“Zithulele, my ou dorpie… Jy gaan okay wees.”
👤 Wynand Breytenbach
By Zithulele kom ons om die draai en die sjebeen se dak blink en mense peul uit oor die muurtjie, maar voor die sjebeen se muurtjie dans daar VGK vroue in hulle swart rokke met wit krae. Dromme en fluitjies in die hande. Dit voel soos Tour de Zithulele met die aankoms en vir ‘n oomblik voel ek soos ‘n bekende politikus wat by ‘n klein plattelandse dorpie ingebring word met motors se toeters wat toet en vroue wat ons in dans in die dorpie in.
By die kerk is dit stil toe ons aankom.
Ek en Tiaan soen mekaar amper en omhels die verligting van die pyn in ons bene (onder andere).

Zithulele Fietstoer – Was dit nou vir jou ‘n trip en ‘n half!
Die Zithulele fietstoer het meer bereik as waarvoor ons ooit kon wens. Alhoewel ons allerhande verwagtinge gehad het om geld in te samel en vir mense te kon bewys dat ons ‘n 1300 km kon ry met fietse, was die grootste insameling wat ons op die pad ontvang het, vriendskap.
Ons onderskat vriendskapskapitaal altyd, maar dit kan verder gaan as geld en ‘n kerk bou. “Is dit nie insigself kerkbou?” het ek op ‘n heuwel skuins buite Riviersonderend op die N2 gedink.
So ontmoet ek, Tiaan Janse van Rensburg, Senzo Madida (en al die ander fietsryers wat gereeld saam gery het, veral Eugene “The Cape Town Cyclist” Maritz), toe die ongelooflikste mense langs die pad.
Ons reis het begin met 115 km van Durbanville na Grabouw oor die Franschhoekpas en langs die Theewaterskloofdam af, oor Vyeboom se pas (waarvan ons nie geweet het nie) tot by die Grabouw NG kerk. Wonderlike mense, en te veel appels as geskenk ontvang om op te kon eet. Ons het dit al langs die pad uitgedeel tot in Port Alfred!
Daarna was dit Caledon toe, Riviersonderend en Stilbaai.
In Caledon bly ons toe by die Theron’e, op Riviersonderend op die plaas Tevrede (en was ons nie!) en in Stilbaai by mense van die NG kerk wat vir ons hulle fiets geleen het omdat Tiaan s’n gebreek het op pad na die Baai.
In George het ‘n paar indrukwekkende ouerige ooms ons behoorlik in ons tjops gery met hulle E-bikes oor die sewe passe. Met elke deeltjie van die passe was die pyn en die mooi, ewe asemrowend. So drentel ons toe in Knysna in op weg na Gqeberha waar almal dit nog PE noem.
In die Oos-Kaap het die fokus geskuif van fondsinsameling na vennootskappe omdat ons so graag wil hê dat die Oos-Kaapse kerke bietjie meer hands-on moet wees. Hoogland in Gqeberha, Dias in Port Alfred en Oos-Londen gemeentes het al drie gelyk asof hulle sou wou mense stuur na Zithulele om te gaan loer waar hulle betrokke kon word. (In Port Alfred het die kerk ‘n WYN(a)and gehou met kuns en sang om fondse in te samel vir die vennootskap).
So oorhandig ons toe glad nie die hoeveelheid fondse wat ons voor gemik het aan die gemeente nie, maar vriendskapskapitaal wat ‘n kerk moontlik gaan maak in Zithulele.


Ons wil graag baie dankie sê aan almal wat saam met ons gereis het, al was dit net in gebed en almal wat hulle huise en kerke vir ons oopgemaak het. Ons is so diep dankbaar vir elke oomblik, mense, Powerade en appel wat julle gegee het om seker te maak ons kom veilig en in een stuk in Zithulele aan.
Vir Zithulele wil ek sê: Zithulele my ou dorpie, jy verander en ek sien jy sukkel. Ons sal jou nie vergeet nie. Jou heuwels het ons laat sien bo oor ons probleme en so sal jy ook nie alleen deur hierdie tyd gaan nie. Ons is lief vir jou. Jy gaan okay wees. Tot ons jou weer sien. (Hierdie keer, hopelik sonder soveel moeite.)
Raak betrokke by hierdie fantastiese kerk in Zithulele. Kom saam in Junie of help ons om die kerk daar te vergroot sodat hulle ‘n dieper verskil kan maak.
Groete,
Wynand, Tiaan en Senzo.
