vir u werk en tot u eer.”

Hoe het hierdie bouprojek die gemeente as geloofsfamilie beïnvloed?

Die projek het ons opnuut laat nadink oor wat dit beteken om ’n geloofsfamilie te wees. Elkeen se bydrae vorm deel van iets groter: ’n ruimte waarin ons saam ons geloof kan uitleef. Dit het ons ook herinner dat die lewe van ’n gemeente deur mense se teenwoordigheid, gawes en deelname gedra word.

Ons sien reeds ’n mooi verandering in die gemeente se ritme. Mense kom vroeër kerk toe om koffie te drink en met mekaar te gesels. Ná die erediens bly hulle langer. Met Alchemy Coffee wat ook oopgemaak het, is daar nog ’n geleentheid om rustig saam te kuier. Daardie eenvoudige oomblikke is vir ons kosbaar: mense maak tyd vir mekaar, gesprekke kry kans om te verdiep en verhoudings groei.

Wat maak hierdie nuwe gebou besonders en hoe hoop julle dat dit die gemeente se bediening en roeping in die gemeenskap sal ondersteun?

Die ruimte is ingerig met ontmoeting en gasvryheid in gedagte. Die ou gebou se vloei was soms verwarrend. Ons wou hê dat iemand wat instap, welkom moet voel en intuïtief sy of haar weg na die kerkruimte kan vind.

Kenridge is ook ’n gemeente wat graag om tafels bymekaar kom. Ons eet saam, breek brood en vier die lewe. Die nuwe ruimte maak meer hiervan moontlik en ondersteun daarmee iets wat reeds deel van ons gemeente se hart is. Ons hoop dat dit ook vir mense uit die breër gemeenskap ’n toeganklike ontmoetingsplek sal wees waar hulle welkom voel, verhoudings kan bou en iets van Christus se liefde kan beleef.

Wat het die toewyding van die nuwe gebou op 8 November vir julle as gemeente beteken? Waarvoor is julle die dankbaarste en wat is julle gebed vir hierdie nuwe hoofstuk?

Die wydingsdiens was vir ons ’n oomblik van dankbaarheid en oorgawe. Ons kon die voltooiing van die bouwerk vier en terselfdertyd erken dat die ruimte aan Christus behoort. Die gebede vir die verskillende dele van die gebou het ons herinner dat elke ruimte ’n plek van ontmoeting, diens en genade kan word.

In die prediking het ons gepraat oor hierdie ruimte as God se derde ruimte wat Hy aan ons gee. Nou word ons genooi om op te daag, kreatief te wees en dit met lewe te vul. Ons is dankbaar vir almal wat die projek moontlik gemaak het. Ons gebed is dat mense hier sal ervaar: Jy mag kom soos jy is, en in die ontmoeting met Christus en ander mense kan jy verander word. Ons hoop dat mense hiervandaan sal gaan met nuwe hoop, ’n dieper geloof en groter liefde vir hulle naaste.

Kenridge, nuwe gebou

As julle vyf of tien jaar vorentoe kyk, wat hoop julle sal mense oor Kenridge-gemeente en hierdie gebou kan sê?

Ons hoop mense sal kan sê: “Hier het ek tuisgekom. Hier het iemand my naam leer ken, na my geluister en saam met my die pad gestap. Hier het ek Christus se liefde ervaar.”

Ons droom dat hierdie ruimte oor vyf of tien jaar vol stories sal wees: van vriendskappe wat om ’n koffietafel begin het, van mense wat in moeilike tye ondersteuning gevind het en van geloof wat deur saamleef verdiep het. Ons hoop ook dat die liefde wat mense hier ontvang, verder sal gaan — na hulle huise, werkplekke en die breër gemeenskap. Dít sal vir ons die mooiste vrug van hierdie bouprojek wees.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Wat ek by ’n kamer vol sendelinge geleer het

  • In Mosambiek kry hoop nuwe sig met ooguitreik

  • Little Seeds verbind die kolletjies tussen kerke en kinders